24 MAART

GEBEURE

1842 – Nederlandse skip verhaas Britse anneksasie van Natal

Die onafhanklike republiek wat die Voortrekkers in Natal gestig het, het kortstondig bestaan. Pas nadat die militêre mag van die Zoeloes gebreek was, het die Trekkers hulle in ’n stryd met Brittanje bevind wat die aanwesigheid van die Boere in Natal nie wou duld nie. Na aanvanklike welslae moes die Trekkers, onder aanvoering van Andries Pretorius die stryd ter verdediging van hul staat gewonne gee. Op 15 Julie 1842 het die Trekkers hulle aan Britse gesag onderwerp. By sommige het die hoop egter geleef dat hul Nederlandse stamland ’n beskermende hand na hulle sou uitsteek. Gerugte van Nederlandse bemoeienis het ontstaan nadat die skip Brazilia op 24 Maart 1842 in Port Natal aangekom het. Aan boord was ene JA Smellekamp wat die Trekkers goedgesind was en verwagtinge van Nederlandse ingryping by hulle gewek het. Hierdie gerugte het egter juis Brittanje sneller laat optree. Terwyl hy tevore wars van uitbreiding was, is die anneksasie van Natal eensklaps goedgekeur en het die goewerneur sir George Napier Natal op 12 Mei 1842 by wyse van proklamasie tot Britse kolonie verklaar. ’n Maand later, op 9 Junie, het Henry Cloete, wat as kommissaris in Natal benoem is, die proklamasie van 12 Mei op ’n byeenkoms van 400-500 Trekkers in Pietermaritzburg uiteengesit. Dit was ’n bra stormagtige byeenkoms. Weens weerstand onder ’n groep Trekkers het dit tot 8 Augustus 1842 gesloer voordat die Volksraad die proklamasie van 12 Mei aanvaar het. Vergeefs die bloed wat aan Trekkerkant vir onafhanklike bestaan gestort is.

1901 – Anglo-Boereoorlog: Geveg by Wildfontein, Ventersdorp, Transvaal

 

GEBOORTES

1855 – Olive Schreiner, skrywer, pasifis, feminis en intellektuele († 11 Desember 1920)

Olive Emilie Albertina Schreiner is by die sendingstasie Wittebergen, Herschel, gebore. Hierdie mooi en briljante vrou en beroemde skryfster het in haar beste politieke pamflet, An English South African’s view of the situation, aan die vooraand van die Anglo-Boereoorlog elke Britse soldaat gewaarsku: “Hier wag geen louere vir jou nie,” en aan Brittanje profeties dat “die uur van uiterlike welslae die uur van onherroeplike mislukking kan wees.” Sy is oorlede op 11 Desember 1920, in Wynberg, Kaap.

1929 – Christo Coetzee, skilder († 12 November 2000)

Christo Coetzee was ’n Suid-Afrikaanse skilder, ’n assemblage- en neobarokkunstenaar en ’n belangrike verteenwoordiger van die avantgarde-bewegings van Europa en Japan gedurende die 1950’s en 1960’s. Hy ontwikkel sy oeuvre onder die invloed van kunsteoretikus Michel Tapié, kunshandelaar Rodolphe Stadler, kunsversamelaar en fotograaf Anthony Denney, en die Gutai-groep van Japan. Ander kunstenaars wat veral sterk deur Tapié se Un Art Autre (1952) beïnvloed is, sluit in Georges Mathieu, Wols, Jean Dubuffet, Jean Fautrier, Hans Hartung, Pierre Soulages, Antoni Tàpies, en Lucio Fontana.

 

STERFTES

1823 – Johannes Casparus Lotter (* 1768)

Johannes Casparus Lotter (gebore 1768) was ’n lid van ’n bekende familie van silwersmede aan die Kaap. Onder die groot aantal sierlike en waardevolle silwervoorwerpe wat hy nagelaat het, is onder andere twee nagmaalbekers in die Groot Kerk, Kaapstad. Dit is sulke kunstenaars wat die Afrikaners se estetiese gevoel bevestig en gevoed het.

2000Bles Bridges, sanger (* 22 Julie 1947)

Bles Bridges was die eerste sanger wat die Sun City Superbowl twee keer in agtereenvolgende dae kon volmaak. Lawrence John Gabriel Bridges is op 22 Julie 1946 gebore en het in 1984 groot sukses met sy Afrikaanse weergawe van Foster and Allen se treffer “Maggie” gehad. Die een suksesvolle album na die ander het gevolg, en sy gewildheid het verder toegeneem met die uitreiking van sy eerste Engelse album I’m the eagle, you’re the wind in 1986. Op 24 Maart 2000, drie dae nadat hy “The first kiss goodnight”, ’n duet saam met Patricia Lewis, opgneem het, is hy naby Bloemhof in Noordwes in ’n motorongeluk oorlede.

2010Hermien Dommisse, aktrise en regisseur (* 27 Oktober 1915)

Hermien Dommisse was ’n aktrise, regisseuse, skryfster en kampvegter vir Suid-Afrikaanse teater. Sy was ook by die destydse Transvaalse Raad vir die Uitvoerende Kunste betrokke.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/