15 DESEMBER

GEBEURE

1838 – Die Trekkers trek laer aan die sytak van die Buffelsrivier (Bloedrivier)

1899 – Anglo-Boereoorlog: Slag by Colenso

Toe genl. sir Redvers Buller hom vroeg in Desember begin gereedmaak om Ladysmith te ontset, het genl. Louis Botha met nagenoeg 5000 man hul stellings aangelê aan die oewer van die Tugelarivier, digby Colenso. Op 15 Desember sou Buller die Tugela oorsteek met vier kolonnes. Terwyl Buller die Tugela nader, brand sy kanonne op die vermeende Boerestellings los, maar op Botha se bevel word geen skoot deur die Boere geskiet voordat die Britse linkervleuel digby die rivier is nie. ’n Verbaasde Buller, wat reeds gemeen het dat die vyand nie meer in hul stellings is nie, word plotseling wreed ontnugter deur ’n ongekende koeëlreën. Terwyl die Britte nie die Boere in hul loopgraafstellings kan sien nie, is hulle self sonder behoorlike dekking op ’n oop terrein. Hulle word eenvoudig afgemaai. Elfuur die oggend beveel Buller sy kolonnes om terug te val. Teenoor die ses gesneuweldes en 22 gewondes aan Boerekant, is daar 1100 gesneuweldes en 22 gewondes aan Boerekant. Colenso het Louis Botha se onbetwisbare krygsvernuf duidelik onderstreep.

1920 – Die Suid-Afrikaanse Kunsvereniging gestig

Op hierdie dag het die wenners van ’n resitasiewedstryd tussen die laerskole La Rochelle en Turffontein opgetree in die voorprogram van die volgende dag se Dingaansfees. Hierdie fees is gereël deur die Dingaansfees-kommissie van Witwatersrand-Sentraal. In 1923 het hierdie wedstryde so uitgebrei dat die naam Afrikaanse Kunsvereniging daaraan gegee is. Dr. Wm. Nicol was die eerste voorsitter. Onder die inspirerende leiding van voorsitters soos Eitemal, CM van den Heever, Fransie Viljoen, E Aapkes en ander, het hierdie geloofsdaad van 1920 gegroei tot ’n organisasie wat vandag kunswedstryde reël met tot 5000 inskrywings en 12 000 deelnemers.

1938 – Roberts Heights word Voortrekkerhoogte

Met die Simboliese Ossewatrek in 1938 was genl. JCG Kemp, Waarnemende Minister van Verdediging. Hy het waargeneem in die plek van adv. O Pirow. Die oggend van 15 Desember het genl. Kemp hooggeplaaste offisiere van die Unie-Verdedigingsmag en die Sekretaris van Verdediging, adv. Broeksma, meegedeel dat hy voornemens is om die naam van die Verdedigingshoofkwartier, Roberts Heights, te verdoop tot Voortrekkerhoogte, en het algemene steun van hulle ontvang. Genl. Kemp se motivering vir sy besluit was dat die naam Roberts Heights sy ontstaan te danke het aan die feit dat lord Roberts se Engelse magte in die Anglo-Boereoorlog oor die hoogte getrek het toe hulle Pretoria op 6 Junie 1900 beset het. Lord Roberts was na die mening van genl. Kemp nog die grootste dwingeland met wie Suid-Afrika te kampe had – en waarom moes sy naam nogal deur die Verdedigingshoofkwartier verewig word? Die middag het genl. Kemp by die volksaamtrek by Monumentkoppie die naamsverandering in die openbaar aangekondig. Op politieke vlak het genl. Kemp se stap hewige teenkanting van Engelssprekendes uitgelok, maar hy is sterk gesteun deur genl. Hertzog en die Minister van Verdediging, adv. Pirow.

