TIBBIE STEYN (1865-1955)
OM THEUNS SE ONTWIL
Op ’n ysige wintersoggend, 5 Junie 1877, is Tafelberg toe onder die miswolke. By die reling van die Dunrobin Castle staan ’n 12-jarige krulkop met twee potblou oë – Rachel Isabella Fraser. Sy is op pad Skotland toe saam met haar ouers, ds. Colin Fraser en mev. Isabella Steyn van Philippolis. ’n Entjie van haar af staan ’n lang, skraal, blekerige jong man, Theunis Steyn. Hy is op pad Nederland toe om sy regstudie in Leiden te gaan voortsit. Ook aan boord is Paul Kruger en die twee Hollanders, Jorissen en Bok, op pad Engeland toe om te gaan protesteer teen die Britse anneksasie van Transvaal die vorige jaar. Of die liefdesverhaal van Theuns en Tibbie daar begin het, weet ons nie. Maar dit sou ten minste 6 jaar duur voordat hulle mekaar weer ontmoet. Tibbie sou later vertel dat sy in hierdie 6 jaar dikwels gedink en gedroom het oor die jong Bloemfonteinse prokureur wat haar so eindeloos geterg het op die skip.
Die jaar is 1883. Tibbie is ’n leerling aan die Eunice Meisieskool in Bloemfontein en woon in by haar oom, John. Een middag aan die etenstafel merk oom John op dat sy goeie vriend, Marthiens Steyn, se seun teruggekeer het uit Europa en as advokaat begin praktiseer het. Hy huur ’n kantoor in een van oom John se geboue en oom John het hom genooi vir ete die aand. Tibbie trek daardie aand haar mooiste rok aan, stapel haar krulhare bo-op haar kop en wag die ure ongeduldig om. Natuurlik merk haar tante dit op en met grasie bewerk sy dit so dat die twee na ete ’n paar minute alleen in die voorhuis kan wees. Hier vat Theuns Steyn sy kans en vra vir Tibbie vir ’n foto van haarself. Vir die res van sy lewe sou hy daardie foto in sy binnesak saamdra.
In Januarie 1884 kom die rondgaande hof na Philippolis. Dominee Fraser nooi advokaat Steyn na die pastorie. Na ’n maand vra hy die jawoord, maar sê hy: “Ek is nie ’n ryk man nie en ek weet nie of ek jou liefde waardig is nie. Dink daaroor na, oor 6 maande kom ek my antwoord haal.” In Julie van 1884 daag hy weer op Philippolis op. Sy vriend, Thys Badenhorst, het uit Port Elizabeth gekom met ’n fyn goue verloofring waarin 5 klein diamantjies geset is. En daardie ring sou Tibbie vir 70 jaar aan haar linkerhand dra. Die huwelik word eers op 10 Maart 1887 in Philippolis voltrek.
In die netjiese huisie op die hoek van Douglasstraat en Greenstraat in Bloemfontein word vier kinders gebore. Tibbie onthaal haar man se kollegas en vriende. Sy hou die huis aan die kant, maak tuin en help waar sy kan as sy verneem van siekte of teëspoed. Ongemerk gaan die jare verby, so ongemerk dat Tibbie haar eie verrassing skaars kan beteuel toe die verkiesing van Februarie 1896 kom en Theuns gekies word as president van die Vrystaatse Republiek. Die verhuising na die presidentswoning, die opbouende spanning in die land oor die Britse bedreiging en Theuns se werklading rus swaar op haar. In 1898 verloor sy amper haar vyfde kind met die geboorte en vertrek sy vir ’n paar maande na Seepunt om te herstel. Theuns is dwalende. Hy kan nie meer sonder Tibbie klaarkom nie.
Ten spyte van Theuns se pogings om vrede te verseker en Tibbie se besoek aan Lord Milner in Kaapstad namens haar man om te pleit vir vrede, breek die Oorlog in Oktober 1899 uit. Dis net hulle twee in die plaashuis op Onze Rust wanneer die tyding hulle bereik dat die Vrystaat, tesame met die ZAR van Paul Kruger, nou in ’n staat van oorlog met Brittanje verkeer. Terwyl Theuns Steyn vir die eerste keer in sy lewe lyk asof hy nie weet waarheen nie, is dit Tibbie wat begin inpak en regmaak om terug te keer Bloemfontein toe terwyl Theuns gereed maak om op te saal en by die burgers op kommando aan te sluit.
