ERICH MAYER (1875-1960)
Erich Mayer was ’n argitek, landmeter en kunstenaar wat in Duitsland gebore is, maar later na Suid-Afrika gekom het.
Erich Ernst Karl Mayer is op 19 April 1875 in Karlsruhe in Duitsland gebore. Hy het sy skoolopleiding in Berlyn ontvang, maar kon nie bekostig om kuns te studeer nie. Hy het egter wel ’n beurs verwerf om in die argitektuur te studeer. Hy moes in 1896 egter sy studie weens gesondheidsredes staak. Hy het in 1898 na Suid-Afrika gekom aangesien hy na ’n gesonder klimaat op soek was, en op Vrede in die Vrystaat as landmeter gewerk In 1899 het hy hom by ’n Boerekommando aangesluit en sketse gemaak van boere wat by sy bataljon stilgehou het. Die volgende jaar het Britse magte hom by Mafikeng gevange geneem en hom as krygsgevangene na St. Helena gestuur. Hier het hy hom tydens sy vrye tyd met kuns besig gehou. In 1902 is hy as vreemdeling terug na Duitsland gestuur en die winter van 1902 en 1903 in Tunisië in Noord-Afrika deurgebring. In 1904 het hy egter na Suid-Afrika teruggekeer.
Hy het in 1907 en 1909 na Duitsland teruggekeer om in kuns te studeer en na Uniewording in 1910 kon hy hom permanent in Suid-Afrika vestig. Hy het eers in Port Elizabeth gewoon, later in Potchefstroom en daarna in Pretoria. Hy het as koerantkunstenaar gewerk en medekunstenaars JH Pierneef en Pieter Wenning leer ken en hulle geleer hoe om houtsneewerk te doen. In 1914, tydens die Eerste Wêreldoorlog, is hy weer gevange geneem en byna twee jaar lank in Pietermaritzburg aangehou. Na sy vrylating op parool in 1916 het hy kunsuitstallings in Transvaal, asook op Stellenbosch, gehou en van 1921 en 1925 het hy in Johannesburg gewoon. Hy is in 1928 getroud, waarna hy en sy vrou met ’n woonwa deur Suid-Afrika gereis het. Mayer se werk het baie gewild onder plattelandse gemeenskappe geword , en hy is opdrag gegee om ’n muurbehangsel vir die Johannesburg College of Education te maak. In 1931 het hy hom in Pretoria gevestig, waar hy en sy vrou spin-en-weefklasse aangebied het. In 1935 en 1936 het hy in die Italiaanse stad Florence gestudeer, en na sy egskeiding in 1939 het hy oor die hele Transvaal gereis en kunsuitstallings gehou. In 1943 het die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ’n eremedalje aan hom toegeken.
Hy is in 1960 in die ouderdom van 84 jaar in Pretoria oorlede.
deur Daantjie Badenhorst