14 OKTOBER
GEBEURE
1828 – Suid-Afrikaanse Kollege kom tot stand
Tydens ’n vergadering in Kaapstad word besluit om die Suid-Afrikaanse Kollege (voorloper van die UK en SACS) te stig.
1875 – Oorhandig kopie van Transvaalse Volkslied
Catharina F Rees, komponis van die “Transvaalse Volkslied”, oorhandig ’n kopie van die Lied aan president TF Burgers.
“Kent gij dat volk vol heldemoed
En toch zo lang geknecht?
Het heeft geofferd goed en bloed
Voor vrijheid en voor recht.
Komt burgers! Laat de vlaggen wapp’ren:
Ons lijden is voorbij;
Roemt in de zege onzer dapp’ren:
Dat vrije volk zijn wij!
Dat vrije, vrije volk zijn wij.”
1895 – Die spoorlyn tussen Pretoria en Durban ingewy
1899 – Anglo-Boereoorlog: Die Beleg van Mafikeng begin
Gedurende die eerste week van die Anglo-Boereoorlog het Boeremagte die klein dorpie Mafeking (nou Mafikeng) in die Noord-Kaap (nou Noordwesprovinsie) beleër, geleë op die hoofspoorlyn na Rhodesië (Zimbabwe) en die Britse Protektoraat Bechuanaland (Botswana). Die stad is beskerm deur ’n Britse mag, bestaande uit sowel blankes as swartes onder bevel van kol. Robert Baden-Powell. In die geveg voor die beleg is twee Britse soldate dood en sestien gewond, terwyl die Republikeine vyf gewondes opgedoen het. Die eerste werklike aanval op die stad is in April 1900 onder veldkornet Sarel Eloff gemaak, terwyl generaal PA Cronje die dorp intussen herhaaldelik gebombardeer en slegs minimale skade aangerig het. Vanaf Januarie 1900 het voedselvoorrade in Mafeking laag geraak, maar Baden-Powell het hierdie probleem opgelos deur rantsoene van die aansienlike stad Baralong langs Mafeking te weerhou. Sol Plaatje, bekende swart skrywer en politieke joernalis en destyds ’n tolk in die hof in Mafeking, is in die beleg vasgevang. Hy het ’n dagboek gehou, die Mafeking Diary: A Black Man’s View of a White Man’s War, wat meer as sewe dekades later gepubliseer is.
Die nuus oor die verligting van Mafeking 217 dae later het sulke tonele van onreëlmatige opwinding in Londen veroorsaak dat die term “to maffick” in die Engelse taal bekendgestel is, wat beteken om buitensporig en in die openbaar te vier.
1899 – Winston Churchill vertrek na Suid-Afrika en die Boereoorlog
Herfs 1899 begin met die oorlogskorrespondent Churchill wat per skip na Suid-Afrika gereis het om oor die Anglo-Boereoorlog verslag te doen. Dit het geëindig met Churchill, die ontsnapte gevangene wat per ongeluk per trein uit Suid-Afrika na Portugees-Oos-Afrika reis. Tussen hierdie twee reise het Churchill wêreldwyd beroemd geword. As ’n spesiale korrespondent vir The Morning Post het Churchill op 14 Oktober na Suid-Afrika gevaar, twee dae nadat die vyandigheid begin het. Dit was nie ’n aangename reis nie. Churchill noem dit “a nasty, rough passage” en skryf aan sy ma dat hy “erg siek was”. Hy het op 31 Oktober in Kaapstad aangekom en vinnig na Durban gegaan. Twee weke later was hy ’n gevangene van die Boere.
1900 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Welgevonden (Komatirivier), Tvl
1914 – Afrikanerrebellie
Die Koppies-afvaardiging, waarvan die lede PJ Liebenberg ingesluit het, maar nie Christiaan de Wet, Jan Kemp, ds. Van Broekhuizen of Piet Grobler nie, voer in Pretoria vir vier uur lank met Louis Botha, bygestaan deur die minister van justisie, NJ de Wet en die minister van mynwese, FS Malan, samesprekings. Hulle kom nie tot ’n vergelyk nie. Botha neem ’n dreigende houding in en weier om aan enige versoeke van die deputasie gehoor te gee. Liebenberg besluit onmiddellik hierna om hom aan Botha se kant te skaar.
Botha nooi onmiddellik daarna vir CF Beyers na sy huis vir samesprekings en versoek hom om weer die amp van kommandant-generaal te aanvaar. Beyers weier.