Haar 13de huweliksherdenking is vir Tibbie ’n bitter dag. Bloemfontein word beset en sy word uit die presidensiële woning verdryf met haar kinders. Met ’n perdekar, die leisels stewig in haar fyn handjies gehou, vlug sy uit Bloemfontein met haar kinders. Op Fouriesburg haal die Engelse haar in en plaas haar onder arres. Dis ’n bitter vernedering om soos ’n gevangene na Bloemfontein terug geneem te word onder Britse geleide.
Vir die res van die oorlog sien sy Theuns nie weer nie, en daarom is dit vir haar ’n geweldige skok om te verneem dat hy ernstig siek is en as gevolg van sy siekte totaal verlam geraak het. Nou moet Tibbie voorvat. Sy skryf ’n pleitende brief aan lord Kitchener en soebat dat sy toegelaat mag word om haar man na Europa te bring vir mediese behandeling. Terwyl die kinders in die vernietigde Vrystaat by hulle oupa en ouma agterbly, vertrek Theuns en Tibbie na Nederland aan boord die Carisbrooke Castle. Daar reis hulle van stad na stad en land na land en so ver as wat hulle gaan pleit Tibbie en hou toesprake om hulp vir die mense van haar stukkende land. Dit neem vyf volle jare voordat Theuns weer kan loop en die twee aan boord van die Duitse skip Kronprinz, na Suid-Afrika kan terugkeer. Emily Hobhouse is ook aan boord en tussen die twee vroue ontstaan ’n vriendskap wat vir ewig sou duur.
Op Onze Rust ontvang hulle honderde besoekers. Tibbie korrespondeer met mense wêreldwyd en elke gas word genooi om ’n boodskappie in haar “autograph book” te skryf. Op die eerste bladsy skryf Theuns, nog met bewerige hand, “My vrou, soos ’n helder ster die reisiger in die donkerste nag lei, so is jy my lig op die pad van plig. Jou geloof gee my moed, jou hoop gee my krag, jou sorg gee my lewe en jou liefde is die bron van my geluk.”
In hierdie jare maak Tibbie erns met die opvoeding van die jong Afrikaners. Sy slaag daarin om £30 000 in te samel waarmee sy die Oranje Meisiekool laat bou. En saam met Theuns sit hulle die proses aan die gang om die Nasionale Vrouemonument te bou.
Dwarsdeur hierdie jare versorg sy haar man met immer toenemende kommer oor sy gesondheid. Sy merk op dat spanning sy siektetoestand vererger. Die verdeeldheid in die Suid-Afrikaanse party in 1912, die dood van Koos de la Rey en die teregstelling van Jopie Fourie tref hom hard. Hy ontwikkel hartprobleme en erge borspyne.
Op die 2de Oktober 1916 onthaal hulle vriende op Onze Rust. Theuns is 59 jaar oud en vir die eerste keer in weke voel hy gesond en lewenslustig. Dit is die enigste rede waarom Tibbie nie teëstribbel toe hy genooi word om die Kongres van die Oranje Vrouevereniging op 28 November in Bloemfontein te open nie. Sy weet dit is waar hy op sy gelukkigste is – tussen sy mense. En daardie oggend is hy die ou Theuns, regop en fors met ’n stem wat dra en boodskap van hoop en vertroosting en toekomsverwagting vir sy volk. En toe, meteens, raak hy stil, lig sy regterhand na sy voorkop en sê nog eenmaal haar naam hardop voordat hy op die verhoog ineenstort.
Sy begrawe hom aan die voet van die Nasionale Vrouemonument en trek haarself terug op Onze Rust. 16 jaar later skryf sy: “Daar gaan geen dag verby waarin ek nie na hom verlang nie. Ek dank my Here daagliks dat ons huwelik so geseënd was en die herinneringe aan ons jare saam is daagliks my vertroosting.”
Op Onze Rust word sy besoek deur volksleiers en staatsmanne, gewone mense en vorste. In 1947 besoek koning George VI, koningin Elizabeth en die twee prinsesse haar. Haar dae gaan verby soos kalm waterstrome. 39 jaar nog woon sy daar op haar eie voordat sy op die ouderdom van 89 sterf op 3 Januarie 1955. Die verpleegster wat na haar omsien was op pad om haar waswater te gaan haal toe tant Tibbie saggies sê: “Ek kan nou nie meer wag om hom weer te sien nie.”
Toe die verpleegster terugkom in die kamer, is tant Tibbie reeds na haar Theuns toe …
deur Daniël Lotter