TAALGETROUHEID WORD DEEL VAN AFRIKANERIDENTITEIT

Afrikaanse politici, predikante, joernaliste en onderwysleiers het, soos Paul Zietsman dit stel, die gedagte ingegrif dat dit die Afrikaner se nasionale, morele en selfs godsdienstige plig is om sy taal te behou. Taal het deel geword van die identiteit van die Afrikaner. Taalgetrouheid het die primêre toets vir Afrikanerskap geword en Afrikaners wat Engels as hul taal aanvaar het, is as verraaiers beskou en verag. Taalorganisasies, kerke, politieke partye, onderwysers- en vroueverenigings het aan die taalstryd deelgeneem. Ná die verlies van die vryheid was die taal die één ding wat die volk nie durf prysgee nie. By ’n onthulling van ’n oorlogsmonument op Vryheid het ds. HC de Wet gesê: “Ons is Britse onderdane maar ons wil nie één word met die Britse volk nie. Ons is Afrikaners.”

Die taalstryd het die aanmoediging en steun van Nederlanders en Vlaminge geniet. Sowat 80 000 boeke is van 1903 tot 1906 uit Nederland na Suid-Afrika gestuur. Hulle is gretig gelees, en voornemende leners moes hulle name op waglyste plaas. ’n Paar boeke oor die oorlog het in Nederlands verskyn, onder meer Zes maanden bij de Commando’s deur Nico Hofmeyr (1903), Met de Boeren-commando’s deur JD Kestell (1902), en die beroemdste van almal, De strijd tusschen Boer en Brit (1902), deur genl. De Wet. Terwyl hy, Botha en De la Rey in 1902 met die skip na Europa op pad was om geld vir die weduwees en wese te kollekteer, het De Wet van vroeg die oggend tot laat die aand sit en skryf en dan aan ds. Kestell oorgelaat om dit in goeie Hollands oor te skryf. Die belangstelling was so groot dat die eerste oplaag by Höveker & Wormser, Amsterdam en Pretoria, in ongebonde seksies uitverkoop is. Dit het talle drukke gehad en is in ses tale vertaal.

Kestell het soveel wedervarings met sy aantekeninge gehad dat dit byna ’n wonderwerk is dat sy boek verskyn het. Hy was saam met die Harrismith-kommando in Natal en toe die Vrystaters moes terugval na dié republiek, het hy sy aantekeninge aan sy vrou gegee om te bewaar. Die Britte het haar gelas om saam met die jong kinders via Pietermaritzburg na haar ouers op Stellenbosch te gaan. Uit vrees dat die manuskrip in verkeerde hande val, het sy dit verbrand. Kestell het haar nie daaroor kwalik geneem nie en toe hy daarvan verneem, alles oorgeskryf en alles wat daarna gebeur het, in sy dagboekies opgeteken. Maar in Junie 1901 het hy dit ook verloor omdat hy die spaider waarin dit bewaar is, inderhaas moes agterlaat toe hý vinnig moes padgee. Daarna het hy alles weer oorgeskryf en verder dagboek gehou en alles in ’n klein sakkie bewaar wat hy aan sy lyf vasgebind het. Dit kon hy tot by die vredesluiting bewaar.

Taalstryders het verwys na die weerstand van ander taalgemeenskappe teen assimilasie: Walliessprekendes in Engeland, Franstaliges in Kanada, die Pole in Rusland en Pruise, die Serwiërs, Boelgare, Roemene en Grieke onder Turkse heerskappy. Maar die groot inspirasie was die Vlaamse beweging, waaroor talle berigte geplaas is.

Afrikanernasionaliste was aanvanklik oënskynlik neutraal oor Afrikaans en Nederlands. Prof. WJ Viljoen het in 1906 gesê dat verreweg die meeste patriotiese Afrikaners besliste teenstanders van Afrikaans as skryftaal was en in die keuse tussen Afrikaans en Engels onvoorwaardelik Engels sou kies. Dekades later het ’n taalkundige, TH le Roux, gesê dat Viljoen nader aan die waarheid gekom het as DF Malherbe wat die teenstanders van Afrikaans op hoogstens 1% van die Afrikaanstaliges geskat het. Nog in 1907 skryf die taalstryder JJ Smith aan sy ma: “En dan onze lieve ouë mensen die nooit het Afrikaans op papier willen zien, schrijven, met een paar uitzonderingen, zelf een mengelmoes – een taal die noch Hoog Hollands noch Afrikaans is.”

Daar was sterk argumente om Nederlands te beskou as die doeltreffendste instrument teen verengelsing. Dit was ’n taal met ’n groot letterkunde en was in Suid-Afrika gevestig as kerk- en Bybeltaal. Voorstanders van Nederlands kon daarop wys dat ’n kloof tussen spreek- en skryftaal niks vreemds is nie. ’n Onderwysman, dr. GG Cillié, het in 1907 gesê: “In Switserland praat ’n professor één taal in de klaskamer en ’n andere taal of dialek tuis. Waarom nie in SA nie?”