14 NOVEMBER

GEBEURE

1837 – Groot Trek

Hendrik Potgieter en Piet Uys eindig 9-daagse veldtog teen Silkaats.

1837 – Groot Trek: Oor die Drakensberg

Die eerste waens gaan oor die Drakensberg na Natal.

1873 – Dobbelary deur Transvaalse Volksraad verbied

Op hierdie dag in 1873 het President Thomas Burgers van die Transvaalse Volksraad, ’n proklamasie uitgevaardig met die goedkeuring van die Zuid-Afrikaanse Republiek wat dobbelary in die land, spesifiek op die goudvelde gerig, verbied.

GEBOORTES

1920 – Jan Sebastian (Jan) Rabie, skrywer († 15 November 2001)

Jan Rabie was ’n skrywer van Afrikaanse romans, kortverhale en ander letterkundige werke en ’n invloedryke lid van die Sestigers-beweging.

Jan Sebastian Rabie is naby George gebore en het nie ’n goeie verhouding met sy streng militaristiese pa gehad nie. Hy het in 1936 aan die Hoërskool Riversdal gematrikuleer waarna hy aan die Universiteit van Stellenbosch gestudeer het. In 1939 het hy die BA-graad met Aardrykskunde en Geskiedenis as hoofvakke behaal. Hy het Engels op eerstejaarsvlak geneem en Nederlands op tweedejaarsvlak.

Van 1941 af het hy onderwys gegee, maar omdat die Tweede Wêreldoorlog destyds plaasgevind het, het hy die volgende jaar tydelike poste beklee waar dit ook al beskikbaar was. In 1943 het hy deeltyds aan die Universiteit van Suid-Afrika gestudeer en Engels II en Nederlands die volgende jaar behaal. Hierdie verdere kwalifikasies het hom in staat gestel om nagraadse studie in die letterkunde te volg. In 1945 het hy na Stellenbosch teruggekeer en teen die einde van daardie jaar sy MA-graad in Afrikaans en Nederlands behaal.

In 1948 het hy na Europa vertrek om meer van letterkunde te leer en hoewel hy ’n karige bestaan met los werkies gevoer het, het hy gereeld bydraes vir Suid-Afrikaanse tydskrifte vir ’n inkomste gelewer. In November daardie jaar het hy die Skotse skilder Marjorie Wallace ontmoet en ’n ernstige verhouding met haar aangeknoop. Hulle is in 1955 getroud.

In 1970 het hulle op Onrus naby Hermanus gaan woon en voltyds geskryf en geskilder. Hy is op 15 November 2001 in die ouderdom van 81 jaar oorlede, drie jaar nadat hy ’n ligte beroerteaanval gekry het.

1929 – Gerhardus Petrus (Gert) Potgieter, sanger en akteur († 2 Julie 1977)

Gerhardus Petrus Potgieter of te wel Gert Potgieter was ’n uitmuntende sanger met ’n besonderse tenoorstem. As seun het Gert reeds sukses behaal en mettertyd een van die suksesvolste en beminde sangers van opera, oratorium en veral ligte Afrikaanse musiek geword. Gert Potgieter was ook lid van Groep 2 en sterf op 2 Julie 1977 in ’n motorongeluk.

1941 – Hermanus Jacobus (Hernus) Kriel, voormalige minister van wet en orde in die kabinet van Suid-Afrika († 5 Julie 2015)

Hernus Kriel was ’n minister van wet en orde in die kabinet van FW de Klerk, asook die eerste premier van die Wes-Kaap in 1994.

STERFTES

1815 – Louis Michel Thibault, eerste erkende argitek aan die Kaap (* 28 September 1750)

Louis Michel Thibault, die eerste erkende argitek aan die Kaap, is in 1750 op Picquigny, naby Amiens, in Frankryk, gebore en het aan die Koninklike Akademie in Parys gestudeer. Daarna is hy in die militêre diens as ingenieur opgelei en in 1782 met sy regiment na die Kaap gestuur. Daar was hy vir dosyne militêre planne, opmetings en ontwerpe van geboue verantwoordelik. Toe hy in Kaapstad oorlede is, was hy Rooymeester of Stadsargitek van Kaapstad. Hy het die plaaslike, onontwikkelde boustyl geklee in die klassisisme waarin hy opgelei is en ’n onuitwisbare stempel op die ontwikkeling van die Kaaps-Hollandse argitektuur afgedruk. Van die bekendste geboue wat aan hom toegeskryf word, is die Koopmans-De Wet-huis, Saasveld in Franschhoek, die wynkelder by Groot Constantia en die balkon van die Kat in die Kasteel.

1926 – Majoor Friedrich Wilhelm Richard Albrecht, stigter van die Vrystaat Staatsartillerie (* 20 November 1848)

Friedrich Wilhelm Richard Albrecht, grondlegger van die Vrystaatse Staatsartillerie, is op 20 November 1848 naby Berlyn gebore. Ná sy skoolloopbaan het hy in 1867 ’n artilleris geword en aan die Frans-Pruisiese oorlog (1870–1871) deelgeneem. In 1880 is hy as offisier in bevel van die Vrystaatse Staatsartillerie beëdig. Hy het die Vrystaatse artillerie op die Pruisiese manier geherorganiseer en die korps uitgebrei. In 1894 is Albrecht na Duitsland om meer byderwetse kanonne en militêre toerusting vir die Vrystaatse Republiek te gaan koop. Ná die Jameson-inval het hy hom daarvoor beywer om die Vrystaatse artillerie slaggereed te kry. Met die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog in 1899 het Albrecht tot die stryd toegetree met sy artilleriekorps: 74 offisiere, onderoffisiere en manskappe, met ’n reserwemag van vierhonderd goed opgeleide artilleriste. Hy het met onderskeiding aan die veldslae by Belmont, Graspan, Modderrivier, Enslin en Magersfontein deelgeneem. Albrecht het sy laaste slag by Paardeberg gevoer, waar hy ná generaal Cronjé se oorgawe met die grootste gedeelte van die Vrystaatse Staatsartillerie op 27 Februarie 1900 krygsgevangene geneem is. Nadat die Vrystaat ná die oorlog selfregering verkry het, word Albrecht die ampswag van die Wetgewende Vergadering. Hy is in Bloemfontein met volle eerbewys begrawe. By sy graf is onder meer verklaar dat Albrecht sy geboorteland nie trouer kon gedien het nie as sy nuwe vaderland.

1936 – Charl Theodorus Muller Wilcocks, voormalige administrateur van die OVS (* 9 Augustus 1861)

Charl Theodorus Muller Wilcocks, voormalige administrateur van die OVS, is op Graaff-Reinet gebore. In die Anglo-Boereoorlog was hy saam met die Vrystaters op kommando, is hy gevange geneem en na Ceylon verban. Hy het enkele jare na die oorlog Volksraadslid geword en in 1929 administrateur van die OVS. Hy is op 14 November 1936 in Bloemfontein oorlede.

1945 – George Carey Hobson, skrywer (* 28 Augustus 1890)

1967 – Johannes Rudolph Albertyn, predikant van die NG Kerk (* 6 Augustus 1878)

2014 – Marius Barnard, broer en deel van prof Chris Barnard se sjirurgie-span (* 3 November 1927)

Marius Barnard was die jonger broer van prof. Chris Barnard, die bekende hartsjirurg. Barnard was ’n kardioloog in eie reg en was deel van sy broer se span tydens die eerste menslike hartoorplantings.

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/