20 DESEMBER

GEBEURE

1838 – Groot Trek: Voortrekkers bereik uMgungundlovu

Vier dae na die slag van Bloedrivier bereik die Voortrekkers uMgungundlovu wat deur Dingaan verlaat en aan die brand gesteek is.

1880 – Anglo-Boereoorlog: Slag van Bronkhorstspruit

Ten einde die Britse garnisoen in Pretoria te versterk, is ’n afdeling van die voetsoldate, 94e Regiment bestaande uit 263 offisiere en manskappe, gelas om onder bevel van lt.kol. Philip Anstruther, van Lydenburg na Pretoria te gaan. Die Boerekrygsraad het egter besluit dat hierdie opmars verhinder moet word aangesien ’n konsentrasie van Britse troepemagte in Pretoria vir die Boere ’n lastige situasie kon skep. Gevolglik is komdt. Frans Joubert (Frans Held) van Paardekraal na ’n posisie oos van Pretoria gestuur om Anstruther se opmars te stuit. Toe Joubert met sowat 200 man op 20 Desember 1880 met Anstruther se afdeling in aanraking kom, het die Engelse reeds tot aan die Honderivier by Bronkhorstspruit gevorder. ’n Sekere Paul de Beer is daarop met ’n brief na Anstruther gestuur waarin hy versoek is om nie sy opmars voort te sit nie. Toe Anstruther weier om gehoor te gee het Joubert tot aanval oorgegaan. Die Slag by Bronkhorstspruit, vier dae na die uitbreek van die Transvaalse Vryheidsoorlog, het die eerste groot slag van dié oorlog geword. In ’n geveg wat slegs enkele minute geduur het, is die Britte feitlik heeltemal uitgewis, terwyl Anstruther self kort na die geveg aan sy wond oorlede is.

1914 – Afrikanerrebellie

Jopie Fourie word in Pretoria tereggestel.

 

GEBOORTES

1866 – Ds. Pieter Gerhardus Jacobus Meiring, leraar († 15 Mei 1938)

Pieter Gerhardus Jacobus Meiring, wat op 20 Desember 1866 op Goudini gebore is, sterf op 71-jarige leeftyd in die tuig. Tegelyk predikant van Rondebosch, redakteur van Die Kerkbode en voorsitter van die Raad van die Kerke, geniale bedienaar van die Woord, uitmuntende joernalis en geëerde kerkleier.

1917 – James Thomas (Jimmy) Kruger, minister en president van die Senaat († 9 Mei 1987)

Jimmy Kruger was ’n politikus en het van 1974 tot 1979 as Minister van Justisie en Polisie in die kabinet van Eerste Minister John Vorster gedien. Hy was ook van 1979 tot 1980 president van die Suid-Afrikaanse Senaat.

1938 – Edwill van Aarde, radio-omroeper en sportkommentator († 3 Januarie 2024)

Edwill van Aarde was ’n televisie-, radio-omroeper en sportkommentator in Suid-Afrika. Hy was die aanbieder en kommentator met die langste ononderbroke diens by enige uitsaaier in Suid-Afrika, 50 jaar.

1950 – Tommy Oliver, country-sanger († 16 Januarie 2023)

Tommy Oliver was ’n Suid-Afrikaanse country-sanger wat in die 1970’s ’n paar treffers op die Suid-Afrikaanse treffersparade gehad het.

 

STERFTES

1914 – Jopie Fourie, ’n Boerekryger en rebelleleier (* 27 Augustus 1878)

Jopie Fourie was ’n Boerekryger in die Anglo-Boereoorlog. Tydens die Eerste Wêreldoorlog was hy ‘n offisier in die Suid-Afrikaanse Burgermag. Sonder om te bedank, het hy by die rebellie aangesluit. Hy is gevang, verhoor, ter dood veroordeel en gefusilleer.

1940 – Genl. Salomon Gerhardus (Manie) Maritz, Rebelleleier (* 26 Julie 1876)

Salomon Gerhardus Maritz is op hierdie dag in Kimberley gebore. Hy was ’n polisieman in Johannesburg toe hy in Oktober 1899 saam met die Boksburgkommando na die oorlogsfront in Natal gegaan het. Hy het lid van Danie Theron se dapper Verkennerskorps geword. In Februarie 1901 gaan veg hy in die Kaapkolonie en word tot veggeneraal bevorder. Hy weier om die wapen met die vredesluiting op 31 Mei 1902 neer te lê en gaan deur Duits-Suidwes na Europa. In 1914 moet hy as Rebelleleier noodgedwonge deur Angola na Portugal vlug. Uit Duitsland het hy na sy vaderland gekom, en in 1923 word hy tot drie jaar gevangenisstraf gevonnis, maar is in 1924 vrygelaat. Hy sterf in ’n motorongeluk op 19 Desember 1940. Sy outobiografie My lewe en strewe het in 1938 verskyn. Hy is in die Nuwe Kerkhof in Pretoria-Wes begrawe, waar ’n granietrots met die inskrywing “Vat my hand dat ek kan opstaan vir my volk” op sy graf aangebring is.

1985 – Olaf Andresen, Duitsgebore Afrikaanse liedjieskrywer (* 14 Januarie 1902)

Olaf Hans Andresen het bekendheid verwerf met sy skooloperettes en populêre liedere soos “My hart verlang na die Boland” en “Heidelied”. Hy is in Duitsland gebore, het na Suid-Afrika verhuis en hom volkome met die Afrikanerstrewe vereenselwig en gedurende die oorlogjare as vlugteling in Mosambiek liedere vir die Ossewa-Brandwag onder ’n skuilnaam gekomponeer.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Langner, Danie & Raath, Andries. 2014. Die Afrikanerrebellie 1914-1915. Pretoria: Kraal Uitgewers.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/