23 SEPTEMBER

GEBEURE

1914 – Afrikanerrebellie

By generaal Christiaan de Wet se vergadering op Koppies word die regering skerp gekritiseer oor die beoogde veldtog in Duitswes-Afrika.

Generaal Jan Smuts stuur ’n telegram aan generaal Manie Maritz waarin hy hom vra of hy ’n sterk mag van Kakamas na Schuitdrift aan die Oranjerivier kan laat optrek, asook ’n mag van Upington na die grens tussen Suid-Afrika en Duitswes-Afrika in die rigting van Ukamas. Dit kan uitloop op samewerking met generaal Lukin se magte tydens hulle beoogde opmars na Warmbad in die suide van Duitswes-Afrika. Daar is geen melding in die telegram dat Maritz net vrywilligers moes gebruik nie. Louis Botha verklaar later dat Smuts hierdie telegram bloot gestuur het om vas te stel hoe Maritz gaan reageer.

1983 – Gerrie Coetzee van Suid-Afrika word die eerste swaargewig bokskampioen uit Afrika

GEBOORTES

1869 – Christiaan Frederik (CF) Beyers, Boeregeneraal, prokureur, en leier in die Maritz-rebellie van 1914 († 8 Desember 1914)

Christiaan Frederik Beyers is op hierdie dag op Banhoek, Stellenbosch, gebore en het ook skool- en tersiêre onderrig op Stellenbosch ondergaan voordat hy met sy eie prokureurspraktyk op Boksburg begin het. As kryger in die Anglo-Boereoorlog van 1899 tot 1902 trek hy met sy onverskrokkenheid en kragtige persoonlikheid gou die aandag van kmdt-genl Louis Botha en word hy op 3 September 1900 as assistent-generaal in die distrikte Waterberg en Soutpansberg aangestel. Hy onderskei hom in die querrilla-taktiek. Beyers was ’n opregte Christen na wie die volk opgesien het, veral in 1914. Hulle het gewag om te sien wat hy gaan doen en hom dan gevolg, ’n groot leier in eie reg. Op 15 April 1902 word hy met die oog op vredesamesprekinge na Vereeniging ontbied, Beyers word tot voorsitter van die vergadering van Boere-afgevaardigdes verkies. Ná die oorlog keer hy terug na sy regspraktyk, dié keer in Pretoria. Hy word lid van die hoofkomitee van die Het-Volk-party, maar neem standpunt in teen genl. Louis Botha en Jan Smuts se versoeningsbeleid. Genl. Botha neem hom nie in sy Transvaalse kabinet op nie, maar hy word tot Speaker van die Wetgewende Vergadering verkies. Met die Uniewording is hy weer Volksraadslid, en bly hy dit tot 1 Julie 1912 toe hy die eerste kommandant-generaal van die pas gestigte Unie-Verdedigingsmag word. Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in 1914 is genl. Beyers gekant teen die regeringsbesluit om op versoek van die Britse regering Duits-Suidwes-Afrika binne te val, en dit lei tot sy bedanking as kommandant-generaal op 15 September 1914. Hy het self op 9 Oktober daadwerklik begin rebelleer, hoewel hy vroeër in noue voeling met die rebelle was – hy het genl. Koos de la Rey vergesel op die rit waarop genl. De la Rey in Langlaagte, Johannesburg, deur die polisie doodgeskiet is. Beyers se rebellemag het verskeie terugslae ervaar, en in ’n omsingelingsaksie deur die regeringsmagte by die Vaalrivier in die distrik Makwassie was gevangeneming onafwendbaar. Hy en een van sy manne, Jan Pieterse, probeer op 8 Desember 1914 deur die rivier vlug. Jan Pieterse, ’n Vrystater van Bothaville, verdrink waarna die generaal na die Vrystaatse kant terugswem. Nadat ds. Boshoff namens die rebelle die teken van oorgawe aangedui het, het die skietery opgehou. Tog, toe genl. Beyers uit die water wou klim, het daar verraderlik nog ’n skoot geval en hy het plotseling weggesink om nie weer lewend te verskyn nie. Hy is egter klaarblyklik nie raakgeskiet nie, want na ’n deeglike lykskouing het dr. Grünberger verklaar dat die generaal nie getref was nie. Sy lyk is eers twee dae later onder die vloedwaters van die Vaalrivier gevind … en uit sy bandelier het nie ’n enkele patroon ontbreek nie, want hy kon dit nie regkry om op sy volksgenote te skiet nie. Genl. Beyers was ’n groot Christen-Afrikaner, na wie die Afrikaners opgesien het, veral in 1914. Hulle het gewag om te sien wat hy gaan doen, en hom dan gevolg.

