2 AUGUSTUS
GEBEURE
1858 – Beheer van die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie word aan Brittanje oorgedra
1900 – Anglo-Boereoorlog: Lord Kitchener neem bevel van magte oor
Lord Roberts stuur sy stafhoof, Lord Kitchener, om die algehele bevel van die magte oor te neem teen genl. De Wet.
1900 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Silkaatsnek, ZAR
GEBOORTES
1778 – Eerwaarde Erasmus Smit, eerste predikant van die Voortrekkers († 3 Augustus 1863)
Erasmus Smit was die eerste predikant van die Voortrekkers. Hy is op 2 Augustus 1778 in Buiksloot bij Amsterdam gebore. Hy was die seun van ’n stuurman op ’n skip wat met Wes-Indië handel gedryf het. Hy bring van sy jeugjare in ’n weeshuis deur. Hy word ’n sendeling in Amerika in 1801 en kom in 1804 aan die Kaap aan. Hy werk saam met dr. JT van der Kemp op Bethelsdorp. Nadat die NG Kerk geweier het om hom te orden, word hy ’n onderwyser. Hy trou met die suster van die Voortrekkerleier Gerrit Maritz en sluit hom in 1836 by die Voortrekkers aan. Hy word hulle nie-amptelike predikant, hou gereeld dienste, voltrek huwelike en vergesel die Trek na KwaZulu-Natal. Sy dagboek is ’n belangrike dokument van die Trek. Hy vestig hom op Pietermaritzburg waar hy in 1863 oorlede is.
1889 – Ivanhoe Makepeace (Ivan) Lombard, hoofsekretaris van die FAK († 20 Februarie 1971)
Ivanhoe Makepeace Lombard is op hierdie dag in die Kimberley-distrik gebore. As kind het hy die smaad en ellende van ’n Britse Konsentrasiekamp deurleef. As jong man en jong onderwyser (wat hom in Heidelberg as onderwyser bekwaam het) het hy die vernedering van Afrikaner-wees – in daardie jare aan die Rand – deurworstel toe hy die werkerstryd van 1913 en 1922 beleef het, die Afrikaner-armblankedom van die dertigerjare meegemaak het, die minagting van sy taal en kultuur ondervind het, die politieke verdeeldheid en onmag gesien het. Alles saam het daartoe bygedra dat hy en ander Afrikaners die voortou geneem het om saam te bind wat uit eie oortuiging bymekaar hoort, om daardeur die knegskap van die Afrikaner te oorwin. Hieruit het voortgespruit die stigting van die FAK en vele ander noodsaaklike organisasies.
Met die stigting van die FAK het hy die eerste hoofsekretaris geword, ondanks die feit dat hy toe reeds dieselfde amp by die Afrikaner-Broederbond beklee het – ’n tyd toe die AB nog ’n suiwer Afrikanerorganisasie met edele ideale was. Toe die verpligtinge wat hiermee dubbele hoedanigheid meegebring het, vir oom Ivan soos hy algemeen bekend was, te veel geword het en daar ’n assistent aangestel moes word, het hy uit eie wil aangebied om die helfte van sy salaris van 20 pond af te staan om die salaris van ’n assistent-sekretaris te bekostig. Dit is die stille getuienis van die onbaatsugtige volksdiens wat hy dwarsdeur sy lewe gelewer het, waarvoor die FAK aan hom erkenning verleen het met die toekenning van sy eksklusiewe Erepenning vir Volksdiens in 1966. Ander eretoekennings wat hierdie toegewyde kultuurleier te beurt geval het, was onder meer die eerste eredoktoraat van die Randse Afrikaanse Universiteit in 1969 en erelidmaatskap van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.
Hy het ook ’n sleutelrol in baie volksake gespeel. Hy was stigterslid van die Sentrale Volksmonumentekomitee, wat die Voortrekkermonument opgerig het; hy het ’n groot aandeel gehad in die restourasie van Paul Kruger se sterfhuis in Clarens en die herstel van Boeregrafte en van talle ander ondernemings. Ook in die sakewêreld was hy aktief as direkteur van Voortrekkerpers, Uniewinkels en Voorbrand-Tabbakkorporasie (Rembrandt). Op politieke gebied het hy en dr. Piet Meyer hulle met daadkrag beywer om dr. DF Malan en genl. JBM Hertzog in 1939 versoen te kry en was hy een van die leiers van die Eenheidskomitee.
Nadat hy in 1937 as hoofsekretaris van die FAK uitgetree het, is hy in dieselfde jaar tot die Hoofbestuur (destyds die Uitvoerende Komitee genoem) verkies. Hy was jare lank ondervoorsitter van die FAK en het by twee geleenthede as voorsitter waargeneem van 1940 tot 1941, nadat dr. NJ van der Merwe oorlede is, en weer van 1951 tot 1952 toe prof. JC van Rooy as gevolg van ander verpligtinge as voorsitter uitgetree het.
Kort voor sy dood op 20 Februarie 1971 het dr. PJ Meyer aan hom gesê: “Solank u in ons midde is, herinner u lewe ons aan die eise wat Afrikanerskap aan ons stel.” Na oom Ivan se dood het dr. Meyer in ’n huldeblyk bygevoeg: “Ook in die dood stel die lewe van Ivan Lombard – ’n lewe gewy aan diens vir sy volk – aan elkeen van ons se Afrikanerskap eise wat ons nie ligtelik sal en mag vergeet nie. Die taak om ons volk te dien sonder om ooit eer of vergoeding te soek, het hy in en deur sy lewe uitgevoer.”
STERFTES
1785 – Georg Schmidt, sendeling van die Morawiese kerk (* 30 September 1709)
Georg Schmidt was ’n Duitse sendeling wat deur die Morawiese kerk gestuur is om die evangelie aan die Koi-mense te verkondig. Hy is op 30 September 1709 in Kunewalde (Morawië) gebore en sterf op 2 Augustus 1785 in Niesky in der Oberlausitz (Duitsland). Hy het Genadendal in 1738 gestig nadat hy hom op die 23 April 1738 in die Baviaanskloof gevestig het.
1906 – Maria (Marie) Koopman-De Wet, ’n kampvegter vir Afrikanerregte, kultuurleidster, patriotiese weldoener en beskermvrou van die kunste (* 18 Maart 1834)
Maria Margaretha Koopmans-De Wet is in Kaapstad gebore uit een van die vooraanstaande Kaapse families. As jong dogter is sy aangegryp deur die lotgevalle van die Voortrekkers, die totstandkoming van die twee Boererepublieke en die Anti-Bandietebeweging – almal gebeurtenisse wat bygedra het om ’n vurige patriotisme te ontwikkel. Haar woning in Strandstraat 23 het die bymekaarkomplek geword van vooraanstaande Kaapse persone en selfs Boerepresidente. Sy het daarna gestreef om die Kaaps-Hollandse tradisies en leefwyse in ere te hou deur haar te beywer vir die bewaring van die volkseie, beskerming van die inheemse flora en die bewaring van die Kasteel. Sy lewer ook ’n wesenlike bydrae tot die uitbouing van die Hollandse taal, maar dit was veral tydens die Anglo-Boereoorlog dat haar volksdiens tot ’n hoogtepunt uitgevoer is. Haar woning het terselfdertyd die versamelplek geword van goedere wat vir Boerekrygsgevangenes en die Konsentrasiekampe bestem was. Sy is op 2 Augustus 1906 oorlede.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.