20 MAART
GEBEURE
1602 – Stigting van die VOC
Gedurende die 16de eeu het Nederland as ’n sterk handelsmoondheid na vore getree en daarin geslaag om regstreeks met die Ooste met sy speserye en ander kosbare handelsartikels handel te dryf. Ten einde die onderlinge wedywering tussen die tal van handelskompanjies wat so ontstaan het, uit te skakel, het daar in 1602, veral deur bemiddeling van die bekwame staatsman, Johan van Olderbarnevelt, ’n groot verenigde handelsliggaam tot stand gekom – die “Generale Vereenigde Nederlandsche G’octroyeerde Oostindische Compagnie”’ kortweg bekend as die VOC. Die State-Generaal het aan die VOC ’n monopolie verleen om handel te dryf in die gebied vanaf die Kaap die Goeie Hoop ooswaarts tot by die straat van Magellaan. Die hoogste gesag van die VOC het by die Here XVII berus en in die Ooste was daar ’n sentrale bestuur, nl. Die Goewerneur-Generaal en sy Raad van Indië, gesetel in Batavia op die eiland Java. Die VOC het uitgebreide magte besit: hy het oor ’n eie leër, vloot en vestingwerke beskik, amptenare aangestel, verdrae met inheemse vorste gesluit en sy eie munt geslaan. Weens sy strategiese ligging is daar in 1652 aan die Kaap die Goeie Hoop ’n verversingstasie gestig vir die skepe op die lang tog na en van die Ooste. Dit het tot die vestiging van die Christelik-westerse kultuur en ontwikkeling van ’n nuwe blanke volk in die suidpunt van Afrika gelei. Weens die monopolistiese beleid en jag na wins is die kolonies uitgebuit. Aan die Kaap het dit daartoe gelei dat die koloniste hulle tot die veeteelt gewend en geleidelik al hoe dieper die binneland in getrek het. Die Afrikanervolk het ’n volk van boere geword en nie van handelaars nie. Nogtans moet daar nie vergeet word nie dat die VOC verantwoordelik was vir die oorplanting van die Calvinistiese godsdiens, die Nederlandse kultuur en beskawing aan die Kaap.
1751 – Rij Tulbagh volg Hendrik Swellengrebel as goewerneur van die Kaap op
1901 – Anglo-Boereoorlog: Seëls word gedruk
Staatsekretaris FW Reitz gee toestemming aan die posmeester van Pietersburg om seëls te druk.
1921 – Baanbrekersvlug voltooi
Pierre van Ryneveld (later sir) en Christopher Joseph Quinton Brand (later sit) voltooi in ‘n Vickers Vimy-vliegtuig hul baanbrekersvlug van Brooklands in Engeland na Youngsfield by Kaapstad.
1982 – Konserwatiewe Party gestig
Die Konserwatiewe Party onder voorsitterskap van dr. Andries Treurnicht word in Pretoria gestig.
1990 – Tornado tref Welkom
’n Tornado tref Welkom en meer as 800 huisgesinne in Flamingopark, Rheederpark en Riebeeckstad word dakloos gelaat, twee mense sterf en 98 beseer.
GEBOORTES
1873 – Jozua Francois Naudé, onderwyser en predikant († 27 Augustus 1948)
Jozua Francois Naudé is in Middelburg, Kaap, gebore. Na sy opleiding as onderwyser in Kaapstad, gee hy onderwys aan die Goeie Hoopskool in Germiston. Gedurende die Anglo-Boereoorlog is hy veldprediker, veral by genl. Beyers, op wie hy ’n sterk invloed uitoefen. Sy oorlogservarings en belangrike foto’s publiseer hy daarna in sy boek Vechten en Vluchten. Na die oorlog word hy predikant van die NG Kerk en staan in die volgende gemeentes: Roodepoort, Piet Retief en Graaff-Reinet. As skriba van die Transvaalse Sinode, skryf hy die eerste notule in Afrikaans. Hy was ook lid van die Kommissie vir die Afrikaanse Bybelvertaling en het hom van harte aan die bevordering van Afrikaans gewy. As onvermoeide kampvegter vir moedertaalonderwys, het hy in 1918 ’n reuse-aandeel in die stigting van die eerste Afrikaanse laerskool in Transvaal, op Roodepoort, wat vandag sy naam dra, en op Graaff-Reinet het hy die eerste Afrikaansmediumskool in Kaapland, nl. Die Hoër Volkskool (Junie 1920) gestig. Hy was ook die eerste predikant wat Afrikaans van die Kansel in Graaff-Reinet se kerk gebruik het. As kerkman, volksman en onderwysman, was hy ’n baanbreker. Hy is op 27 Augustus 1948 op Graaff-Reinet oorlede.
1894 – Jannie Hofmeyr, adjunkpremier en onderleier van die Verenigde Party († 3 Desember 1948)
Jan Frederik Hendrik (Jannie) Hofmeyr was ’n Suid-Afrikaanse geleerde en politikus. Hoewel hy beskou is as te verlig vir sy tyd, was die algemene opvatting dat genl. Jan Smuts hom uitgesoek het om hom op te volg as leier van die Verenigde Party.