Beyers ontmoet die lede van die Koppies-afvaardiging asook De Wet in Pretoria en hulle bespreek verwikkelinge. Beyers spreek hom sterk teen Manie Maritz se optrede uit en gee sy mening dat rebellie ’n onchristelike handelswyse is. De Wet het aan die ander kant aangevoer dat die tyd ryp was om tot gewelddadige opstand teen die weg wat Botha en Smuts ingeslaan het, oor te gaan. Hierna vertrek De Wet na sy tuiste in Vrede.
1931 – Pretoria verkry stadstatus
Op 14 Oktober 1931 het Pretoria amptelike stadstatus verwerf. Die stad is in 1855 gestig deur Marthinus Pretorius, ’n leier van die Voortrekkers wat dit na sy vader Andries Pretorius vernoem het. Die stad het die administratiewe hoofstad van die Unie van Suid-Afrika geword wat in 1910 saamgestel is met die samesmelting van die Transvaalse kolonie (voormalige Boererepubliek van die ZAR), die Oranje-Vrystaatse kolonie (voormalige Boererepubliek van die Oranje-Vrystaat), die Kaapkolonie en Natalkolonie.
Dertig jaar later, in 1961, toe die Unie van Suid-Afrika heeltemal onafhanklik van Engeland en ’n republiek geword het, het Pretoria sy posisie as administratiewe hoofstad van die Republiek van Suid-Afrika behou.
GEBOORTES
1639 – Simon van der Stel, laaste kommandeur en eerste goewerneur van die Kaapkolonie (24 Junie 1712)
Simon van der Stel is deur die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC) as kommandeur van die Kaap aangestel en later tot goewerneur bevorder.
1818 – Marthinus Jacobus Oosthuizen, Voortrekkerleier († 2 April 1897)
Min van ons hedendaagse jeug dra kennis van die dapper daad van Marthinus Jacobus Oosthuizen, ’n Voortrekkerheld wat met ’n voorraad ammunisie deur ’n Zoeloe-hinderlaag gebreek het om klomp Voortrekkerfamilies te red. Hy is op hierdie dag op Olifantshoek aan die Boesmansrivier, Uitenhage, gebore, en ons vertel graag van sy heldedaad. In April 1837 het hy as seun van die Voortrekker Marthinus Oosthuizen sr, met Pieter Retief na Natal getrek en by Doornkop, naby die latere Chieveley, uitgespan. Marthinus sr is saam met Retief en die ander onderhandelaars na Dingaan waar hulle op 6 Februarie 1838 by Mgungundlovu wreedaardig deur die Zoeloes vermoor is. Toe die Zoeloes hierna die Voortrekkerlaers aan die Moordspruit, Bloukransrivier en Rensburgspruit in die nag van 17 Februarie aanval, het die 19-jarige Marthinus hom na die toneel gehaas. Ongeveer agt tot tien Van Rensburg- en Botha-families (onder wie slegs 14 weerbare mans) was op ’n heuwel vasgekeer en omsingel deur ’n Zoeloe-regiment. Toe Marthinus die groep nader, het Johannes van Rensburg sy geweer onderstebo aan die seun getoon, wat dadelik begryp het dat hulle voorraad ammunisie uitgeput was. Marthinus het al vegtend teruggeval en ammunisie gaan haal by die wa van ’n Pretorius-familie ongeveer 1,6 km daarvandaan. Gesteun deur Abraham de Beer en Jacob Naudé, het hy sy pad terug oopgeveg na die vasgekeerde Voortrekkers, waar hy die kosbare vrag afgelewer het. Sy tydige hulp het hulle lewens gered. Later het nog Voortrekkers onder Sarel Cilliers opgedaag en is die aanvallers verdryf. Na sy huwelik het Marthinus hom in Natal gevestig. Hy is op 2 April in die distrik Estcourt op die plaas Enon oorlede.
1888 – Albertus Daniël (AD) Keet, geneesheer en digter († 12 Februarie 1972)
Albertus Daniël Keet is op 14 Oktober 1888 op Alice gebore en is op Senekal oorlede. Hy behaal sy BA-graad aan die Universiteit van Kaapstad in 1908; die jaar daarop vertrek hy na Amsterdam om medisyne te studeer. Sedert 1920 tot aan sy dood praktiseer hy op Senekal. In 1932 is sy eerste vrou, dr. Nell NC Keet, ’n Amsterdamse dame, oorlede. Hy sluit ’n tweede huwelik met Rina van der Merwe. Keet behoort in die digkuns tot die geslag van 1920. Hy het vaderlandse, huislike en liefdesverse geskryf. Hy het van die eerste minnedigte in Afrikaans geskryf. Sy gedigte is soms retories, miskien oppervlakkig, maar sy minnepoësie word gekenmerk deur fynheid, bekoorlikheid, sangerigheid. Daarom is baie van sy gedigte getoonset, in Holland en Vlaandere onder ander deur Marius Kerrybyn, Cornelis Dopper, Arnold Spoel, Anna Lambrechts-Vos en sy vriend Emile Hullebroeck, en in Suid-Afrika deur S le Roux Marais, ML de Villiers en MC Roode. Sy bundel Gedigte het in 1920 verskyn en in 1931 Verspotte gediggies vir verspotte kinders.
