MARIE KOOPMANS-DE WET (1834-1906)

Sy beywer haar vir die behoud van dit wat eie is

Die Koopmans-De Wethuis in Strandstraat, Kaapstad, is ’n bekende landmark omdat dit in 1940 as ’n nasionale gedenkwaardigheid verklaar is en daar kultuurhistoriese oudhede geberg word wat van onskatbare waarde vir die Suid-Afrikaanse materiële kultuurerfenis is.

Maria Magdalena de Wet is op 18 Maart 1834 in Kaapstad gebore. Haar pa was ’n bekende Kaapse advokaat en vyftien jaar lid van die Kaapse Wetgewende Raad. Die opvoeding van sy twee dogters was vir hom baie belangrik. Marie was Nederlands, Frans, Duits en Italiaans magtig. Sy stel geweldig baie belang in gebeure van die dag en volg die lotgevalle van die Voortrekkers met groot belangstelling, asook verdere ontwikkelinge in die twee noordelike republieke. Sy ontwikkel ’n sterk nasionale bewussyn en sy word mettertyd bekend vir haar sterk patriotiese sentiment.

As kind was sy in haar ouerhuis aan vooraanstaande Kaapse figure en besoekers blootgestel. Sy beywer haar baie sterk vir die behoud daarvan wat eie is, hetsy van natuurlike of kulturele aard. So moedig sy boomaanplantings en die beskerming van inheemse flora aan, asook die bewaring van oudhede en historiese dokumente.

Toe daar in 1886 sprake was van die sloping van die Kasteel, het sy dié historiese gebou feitlik eiehandig gered. Vandag is dit die oudste gebou in Suid-Afrika, goed gerestoureer en van groot kultuurhistoriese belang. Haar moeder, vader en haar man, Johan Koopmans, sterf redelik kort na mekaar in die 1870’s. Daarna bly sy en haar suster in die huis in Strandstraat aan.

Nadat hulle twee reise oorsee onderneem het, het hulle besluit om weer hulle huis oop te stel vir onthale en om vreemdelinge te ontvang. Sy het kuns- en kultuurvoorwerpe versamel en in haar huis uitgestal en ook musiekaande daar aangebied. Sy het haar ook aan die saak van die Boere, vroue en kinders tydens die Anglo-Boereoorlog toegewy en talle petisies aan die Britse koningin en regering gerig. Marie Koopmans-De Wet sterf op 2 Augustus 1906 in die Koopmans-De Wethuis.

deur Petronel Fourie