FS MALAN (1871-1941)
REGSGELEERDE, JOERNALIS, STAATSMAN
Francois Stephanus Malan, die Suid-Afrikaanse politikus, joernalis en skrywer, is een van die uitstaande figure van die onmiddellike verlede. Hy was by almal in Suid-Afrika bekend en deur almal hooggeag, en verdien ’n allesins waardige plek in ons historiese herinnering.
Hy is in 1871 op Groenfontein, Wellington, gebore en het opgegroei op die plaas Leeuwenjacht, Agter-PaarI. waarheen sy ouers kort na sy geboorte verhuis het. Van sy vader het hy sy eerste onderrig gekry, dog op 15-jarige leeftyd na die Hoërskool te Paarl gegaan, waar hy in 1889 gematrikuleer het.
Vervolgens het hy aan die Universiteit Stellenbosch in 1892 die BA-graad behaal, daarna vir ’n jaar aan Cambridge gestudeer en, na ’n reis in Amerika en Europa, hom in 1895 te Kaapstad as advokaat gevestig. In November van daardie jaar het hy die betrekking aanvaar van redakteur van “Ons Land”, die invloedrykste Afrikaanse tydskrif van sy tyd. In 1897 het hy in die huwelik getree met Johanna Brummer.
Weens sy sterk veroordeling van die Jameson-inval, sy simpstieke houding jeens die Suid-Afrikaanse Republiek en sy vurige optrede vir die Afrikanersaak as lid van die Afrikanerbond, het hy spoedig alom bekend geraak en die vertroue van die Hollandse Afrikaners dwarsdeur Suid-Afrika gewen.
Ook sy vriendskap met mev. Marie Koopmans-de Wet, by wie hy dikwels aan huis gekom het, het daartoe bygedra om hom in aanraking te bring met al die toonaangewende Afrikaners.
Hy was een van die heftigste teenstanders van Brittanje se oorlogspolitiek teen die Republieke, en die organisator van die groot Bondskongres om teen die oorlog te remonstreer, wat in 1899 te Worcester gehou is.
Sy ywer in belang van die Republieke het hom in botsing met die owerheid gebring, en in Desember 1900 is hy, ofskoon ondertussen – in Sept. 1900 – as Parlementslid vir Malmesbury verkies, tot een jaar gevangenisstraf veroordeel weens ’n sekere berig deur hom gepubliseer.
Na die oorlog het hy voortgegaan om te ywer in belang van die verarmde Transvalers en Vrystaters, en in 1906 spesiaal ’n reis na Londen onderneem om aldaar te werk vir die toekenning van verantwoordelike bestuur aan die Vrystaat.
As politikus het hy nou so sterk op die voorgrond gekom dat hy, na die val van die Jameson-regering, deur die goewerneur genader is om die Eerste Ministerskap van die Kaapkolonie te aanvaar. Hy het geweier en is toe in die ministerie opgeneem as Minister van Landbou.
Hy was ’n besonder sterk yweraar vir unifikasie en het dan ook lid van die Nasionale Konvensie geword.
Tot met sy dood op 31 Desember 1941 was hy ’n man van verbasende werkkrag en aktiwiteit. In die Unie-parlement het hy gedien as Minister van Onderwys en Mynwese, en tydens die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918) het hy ook ’n tydlank as Waarnemende Eerste Minister opgetree.
Voorts was hy voorsitter van die Volkebond-unie in die Kaap, voorsitter van die Nasionale Monumentekommissie, lid van die Akademie vir Taal Lettere en Kuns, en lid van verskeie ander kulturele en maatskaplike liggame. Daarby was hy ’n groot kerkman – een van die sterkste steunpilare van die Groote Kerk te Kaapstad, wat hy ook as ouderling gedien het. Hy het hom nie die rus van ’n oudag gegun nie, maar in die tuig gesterwe.
’n Yweraar vir die Afrikanersaak en alle goeie sake
Bron: Aucamp, G. (red.). 1947. Suid-Afrikaanse Heldegalery. Kaapstad: M. Rieck.
