DE WET LAAT DIE BURGERS MOED SKEP

Die burgers het by tye dapper weerstand gebied, veral by die Slag van Driefontein (ongeveer 60 km wes van Bloemfontein) op 10 Maart 1900, waar genl. De la Rey die bevelvoerder was. Maar lord Roberts het Bloemfontein op 13 Maart 1900 ongehinderd binnegetrek. In die oorwegend Engelse hoofstad het die stemming sterk pro-Brits geraak. Toe Roberts se troepe die stad nader, het die burgemeester, dr. BO Kellner, landdros HD Papenfus, balju NPC Raaf en JG Fraser, ’n Volksraadslid en oom van mev. Tibbie Steyn, vir Roberts tegemoetgery en die sleutels van die stadsaal aan hom gegee as blyk van volle oorgawe. Afrikaners, Hollanders en ander pro-Boerse buitelanders was bitter oor die Engelse stadsgenote wat vroeër gespog het met die modelrepubliek; ook bitter omdat die regering wat nie teen die vyandelike elemente opgetree het nie. Pres. Steyn en sy regering, onder wie talle Engelssprekendes, veral Skotte, het op 12 Maart na Kroonstad vertrek. Die burgers was gedemoraliseer. Maar De Wet (hoofkommandant ná Cronjé se oorgawe) het gemeen dat as hy sy burgers ’n ruskans gee, hulle tot verhaal gaan kom en voortveg. Hy het die offisiere dus gevra om die manskappe af te dank tot 25 Maart. Genl. Piet Joubert was baie ontevrede daaroor. De Wet het aan hom gesê: “U kan nie met onwillige honde ’n haas vang nie. Keer kon ek die burgers nie. U ken die Afrikaner langer as ek, Generaal. Ek kon niks anders doen nie as om hulle af te dank en ’n bietjie verlof gee. Nou is daar kans dat ek my burgers op 25 Maart sal terughê by Sandrivier.” “Ons saak is verlore!” het Joubert geantwoord.

Op 17 Maart het die Boere op Kroonstad ’n krygsraadvergadering van groot betekenis vir die toekoms gehou. Teenwoordig was Kruger en Steyn, Joubert, De la Rey, De Wet en ’n paar ander generaals. Hulle het besluit om die oorlog voort te sit, net van perdekommando’s gebruik te maak en geen waens meer toe te laat nie. So kon die kommando’s groter mobiliteit verkry. ’n Nuwe gees het onder die offisiere posgevat, veral toe Steyn aan die einde die vraag stel: “Sal ons ’n eie volk bly of slawe wees?”

Joubert, wat geruime tyd siek was, is tien dae later, op 27 Maart 1900, oorlede. Hy is opgevolg deur die briljante jong Louis Botha. Hy, De Wet en De la Rey het hierna die vernaamste oorlogsleiers geword. Soos De Wet verwag het, was sy burgers op 25 Maart terug. Kort daarna het hy ’n glorieryke oorwinning behaal oor ’n afdeling Engelse onder genl. RG Broadwood. Hy en sy troepe is ooswaarts gestuur, maar het gevaar geloop om afgesny te word en het besluit om terug te keer na Bloemfontein.

By Sannaspos, sowat 30 km oos van Bloemfontein, het De Wet met 400 man hulle in die vrywel droë loop van Koringspruit ingewag. Die res van sy burgers het Broadwood bestook om hulle in dié rigting te dryf. Toe die eerste Britse kar die spruit deurgaan, het ’n gewapende burger skielik verskyn, langs die drywer gaan sit en beveel om in ’n bepaalde rigting te ry. So is met alle waens en karre gedoen. Ná ’n rukkie het 200 voetsoldate aangekom. Hulle is gevang en ontwapen voordat hulle mooi kon besef wat aangaan. Ook die bemanning van vyf kanonne is gevang. Naderhand het die res van die kolonne onraad gemerk, en moes die burgers begin skiet. Die Britte was verras. Broadwood het ’n derde van sy mag van 1800 man verloor. De Wet se skitterende oorwinning het die burgers nuwe moed gegee en baie wat ná die val van Bloemfontein huis toe is, het weer begin veg.