
17 MEI
GEBEURE
1659 – Vryburgers se petisie
Die Vryburgers teken ’n petisie wat vra dat Jan van Riebeeck optree teen die Khoi-Khoi.
1884 – ZAR se ooreenkoms met Portugal
Die Zuid-Afrikaanche Republiek onderteken ’n ooreenkoms met Portugal waarvolgens die Delagoabaai-spoorlyn gebou sou word.
1900 – Mafeking ontset
Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog was daar reeds ’n klein Britse mag onder kol. RS Baden-Powell op Mafeking. Die Transvaalse kommando’s wat aan die wesfront sou opereer, het onder bevel van genl. PA Cronjé gestaan. Hoewel dit vir Cronjé betreklik maklik sou gewees het om die klein Britse mag op Mafeking met ’n stormaanval te verower, het hy besluit om die dorp te beleër. Dit was geen wyse besluit nie, want daardeur het ’n groot aantal burgers op nuttelose wyse rondom Mafeking gelê, terwyl Baden-Powell vasbeslote was om nie te kapituleer nie. Teen die einde van November 1899 het Cronjé met ’n groot aantal burgers na Modderrivier vertrek en die beleg van Mafeking aan genl. JP Snyman oorgelaat. Die eerste aanval op die dorp het eers in April 1900 onder aanvoering van vk. Sarel Eloff plaasgevind, maar was onsuksesvol. Op hierdie dag is die beleg opgehef omdat ’n Britse versterkingsmag uit die suide opgedaag het. Vir Brittanje was dit ’n morele oorwinning.
1933 – Samesmelting tussen partye
In die Suid-Afrikaanse algemene verkiesing steun kiesers die gedagte van samesmelting tussen die Suid-Afrikaanse Party en Nasionale Party.
1938 – Koopkrag (Edms) Beperk gestig
1971 – Melrose-huis in Pretoria as museum geopen
Melrose-huis in Pretoria word amptelik deur staatspresident CR Swart as museum geopen. Melrose-huis is van belang omdat dit die plek is waar die Vrede van Vereeniging na die Anglo-Boereoorlog in 1902 onderteken is.
GEBOORTES
1898 – Dr. FCL Bosman, ’n skrywer en redakteur van verskeie geskrifte oor die Afrikaanse toneelbedryf († 25 Mei 1981)
Frederik Christiaan Ludolph Bosman is op Kuilsrivier, Kaapprovinsie, gebore. Hy studeer aan die Universiteit van Kaapstad en Amsterdam en promoveer in 1928 met sy proefskrif Drama en toneel in SA, 1652 –1855, Deel I. Hy was altyd bedrywig met die bevordering van die Afrikaanse taal en kultuur. Hy is lid en ook stigterslid van talle Afrikaanse kultuurverenigings, lid van verskillende museumrade en Akademiekomitees; van 1948 tot 1958 was hy sekretaris van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, en van 1959 tot 1963 bestuurslid van die SA Musiekraad. Eers was hy van 1928 tot 1947 lektor in Nederlands-Afrikaans aan die Universiteit van Kaapstad. Hy het veral die toneel, beeldende kunste en musiek in Suid-Afrika bevorder. Hy toon baie belangstelling vir die bevordering van nouere kulturele betrekkinge tussen Suid-Afrika en Nederland, was meermale op amptelike besoeke aan Nederland en is lid van Nederlandse verenigings. Talle artikels in koerante, tydskrifte en ander publikasies oor die Afrikaanse letterkunde, toneel, kultuur, ens., het uit sy pen verskyn. In 1979 het hy die halfeeukongres van die FAK, waarvan hy ’n stigterslid was, bygewoon. By die geleentheid is ’n kunsleergebonde eksemplaar van die FAK-gedenkboek, Vyftig jaar Volksdiens, aan hom oorhandig.
1901 – Elizabeth (Betsie) Verwoerd, eggenoot van dr. HF Verwoerd († 29 Februarie 2000)
Besie Verwoerd was die vrou van Suid-Afrika se sesde eerste minister, dr. Hendrik Verwoerd.
STERFTES
1967 – Maarten Christiaan Roode, eerste musiekprofessor van die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys en samesteller van die eerste Engelse-Afrikaanse Musiekterminologie van die FAK (* 29 Julie 1907)
1973 – Maggie Laubser, kunsskilder (* 14 April 1886)
Maggie Laubser was ’n skilder en drukwerkkunstenaar. Sy is grootliks, saam met Irma Stern, vir die bekendstelling van ekspressionisme in Suid-Afrika verantwoordelik. Haar werk is aanvanklik deur kritici bespot, maar is later wyd aanvaar.
1977 – Marthinus Lourens (ML) de Villiers, Afrikaanse predikant en musikus (* 31 Julie 1885)
Ds. ML de Villiers was ’n leraar in die Nederduitse Gereformeerde Kerk van 1912 tot 1930, daarna tot sy dood voltyds musikant en is veral bekend om sy toonsetting van “Die Stem”.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.