1924 – Olga Kirsch, digter († 5 Junie 1997)

Olga Kirsch was ’n digteres. Naas Elisabeth Eybers, is sy die tweede vroulike Afrikaanse digteres. Sy maak grootliks van haar Joodse afkoms en ervarings gebruik as inspirasie vir haar digkuns. Kirsch emigreer in die 1940’s na Israel, en dig 24 jaar lank nie in Afrikaans nie. Eers na ’n besoek aan Suid-Afrika verbreek sy in die 1970’s haar stilte en begin weer in Afrikaans dig.

1928 – Fanus Rautenbach, radio-omroeper, skrywer en mediapersoonlikheid († 29 Januarie 2011)

Fanus Rautenbach, ook bekend as Umfaanus, was ’n bekende radio-omroeper, skrywer en mediapersoonlikheid. Hy het ’n ARTES-toekenning en verskeie ATKV-toekennings ontvang en is in 2007 as RSG se radiolegende van die voorafgaande 70 jaar aangewys. Hy het ook onder die skuilnaam Mot geskryf.

STERFTES

1838 – Gerhardus Marthinus (Gerrit) Maritz, Voortrekkerleier (* 1 Maart 1797)

Gert Maritz was ’n vername Voortrekkerpionier en -leier. Gerrit Maritz was een van die belangrikste leiersfigure van die Groot Trek. Na die moord op Piet Retief en die neerlaag by Italeni, het hy die leiding in Natal waargeneem en grootliks daartoe bygedra dat die Groot Trek nie in Natal doodgeloop het nie.

1972 – Prof. Robert Karel Jozef Emiel (Rob) Antonissen, literator, hoogleraar en viserektor (* 23 Mei 1919)

Robert Karel Jozef Emiel Antonissen is op 23 Mei 1919 in Antwerpen gebore. Hierdie Vlaming van geboorte promoveer in 1942 aan die Universiteit van Leuven. Terwyl hy nog in België woonagtig is, skryf hy die belangrike Afrikaanse literatuurgeskiedenis Schets van den ontwikkelingsgang der Zuid-Afrikaansche Letterkunde (1946), wat hy – nadat hy hom in 1950 as dosent en later as professor in Afrikaans-Nederlands op Grahamstad gevestig het – herskryf en uitgee onder die titel Die Afrikaanse letterkunde van aanvang tot hede (derde uitgawe 1965, tweede druk 1973). Hierdie nugtere en skerpsinnige kritikus en kenner van die Afrikaanse letterkunde se belangrikste studies verskyn in die bundels Kern en tooi (1936) en Spitsberaad (1966). Die Gustav Preller-prys vir Literatuurwetenskap en Letterkundige kritiek word in 1973 postuum aan hom toegeken.

1980 – Jacobus Johannes (Jim) Fouché, politikus en tweede Staatspresident van Suid-Afrika (1968–1975) (* 6 Junie 1898)

Jim Fouché is op Wepener, Vrystaat gebore. Hy ontvang sy skoolopleiding op Rouxville en aan Grey Kollege en later aan die Hoër Jongenskool in die Paarl. Hy studeer verder aan die Universiteit van Stellenbosch. Gedurende die droogte van 1933 beywer hy hom vir ’n hulpskema vir die boere, en na samesprekings met genl. Hertzog en minister Havenga, word die Boerebystandswet deur die Parlement geloods. In 1933 voer Jim Fouché sy eerste benoemingstryd vir die provinsiale setel Smithfield. In 1941 verslaan hy mnr. K Pansegrouw, kandidaat van die Afrikanerparty, in die kiesafdeling Smithfield met 797 stemme. Vanaf Januarie 1951 tot Desember 1959 beklee hy die pos as Administrateur van die Vrystaat. Hy bedank in Desember 1959 om die portefeulje van Verdediging in die Verwoerd-kabinet te aanvaar. Die portefeulje Landou-Tegniese Dienste en Waterwese word op 5 April 1966 aan hom opgedra. In 1965 is hy eenparig as leier van die Nasionale Party in die Vrystaat verkies. Op 1 Februarie 1968 word hy verkies tot tweede Staatspresident van die Republiek van Suid-Afrika. Hy beklee hierdie amp totdat hy in 1975 deur dr. N Diederichs opgevolg word.

2007 – Dr. Jan van Elfen, skrywer van mediese boeke onder andere Dokter in die huis (* 29 Desember 1929)

Dr. Jan van Heerden was ’n skrywer van mediese boeke wat onder die naam Jan van Elfen sy boeke gepubliseer het. Sy vrou se naam is Elfabie, Elf genoem en dit is waarop sy skryfnaam gebaseer is. Hy is op die plaas Geluk in die distrik Middelburg, Kaap gebore.

2012 – Corrie Sanders, bokser (* 7 Januarie 1966)

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Langner, Danie & Raath, Andries. 2014. Die Afrikanerrebellie 1914-1915. Pretoria: Kraal Uitgewers.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/