UNIE EN AKADEMIE ERKEN “HOLLANDS”

Die taalbepaling is op 20 September 1909 vasgelê in die South Africa Act/An Act to constitute the Union of South Afric, ’n wet van die Britse Parlement. Artikel 137 van die Uniegrondwet lui dat “both the English and Dutch languages” offisiële tale is. In die amptelike vertaling van die Zuid-Afrika Wet is Hollands die ekwivalent van Dutch. Die Nederlandse vertaling lui soos volg: “De engelse alsmede de hollandse talen zijn officiële talen van de Unie. Zij worden op een voet van gelijkheid behandeld en bezitten en genieten gelijke vrijheid, rechten en voorrechten. Alle akten, verslagen en verrichtingen van ’t Parlement worden in beide talen gehouden en alle wetsontwerpen, wetten en kennisgevingen van algemeen publiek gewicht of belang door de Regering van de Unie uitgegeven, zijn en geschieden in beide talen.

Waarom het daar in die taalartikel Hollands gestaan en nie Nederlands nie? Die woordkeuse was die gevolg van ’n kompromis wat aangegaan is in die stryd oor ’n groot vraag vir Afrikaners. Dit is gestel in die titel van ’n lesing van prof. WJ Viljoen van Stellenbosch in Oktober 1906: “Wat is nu eigenlik onze taal?” Moet Afrikaans of Nederlands die kultuurtaal wees?

Sewentien prominente Afrikaners het op 5 Januarie 1909 in Kaapstad byeengekom ’n paar dae voordat een van die sittings van die Nasionale Konvensie in Kaapstad gehou is. Onder hulle was voorstanders van Afrikaans soos WA Hofmeyr, dr. DF Malan en JHH de Waal, asook vegters vir Nederlands, proff. A Moorrees en WJ Viljoen, adv. FS Malan en dr. GG Cillié. Die betekenis van die benaming Hollands is deeglik bespreek en daar is ooreengekom dat Hollands die regte term is omdat dit sowel Afrikaans as Nederlands insluit.

Uit Steyn se toespraak op die Nasionale Konvensie is dit duidelik dat Hollands vir hom Afrikaans ingesluit het. Hy noem Hollands die taal wat gepraat word “deur verreweg die grootste deel van die blanke bevolking”. Ook: “Dit is die taal van die Voortrekkers.” Soos vir soveel ander mense was Nederlands en Afrikaans as’t ware verskillende vorme van een taal. Die benaming Hollands is indertyd in verskillende betekenisse gebruik: soms daarmee verwys na Nederlands of Hoog-Hollands, soms na Afrikaans en Nederlands soms selfs na Afrikaans. Partykeer is gepraat van Hollandse en Engelse Afrikaners – en daarmee is bedoel Afrikaans- en Engelssprekende Suid-Afrikaners. Die Engelse benaming Dutch vir Afrikaners was nie noodwendig neerhalend bedoel nie.

Pres. Steyn en genl. Hertzog het aan die hand gedoen dat ’n Akademie gestig word om leiding oor taal en kultuur te gee. Hertzog het op die vergadering in 1909 voorgestel – en dis gesekondeer deur Viljoen – dat ’n liggaam vir die bevordering van die “Hollandse taal en lettere” gestig word.

’n Sentrale organisasie vir taalsake is ook die vorige jaar bepleit deur ds. Willem Postma, wat as dr. O’kulis bekend was vir sy pleidooie vir Afrikaans in De Vriend des Volks.

Op ’n byeenkoms in Bloemfontein is De Zuid-Afrikaanse Akademie voor Taal, Letteren en Kunst op 2 Julie 1909 gestig. Sy doel was die bevordering van die “Hollandse Taal en Letteren” en die Suid-Afrikaanse geskiedenis, oudheidkunde en kuns. In die statute is verklaar dat onder Hollands verstaan word “de beide taalvormen gebruikelik in Zuid-Afrika”. Die Akademie het so gehelp om die pro-Afrikaanse en pro-Nederlandse rigtings te versoen. Die geskiedenis van die Akademie word volledig behandel in Draer van ’n droom deur Pieter Kapp.

Op die Nasionale Konvensie was daar verskille oor die vraag of die kolonies ’n federasie of unie moes vorm. Afrikaners was oor die algemeen vir ’n unie. Provinsiale rade sou wel seggenskap hê oor onderwys, hospitale, paaie en munisipale sake. Oor die hoofstede was daar ’n kompromis. Kaapstad sou die wetgewende, Pretoria die uitvoerende en Bloemfontein die geregtelike hoofstad word. Die wetgewende mag het berus by die Volksraad van 121 en die Senaat van 40 lede. Die uitvoerende gesag het berus by die Goewerneur-generaal-in-Rade, bestaande uit die Goewerneur-generaal as verteenwoordiger van die Britse koning, bygestaan deur die kabinet wat verantwoordelik was aan die Parlement.

Die jare van 1902 tot 1910 was deurslaggewend vir die voortbestaan van die Afrikaners en Afrikaans. Weliswaar het Engels ’n voorsprong geniet, en het sommige Afrikaners verengels. Tog het Afrikaans behoue gebly. Die eerste rede daarvoor is dat die Afrikaners, ondanks die groot getalsverlies deur die oorlog, nog ’n betreklik hoë geboortesyfer gehad het. Ten tweede was Afrikaners in die stede dikwels in bepaalde (arm) buurte gekonsentreer, wat verengelsing teëgegaan het. Vir die behoud van Afrikaans was dit noodsaaklik, maar nie voldoende nie. Wat verder nodig was, was die dryfkrag van ’n taalgerigte Afrikanernasionalisme wat kon meeding met die kragtige taalgerigte Engelse nasionalisme. In hierdie opsig was politieke mag ’n doeltreffende middel. ’n Faktor wat Afrikaners en Afrikaans gehelp het pm te oorleef, was dat die Afrikaners, as gevolg van die stemregbepalings (kyk by 30 Augustus), polities ’n belangrike groep was wat gevolglik soms politieke mag kon gebruik om hul taal in stand te hou. Hierdie taalnasionalisme het die deurslag gegee. Die Afrikanerleiers was taalbewus en het legitimiteit onder hul mense geniet. Hul etniese nasionalisme was iets vanselfsprekends. Die Nederlandse betrokkenheid by die taalstryd was deels ’n uiting van Nederlandse nasionalisme. Die Nederlandse organisasies wat hulp verleen het, was van mening dat die Nederlandse taal ’n krag in die bestendiging en uitbreiding van Nederlandse kultuur en invloed kan wees.