GEBOORTES

1803 – Antoine Nicolas Ernest Changuion († 14 Oktober 1881)

Antoine Nicolas Ernest Changuion is op 15 Desember 1803 in Den Haag, Nederland, gebore. Hierdie afstammeling van die Hugenote was ‘n bedrewe joernalis, ‘n voortreflike onderwyser, ‘n besielende spreker en ‘n begaafde skrywer. Hy het in 1831 ‘n betrekking aan die South African College in Kaapstad aanvaar en in 1842 sy eie skool gestig. In tydskrifte soos Het Nederduitsch Suid-Africaansch Tijdschrift en De Zuid-Afrikaan het belangwekkende atikels van hom verskyn. Een van sy belangrikste publikasies, De Nederduitsch Taal in Zuid-Afrika hersteld (1844), is vir die Afrikaanse taalkundige van besondere betekenis, omdat dit ‘n waardevolle bylae bevat: Proeve van een Kaapsch Taaleigen. In 1865 is hy en sy gesin terug na Europa. Hy is in Lörrach, Baden, Duitsland, oorlede.

1854 – John Daniel (JD) Kestell (Vader Kestell), Bybelvertaler, skrywer en kultuurleier († 9 Februarie 1941)

John Daniël Kestell is op Pietermaritzburg gebore. Hy het sy opleiding as teoloog op Stellenbosch en in Nederland ontvang, waarna hy agtereenvolgens die NG gemeentes Kimberley, Harrismith, Ficksburg en Bloemfontein bedien het. Gedurende die Anglo-Boereoorlog vorm hy saam met pres. Steyn en genl. De Wet die vermaarde driemanskap – kerkman, staatsman en krygsman. Leier by uitnemendheid, beklee hy by drie agtereenvolgende sittings van die Sinode van die NG Kerk die amp van Moderator. In 1919 aanvaar hy die redakteurskap van De Kerkbode. Op 65-jarige leeftyd word hy Rektor van die destydse GUK – ’n unieke onderskeiding! “As Rektor het hy vir hom as ideaal gestel om aan die GUK ’n eie karakter te gee, nl. wat eie is aan die Vrystaat en sy mense, d.w.s. Christen-Afrikanerskap, en om die inrigting so gou moontlik tot ’n selfstandige universiteit te voer.” (Prof. MCE van Schoor) Vader Kestell, die beminlike, pragtige mens, was Vrystater tot in sy voetsole en gelowige vaderlander in murg en been. In So onthou ek hom prys DF Malherbe “sy blymoedige, gelowende hart, sin vir humor, liefdevolle begrip van ander, klein of groot, sy ewewigtigheid, sy sagte, vergewende oordeel, sy vroomheid, getemper deur nugtere insig, die groot omvang van sy belangstelling, sy innige liefde vir die medemens – kortom, Christenmens van die hoogste orde”. Die naam van sy huis was Ruimte, en die boodskap van sy lewe skep ruimte in die gees van sy volksgenote – dankbare volksgenote wat hulle ekonomiese opheffing in ’n groot mate aan die reddingsdaad-aksie van Vader Kestell te danke het. Hy is oorlede op 9 Februarie 1941 en begrawe aan die voet van die Vrouemonument in Bloemfontein.

1867 – Alida Margaretha Jacoba Badenhorst (Tant Alie van Transvaal), Afrikaanse patriot en skryfster († 1 April 1908)

1926 – Heine Toerien, uitsaaier en skrywer van vermaaklikheidsprogramme († 31 Augustus 1998)

1930 – Barend Petrus Jacobus, skrywer († 8 Februarie)

STERFTES

1949 – Ernst Berthold Grosskopf, skrywer (* 23 Mei 1926)

1998 – Gerhard “Spiekeries” Viviers, Afrikaanse sport-uitsaaier (* 23 Mei 1926)

“Siddie, Siddie, Siddie!” en “Hier is spoed, hier is spoed, hier is spoed!” is twee legendariese stukkies rugbykommentaar wat net met één naam verbind kan word, naamlik Gerhard “Spiekeries” Viviers.

Gerhard het eersgenoemde stukkie kommentaar gelewer tydens die Springbokke se toets teen die All Blacks in 1970 op Loftus Versfeld. Meer mense sal daardie kommentaar as die eindtelling van die wedstryd onthou. Hy het sy bynaam, “Spiekeries” gekry omdat dit die antwoord was wat hy vir mense gegee het toe hulle hom gevra het hoe dit met hom gegaan het. Hy was ook ’n bokskommentator wat kommentaar gelewer het oor die wêreldtitelgeveg tussen Pierre Fourie en Bob Foster.

