DC BOONZAIER (1865-1950)

DC Boonzaier was ’n Suid-Afrikaanse kunstenaar en spotprenttekenaar.

Daniël Cornelis Boonzaier is op 11 November 1865 op Carnarvon in die Noord-Kaap gebore. Hoewel hy arm grootgeword het, het hy daarin geslaag om homself te kwalifiseer. Hy het sy eerste spotprent in 1884 voltooi.

In 1889 het hy uit die staatsdiens bedank om ’n voltydse spotprenttekenaar te word. Sy prente is in verskeie publikasies, onder meer The Cape en The Owl geplaas. In 1903 het hy die eerste permanente spotprenttekenaar van ’n Suid-Afrikaanse koerant, naamlik South African News, geword.

Toe Die Burger in 1914 gestig is, was hy dié koerant se spotprenttekenaar totdat TO Honiball hom in 1940 opgevolg het. Onder sy beroemdste skeppings was die miljoenêr Hoggenheimer, as die inkarnasie van die Johannesburgse mynmagnaat, en die bobbejaan Kees, op sy paal wat Suid-Afrika gesimboliseer het.

Hy was ’n mentor vir jonger kunstenaars soos Pieter Wenning, en die skilder Gregoire Boonzaier was sy seun.

Hy is op 20 Maart 1950 in die ouderdom van 84 jaar in Kaapstad oorlede.

Daantjie Badenhorst