1937 – Marinus Wiechers, regsman en grondwetkenner († 31 Augustus 2018)
Prof. Marinus Wiechers was ’n regsgeleerde en grondwetkenner. Hy was tot en met sy aftrede die rektor van Unisa in Pretoria. Hy was betrokke by die skryf van die Suid-Afrikaanse grondwet. Hy was ook ’n kunstenaar. Sy pa, Jakobus, was ’n geskiedenisonderwyser en sy ma, Adriana, was voltyds moeder en kunsnaaldwerker.
STERFTES
1881 – Antoine Nicolas Ernest Changuion (* 15 Desember 1803)
Antoine Nicolas Ernest Changuion is op 15 Desember 1803 in Den Haag, Nederland, gebore. Hierdie afstammeling van die Hugenote was ‘n bedrewe joernalis, ‘n voortreflike onderwyser, ‘n besielende spreker en ‘n begaafde skrywer. Hy het in 1831 ‘n betrekking aan die South African College in Kaapstad aanvaar en in 1842 sy eie skool gestig. In tydskrifte soos Het Nederduitsch Suid-Africaansch Tijdschrift en De Zuid-Afrikaan het belangwekkende atikels van hom verskyn. Een van sy belangrikste publikasies, De Nederduitsch Taal in Zuid-Afrika hersteld (1844), is vir die Afrikaanse taalkundige van besondere betekenis, omdat dit ‘n waardevolle bylae bevat: Proeve van een Kaapsch Taaleigen. In 1865 is hy en sy gesin terug na Europa. Hy is in Lörrach, Baden, Duitsland, oorlede.
1888 – Willem Johan van Gorkum, onderwysman en skrywer (* 4 Februarie 1827)
Hy word onthou as die eerste Superintendent van Onderwys in die Zuid-Afrikaansche Republiek, asook vir die lied, “’n Iedere nasie het sy land”.
1951 – Herman Charles Bosman, skrywer en joernalis (* 3 Februarie 1905)
Herman Charles Bosman word allerweë as Suid-Afrika se voorste kortverhaalskrywer beskou. Hy is in 1926 ter dood veroordeel toe hy sy stiefbroer doodgeskiet het, maar sy vonnis is verander en sy tydperk in die gevangenis het die grondslag van sy semi-outobiografiese werk Cold Stone Jug gevorm. Hy was veral bekend vir sy voorkamerstories, met oom Schalk Lourens as hoofkarakter, wat later jare deur Patrick Mynhardt op die verhoog herleef het. Hy is op 14 Oktober 1951 oorlede.
1962 – Jim Muller, pianis (* 10 Februarie 1898)
1965 – Attie van Heerden, Olimpiese atleet en rugbyspeler (* 10 Maart 1898)
1974 – Prof. Samuel Pauw, tweede rektor van Unisa (* 25 Augustus 1909)
Hy verwerf die grade BSc, MA (Sosiologie) en DPhil in 1946 met ’n proefskrif oor Die beroepsarbeid van die Afrikaner in die stad. Sedert 1931 is hy aan die onderwys verbonde, aanvanklik as onderwyser in Springs en Germiston en sedert 1940 as lektor en professor in Pretoria en Stellenbosch in Sosiologie en Maatskaplike Werk. Op 1 April 1956 word hy rektor van die Universiteit van Suid-Afrika en beklee die pos tot met sy uittrede op 31 Maart 1972. Hy is op 14 Oktober 1974 oorlede.
2015 – Francois van Heyningen, akteur, sanger, skrywer en radio-omroeper (* 23 Mei 1935)
Francois van Heyningen was ’n Afrikaanse akteur, sanger, skrywer en radio-omroeper. Heyningen is bekend vir rolprente soos Die Banneling, Sien jou môre en Z.E.B.R.A. Hy was ook die stem van Francois Fonselet in die oorgeklankte TV-drama, Die Meisie van Avignon.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Langner, Danie & Raath, Andries. 2014. Die Afrikanerrebellie 1914-1915. Pretoria: Kraal Uitgewers.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.