19 APRIL

GEBEURE

1672 – Koop grond van die Khoi-Khoi

Een van die vroegste grondtransaksies in die Kaap is op 19 April 1672 aangegaan toe die VOC-kommissaris Aernhout van Overbeke as voorsitter van die Politieke Raad, formeel die grondgebied rondom die Kaap van die Khoi gekoop het, wat daarop aanspraak gemaak het. Hy het die transaksie volgens geskiedskrywers as raadsaam beskou om toekomstige grondgeskille te vermy. Dit is deur twee transaksies gedoen, die eerste op dié dag met die Khoi-kaptein Schacher en ’n tweede een ’n maand later met kaptein Dhouw. In die eerste ooreenkoms, is daar in ruil vir handelsware afstand gedoen van die hele Kaapse distrik, insluitende Tafelbaai, Houtbaai en Saldanhabaai wat aan die Kotsjokwa-stam behoort het. In die ooreenkoms met Dhouw, is daar afstand gedoen van die Hottentots-Holland-distrik wat Valsbaai ingesluit het. Van Overbeke was 41 jaar oud toe hy twee jaar later in Amsterdam oorlede is.

1922 – Eerste banknote in SA uitgereik

Die eerste banknote in Suid-Afrika is op 19 April 1922 deur die Reserwebank uitgereik nadat die pond in 1825 die standaardgeldeenheid van die Kaap die Goeie Hoop geword het. Dit het gevolg op ’n keiserlike orde om sterlingmunt in alle Britse kolonies in te voer. Britse munte het toe die Nederlandse geldeenheid vervang. In 1961 het Suid-Afrika gedesimaliseer.

1975 – Dr. Nic Diederichs word ingesweer as Suid-Afrika se derde staatspresident

 

GEBOORTES

1876 – Erich Mayer, Duits-gebore Suid-Afrikaanse skilder († 10 Augustus 1960)

Mayer, kunsskilder en grafiese kunstenaar van formaat, is op 19 April 1876 in Karlsruhe, Duitsland, gebore. Hy kom in 1898 om gesondheidsredes na Suid-Afrika en vestig hom op Vrede in die Vrystaat. Sy verblyf tussen die Boere laat hom lewenslank besonder toegeneë teenoor hulle voel, met ’n behoefte om die Afrikaner uit te beeld. Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog sluit hy hom by die Duitse Korps aan en word op 21 Oktober 1899 by Elandslaagte krygsgevangene geneem en na St. Helena gestuur. Ná die oorlog is hy terug na Duitsland en keer eers sowat sewe jaar later terug na Suid-Afrika. Hy skilder veral in die Vrystaat en die Transvaalse Laeveld, hoofsaaklik waterverfskilderytjies van klein formaat. Later, vanaf 1929, skilder hy ook toenemend in olieverf en maak potlood-, ink- en krytsketse. Hy beeld veral eenvoudige tonele en gebeure in die plattelandse lewe van die eerste helfte van die 20ste eeu uit; die Suid-Afrikaanse landskap, veldlewe, kremetartbome, nagmaals- en dorpstonele, boerekinders en swart mense. Sy kunswerke is ’n waardevolle bron vir navorsers oor die tradisionele leefwyse van die inwoners. Hy is nooit as kunstenaar besonder hoog geag nie, maar was ’n uitmuntende kopieerder van die werklikheid. Hy sterf op 10 Augustus 1960 in Pretoria.

1931 – Hendrik Jacobus (Kobie) Coetsee, prokureur, politikus en Kabinetsminister († 29 Julie 2000)

Kobie Coetzee was ’n prokureur en politikus. Hy was van 7 Oktober 1980 tot 31 Maart 1993 die Minister van Justisie. Van 1 April 1993 tot 11 Mei 1994 het hy as die Minister van Verdediging gedien. Hy het ook as onderhandelaar vir die Nasionale Party tydens die land se oorgang na ’n volledige demokrasie opgetree. Na die verkiesing van 1994 is hy tot president van die senaat verkies. Hoewel die ANC ’n gemaklike meerderheid gehad het, beklee hy hierdie posisie tot in 1997.

1939 – Basil van Rooyen, renjaer († 13 September 2023)

Basil van Rooyen was ’n Suid-Afrikaanse renjaer, renmotorontwikkelaar, uitvinder en ingenieur. Sy loopbaan het bestaan ​​uit die wedrenne met ’n motorfiets, Anglia, Lotus Cortina, Mustang, Alfa Romeo, Capri Perana Chevy Can-am, Fiat/Ferrari-saalmotors, sportmotors, enkelsitplekke en Formule 1.

 

STERFTES

1879 – Just Friedrich Rudolph Kaufmann Höhne, politikus (* 1831)

Just Friedrich Rudolph Kaufmann Höhne, ook wel J.F.R. Kaufmann Höhne, algemeen bekend as Friedrich Kaufmann Höhne, was ’n Suid-Afrikaanse politikus, Staatsekretaris en waarnemende Staatspresident (1872) gedurende die afwesigheid van Staatspresident Brand.

1930 – Friedrich Wilhelm Jannasch, medestigter van die SA Musiekkonservatorium (* 15 Oktober 1853)

Friedrich Wilhelm Jannasch is op Mamre gebore as seun van ’n Duitse Morawiese sendeling. Hy ontvang sy skoolopleiding by Christiansfeld in die huidige Denemarke. Hy begin as vyftienjarige met orrellesse aan die Koninklike Sweedse Musiekakademie in Stockholm. Hierna studeer hy verder in Berlyn en Breslau in Duitsland. Hy was van 1872 tot 1882 onderwyser in die Morawiese gemeenskap te Gnadenfrei in Schlesien.

NJ Hofmeyr van die Stellenbosse Kweek­­skool werf Jannasch in 1883 om ’n musiekskool op Stellenbosch tot stand te bring. Saam met vier ander plaaslike en buitelandse musici, waaronder die Oos­tenryker Hans Endler, stig hy in 1905 die Zuid-Afrikaansche Conservatorium voor Muziek – tans die Departement van Musiek van die Universiteit van Stellenbosch. ’n Jaar later is ’n gebou met ’n konsertsaal in Van Riebeeckstraat, Stellenbosch, volgens sy planne opgerig. Hy tree in 1921 as direkteur af.

Hy was van 1887 af tot met sy dood in 1930 orrelis en koormeester van die Stel­lenbosse Moederkerk. Prof. Jannasch het ook talle koorwerke en orrelstukke gekomponeer en ’n aantal van Totius se Psalm­berymings getoonset. Sy gewilde melodieë van Psalm 23, 90 en 91 word steeds gebruik. Hy het self ook heelwat oor kerkmusiek ge­skryf.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

Frikkie Wallis Facebook

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/

Frikkie Wallis Facebook