Leon Schuster het hom goed geken, en in een program van 𝘋𝘪𝘦 𝘷𝘳𝘺𝘱𝘰𝘴𝘵𝘪𝘨𝘦 𝘮𝘪𝘬𝘳𝘰𝘧𝘰𝘰𝘯, waarin Leon mense deur middel van fop-oproepe uitgevang het, het hy Gerhard gebel om navraag te doen oor sy vuurwapenlisensie. Dit het ’n hewige bekgeveg tussen hulle laat ontstaan, veral toe die “polisieman”, wat niemand anders as Leon was nie, hom daarvan beskuldig het dat hy “op die rug van sy bekendheid ry.” Alles het egter in ’n goeie gees geskied, veral nadat Leon gesê het wie hy regtig is. Leon het ook sy naam in twee liedjies verewig, naamlik “Gerrie ‘seer handjies’ Coetzee” en “Morné”, laasgenoemde ter ere van die voormalige Springbok-rugbykaptein Morné du Plessis.

Benewens sy sportkommentaar was Gerhard ook bekend as stemkunstenaar en as akteur. Sy praatstem is vir Martin Pols se karakter in die rolprent 𝘏𝘰𝘰𝘳 𝘮𝘺 𝘭𝘪𝘦𝘥 gebruik en daarna het hy in televisiereekse soos 𝘊𝘶𝘭 𝘥𝘦 𝘴𝘢𝘤 en 𝘋𝘪𝘦 𝘴𝘰𝘯𝘬𝘳𝘪𝘯𝘨 gespeel.

Gerhard is op 15 Desember 1998 in die ouderdom van 72 jaar oorlede. Hy was net so ’n legende in Suid-Afrika soos wat Bill McLaren in Skotland was.

2009 – Hester Henriëtte Grové, skrywer en dramaturg (* 26 September 1922)

Henriëtte Grové was ’n Afrikaanse skrywer en dramaturg wat die Hertzogprys in albei genres gewen het.

Hester Henriëtte Venter het in 1938 aan die Hoërskool Gimnasium in Potchefstroom gematrikuleer en in 1939 aan die destydse Potchefstroomse Universiteitskollege begin studeer. In 1941 het sy haar BA-graad met Afrikaans en Engels as hoofvakke met onderskeiding behaal. Die magisterbeurs van UNISA is aan haar toegeken, maar sy het dit van die hand gewys. In 1942 het sy haar universiteits-onderwysdiploma verwerf.

In 1945 is sy met prof. AP Grové getroud, en in 1949 het die egpaar na Pietermaritzburg verhuis, waar prof. Grové as dosent in Afrikaans en Nederlands aan die plaaslike universiteit verbonde was. In hierdie tyd was sy ’n onderwyseres terwyl sy ook saam met onder meer Monica Breed en Philip Grobbelaar by die Durbanse Afrikaanse tak van die SAUK gewerk het. Sedert 1959 het hulle in Pretoria gewoon, waar haar man eers dosent en later professor aan die Universiteit van Pretoria was.

Haar eerste verhale is in 𝘋𝘪𝘦 𝘉𝘳𝘢𝘯𝘥𝘸𝘢𝘨, 𝘋𝘪𝘦 𝘏𝘶𝘪𝘴𝘨𝘦𝘯𝘰𝘰𝘵, 𝘚𝘢𝘳𝘪𝘦 en 𝘋𝘪𝘦 𝘛𝘢𝘢𝘭𝘨𝘦𝘯𝘰𝘰𝘵 gepubliseer en in 1947 het sy onder die skuilnaam Linda Joubert begin skryf. Sy is as ’n randfiguur van die Sestigers beskou en die Hertzogprys is twee keer aan haar toegeken; vir drama in 1981 en vir prosa in 1984. Tydens die Leipoldt-eeufeesjaar van 1980 het sy die radiodrama “Ontmoeting by Dwaaldrif” as opdragstuk vir die SAUK geskryf. Hiervoor is die Hertzogprys in 1981 aan haar toegeken. Haar kortverhaal “Liesbet slaap uit” is vir televisie verwerk en as televisiedrama gebeeldsend. In 1983 het die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys ’n eredoktorsgraad aan haar toegeken.

Sy is op 15 Desember 2009 in die ouderdom van 87 jaar oorlede.

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/