
22 DESEMBER
GEBEURE
1838 – Potchefstroom
Potchefstroom (in die aanvangsjare bekend as Mooirivier, Mooirivierdorp of Vryburg) is deur AH Potgieter en sy mede-Trekkers aan die standhoudende Mooirivier aangelê, ongeveer tien kilometer stroom op vanaf die huidige ligging van die dorp. Geen definitiewe dokumentêre getuienis behalwe een, dui daarop dat dit in Desember 1838 moet gewees het nie. Die een noem egter pertinent dat dit op 22 Desember was. Die aanleg het geskied toe Potgieter en sy volgelinge van die Sand-Vetrivier-gebied af noordwaarts oor die Vaalrivier verhuis het. In Desember 1841 is die aanleg na sy huidige ligging verskuif vanweë die moeras, veroorsaak deur oorvloedige reën en die ouklipformasie van die oorspronklike aanleggebied. PF Strydom en landdros JH Grobler, die eerste landdros van Potchefstroom, het die nodige uitmeetwerk van erwe vir die dorp gedoen. Dit was die eerste permanente blanke nedersetting noord van die Vaalrivier en tot in 1860 die hoofstad van die Boererepubliek in Transvaal. Hier is ook die eerste gemeente, die Nederduitsch Hervormde Kerk, in 1841 gestig.
1880 – Anglo-Boereoorlog: Beleg van Pretoria
In die Transvaalse Vryheidsoorlog het die Britse beleg van Pretoria op hierdie dag begin maar dit was van korte duur – net sowat drie maande. In hierdie tyd het die vasgekeerdes in Pretoria heelwat lief en leed verduur, hoewel die leed blykbaar nooit eintlik van die heel ernstigste was nie. In die Britse kamp in Schoemanstraat het byvoorbeeld ’n vlooiplaag uitgebreek tot groot ontsteltenis en ongerief van die vroue en kinders.
1922 – Die SA Munt in Pretoria is opgerig
GEBOORTES
1942 – Barrie Bierman, argitek († 29 Maart 1991)
1942 – De Villiers Lamprecht, atleet († 2 Desember 2024)
De Villiers Bester Lamprecht was ’n Suid-Afrikaanse atleet en die eerste Suid-Afrikaner wat daarin kon slaag om ’n droommyl af te lê. Hy was ook ’n kaalvoethardloper, soos Zola Budd. Lamprecht was ’n emeritus-hoogleraar aan die Universiteit van die Vrystaat.
STERFTES
2022 – Piet Visagie, Springbok-losskakel (* 16 April 1943)
Piet Visagie was ’n Suid-Afrikaanse rugbyspeler. Visagie, wat in die dorp Reivilo grootgeword het, was ’n mynwerker by Beeshoek en het vir die plaaslike Ammosal-rugbyklub gespeel. Hy het Griekwas in provinsiale rugby verteenwoordig en was ’n sleutellid van die 1970 Curriebeker-wenspan.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.