JOPIE FOURIE (1878-1914)

Jopie Fourie was ’n Boerekryger van die Anglo-Boereoorlog wat by die rebellie van 1914 aangesluit het terwyl hy ’n offisier in die Suid-Afrikaanse Burgermag was.

Josef Johannes Fourie is op 27 Augustus 1878 in die distrik van Pretoria gebore en tydens die Jameson-inval van 1895, wat ’n mislukte aanslag op die onafhanklikheid van die Zuid-Afrikaansche Republiek was, het Jopie, wat destyds sewentien jaar oud was, saam met sy oom Japie onder kmdt. Piet Roos gedien. Hulle was betrokke by die laaste skermutseling wat daartoe gelei het dat dr. Leander Star Jameson se manne die wit vlag, glo in die vorm van ’n voorskoot, opgesteek het. Kmdt. Roos het Jopie daarna versoek om ’n brief op te stel en gelas dat hy die brief aan dr. Jameson moet oorhandig. Dr. Jameson het daarna oorgegee.

Jopie was ’n verkenner en rapportryer tydens die Anglo-Boereoorlog en is gewond tydens ’n skermutseling noord van Pretoria. Hy is nie gevang nie, maar het by die Engelse vir mediese hulp gaan aanklop. Na afloop van sy behandeling is hy as krygsgevangene aangehou en sou eers vrygelaat word as hy die eed van getrouheid teenoor die Britse kroon sou aflê.

Na 1912 het hy hom as kaptein by die Unie van Suid-Afrika se aktiewe Burgermag aangesluit en weer eens moes hy die eed van getrouheid aflê. Op 14 September 1914, nadat die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek het, het die parlement die regering se besluit om Duits-Suidwes-Afrika binne te val, goedgekeur. Op 12 Oktober 1914 het die regering reeds krygswet afgekondig en genls. Manie Maritz en Christiaan Beyers het reeds gerebelleer. Op 24 Oktober het Jopie met genl. Louis Botha vergader; genl. Botha het hom versoek om uit te vind hoeveel steun Beyers onder die mense gehad het. Toe Jopie by die huis aangekom het, het hy besluit om eerder by die volk te staan. Hy moes uitgaan na sy mense vir volk en vaderland. Hy het ’n klomp mans byeengeroep en hulle het hom tot hul kommandant verkies. Toe iemand hom gevra het of hy as offisier bedank het, het hy gesê: “Dit is onnodig, want die regering sal mos met ons onderhandel.” Op 30 Oktober het hy besef dat die regering nie bereid was om te onderhandel nie. “Nou eers besef elke burger dat dit voortaan oorlog sal wees,” het hy aan sy burgers gesê.

Jopie en sy kommando was by twaalf gevegte met Unietroepe betrokke. In die geveg by Nooitgedacht op 16 Desember 1914 het Jopie en sy trawante oorgegee. By daardie geveg het tien Unietroepe gesneuwel en 21 is gewond.

Op 18 en 19 Desember het Jopie voor ’n krygshof verskyn. Hy het sy eie prokureur aangestel en twee advokate, AS van Heese en H Gey van Pittius, het hom bygestaan. Hy en sy broer is van hoogverraad aangekla; luidens die klagstaat het hulle Sy Majesteit se magte in November en Desember 1914 in die Transvaal getrotseer het en op 16 Desember 1914 saam met ander in ’n gewapende rebellie gevang.

Toe hy moes pleit, het hy gesê: “Ek kan nie insien waarom ons jong Afrikaners vir Engeland se eer moet veg nie. Wanneer ons die moord van Slagtersnek nagaan en wanneer ek dink aan die 30 000 vroue en kinders wat vermoor is, sien ek nie waarom ek Engeland moet help om sy eer omhoog te hou nie. Ek weet dat die regering my as ’n rebel beskou en teleurgesteld is in my. Ook is ek teleurgesteld in die regering wat ek op die been help bring het en waarvoor ek my bloed opgeoffer het; wat ek gedoen het, het ek met oop oë en uit vrye oortuiging gedoen. Selfs al is ek tot vandag toe nog oortuig dat God nie die onreg sal gedoë nie, kan ek nie vals wees nie. Nooit in my lewe het ek dit kon wees nie! En mag God my bewaar om nooit ’n valsaard te wees nie. Ek is nie van plan om die hof om genade te vra nie. Die genade van my Skepper wat my gelei het, is vir my genoeg. Genade? Is dit nie opmerklik dat ek die seun moes wees wat met die wit vlag na Jameson ingery het met sy oorgawe nie? Hy is gevang en vrygelaat en het daarna sir Starr Jameson geword, maar ek moet sterwe, daartoe veroordeel deur my eie mense wat twaalf jaar gelede saam met my gestry het vir ons land en volk se vryheid. O, ek hoop tog hulle sal my nie in my gesig skiet nie,” en terwyl hy met sy hand op sy bors gelê het, het hy laat hoor: “Hier is ’n groot Afrikanerhart; groot genoeg om al hul koeëls te ontvang; so seker soos ek U hier voor my sien, is ek oortuig dat die Here met sy dierbare bloed vir my sonde versoening gedoen het, en dat Hy nou kom om my by die hand te neem en deur die dal der skaduwee des doods weg te lei. Hy is mos hier by ons; ons kan Hom voel.”

Na aanhoor van getuienis en betoë is Jopie en sy broer skuldig bevind en ter dood veroordeel. Die regering het hul skuldigbevindings bekragtig, asook Jopie se doodsvonnis. Op 20 Desember 1914 is Jopie gefusilleer, terwyl hy Gesang 20:8 sing, met die woorde: “Als wij de doodsvallei betreën, laat ons elke aardse vriend alleen.” Aan die einde van die tweede versreël is die bevel om te vuur, gegee; die skote het geval en Jopie het neergestort en gesterf. Vier skote het sy bors getref en ’n vyfde een was deur sy kuiltjie en het sy nekwerwels vergruis.

Hy is aanvanklik in ’n graf van drie voet diep begrawe. Daar was water onder in die gat wat die owerhede laat besluit het om “Little’s Dip” daarin te gooi. Twee dae later is sy liggaam stilletjies opgegrawe en hy is in die geheim na die Nuwe Kerkhof in Pretoria vervoer waar hy herbegrawe is. Volgens gerugte is sy liggaam met ongebluste kalk vernietig. Sy familie het die owerhede versoek om sy graf uit te wys en ’n lykskouing uit te voer. Na korrespondensie en aanvanklike weiering is toestemming tien maande later gegee en sy lyk is op 27 Oktober 1915 vir ’n tweede keer opgegrawe. Toe sy vriende en familie by die begraafplaas aangekom het, het hulle ontdek dat die graf reeds oop was en dat die kis se deksel verwyder is. Toe die twee kakiekomberse waarin hy begrawe is, oopgesny is, het dit gelyk asof hy net die vorige dag begrawe is. Met die wegtrek van die komberse het ’n stukkie van sy regterkantste kenbaard losgetrek, maar verder was sy liggaam ongeskonde. Sy hemp, waarop die kryt-sirkel van sy hart nog sigbaar was, is oopgeknoop om die wonde te sien. Nie een van die koeëls was egter deur of naby sy hart nie.

Die Laerskool Jopie Fourie in Pretoria is na hom vernoem. In 1979 het Jan Scholtz ’n rolprent oor Jopie se lewe, veral oor die gebeure wat tot sy teregstelling aanleiding gegee het, vervaardig en vrygestel.

Daantjie Badenhorst