1916 – Ernst van Heerden, skrywer en digter († 30 September 1997)
Ernst van Heerden behoort tot die vooraanstaande Afrikaanse digters. Sy werk sluit vyftien digbundels, een epiese gedig, ’n aantal opstelle, reisdagboeke en outobiografiese werke in. Hoewel hy geen geheim gemaak het van sy seksuele oriëntasie nie, skryf hy eers in sy laaste bundels enkele gedigte met ’n gay strekking.
STERFTES
1912 – Eduard Johan Pieter Jorissen, regter en staatsman (* 10 Junie 1829)
Eduard Johan Pieter Jorissen is in Zwolle, Nederland, gebore. Hy bekwaam hom as doktor in die teologie en publiseer verskeie teologiese werke. Op die inisiatief van pres. Burgers kom hy na Pretoria; hy lê hom toe op die regswetenskap en word in 1876 aangestel as Staatsprokureur van die ZAR. In dieselfde jaar ontwerp hy die Krygswet en die Transvaalse Grondwet van 1877. Hy speel nie net ’n aktiewe rol op die politieke terrein in Transvaal nie, maar ook ten opsigte van muntkonsessies, die verkryging van ’n spoorlyn, ’n eie bankwese en die kodifisering van die wette van Transvaal. Hy was Volksraadslid vir Pretoria en is in 1890 tot strafregter in die Hooggeregshof aangestel. Hy was nie baie bemind onder die Transvalers nie, maar is gerespekteer vir sy waardevolle bydrae in ’n kritieke tydperk in die ZAR se geskiedenis. Straatname in Pretoria en Johannesburg is na hom genoem. In 1970 keer hy permanent na Nederland terug waar hy op 20 Maart 1912 in Scheveningen sterf.
1950 – Daniël Cornelis Boonzaier, kunstenaar en spotprenttekenaar (* 11 November 1865)
Daniël Cornelis Boonzaier, wat op 11 November 1865 op Patatsrivier, distrik Carnarvon, gebore is, is op hierdie dag in Kaapstad oorlede. Boonzaier, wat aanvanklik ’n klerk was, word in 1899 die eerste amptelike spotprenttekenaar in Suid-Afrika verbonde aan ’n koerant, en hy het ’n aktiewe en suksesvolle loopbaan gehad. Hy is verder veral bekend vir sy ondersteuning van kunstenaars soos Wenning en Kottler.
1980 – Gideon Fagan, komponis en dirigent (* 3 November 1904)
Hy is op Somerset-Wes gebore en was die eerste Afrikaner wat ’n professionele dirigent in die buiteland geword het. Met sy terugkeer na Suid-Afrika in 1949, het hy die SAUK se tweede Hoof: Musiek geword (1963–1966). Hy was ook ’n komponis met verskeie Afrikaanse liedere op sy naam. In 1973 en 1976 het hy die Departement van Nasionale Opvoeding se toekenning vir komponiste ontvang.
2014 – Hennie Aucamp, bekroonde skrywer (* 20 Januarie 1934)
Hennie Aucamp was ’n Afrikaanse skrywer en digter wat as die vader van Afrikaanse letterkundige kabaret beskou word.
Hendrik Christoffel Lourens Aucamp het in 1951 aan die Hoërskool Jamestown, waar Jan Rabie ’n tyd lank onderwyser was, gematrikuleer. Vanaf 1952 het hy in Engels, Afrikaans en drama aan die Universiteit van Stellenbosch gestudeer. Hy het sy BA-graad in 1955 behaal, gevolg deur ’n BA-honneursgraad die volgende jaar, ’n Hoër Onderwysdiploma in 1958 en ’n MA-graad met lof in 1958. In 1959 en 1960 het hy met die goue era van teater kennis gemaak en klassieke werke te siene gekry terwyl hy tien maande lank deur Europa getoer het.
Sedert 1964 was hy dosent aan die Universiteit van Stellenbosch, en in 1983 is hy as departementshoof in opvoedkunde aan dié universiteit aangestel. Hy het in 1982 ’n kabarettoer na Nederland en Duitsland onderneem en in 1986 is hy as medeprofessor en hoof van die departement Afrikaans aan die Universiteit van Stellenbosch aangestel. Toe hy in 1993 afgetree het, het hy hom voltyds aan skryfwerk gewy.
Hy het op ’n jong ouderdom begin skryf en sy eerste gedigte is in die tydskrif 𝘋𝘪𝘦 𝘫𝘰𝘯𝘨𝘴𝘱𝘢𝘯 gepubliseer toe hy net elf jaar oud was. Toe hy in matriek was, het 𝘋𝘪𝘦 𝘏𝘶𝘪𝘴𝘨𝘦𝘯𝘰𝘰𝘵 vir die eerste keer ’n verhaal van hom gepubliseer. Hy het dagboek begin hou toe hy veertien jaar oud was, en uittreksels daarvan is in verskeie bundels gepubliseer. Hy het egter bekendheid verwerf vir die Afrikaanse kabarette wat hy geskryf het, aangesien dit as ’n verwaarloosde medium in Afrikaans beskou is.
In 1994 het hy erelidmaatskap van die Afrikaanse Skrywerskring op Stellenbosch ontvang en in dieselfde jaar is ’n huldigingsprogram vir hom op Stellenbosch gehou uit erkenning vir sy bydrae tot Afrikaanse kabaret. Tien jaar later het hy ’n Fleur du Cap-toekenning ontvang vir sy lewenslange bydrae tot teater.
Hy is op 20 Maart 2014 in die ouderdom van tagtig jaar oorlede.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.