28 DESEMBER

GEBEURE

1850 – Die Heerengracht in Kaapstad is tot Adderleystraat herdoop

1912 – “Mishoop”-vergadering van die Hertzog-waaksaamheidskomitee

Met die samestelling van die eerste Unie-kabinet wou die aangewese premier, genl. Louis Botha, nie graag sy vroeëre medegeneraal van die Anglo-Boereoorlog, genl. JBM Hertzog, insluit nie. Dit was polities egter onvermydelik. Van die begin af het Hertzog, die Afrikaner in Suid-Afrika, en Botha, die konsilialis in Britse skaduwee, die toekomspad gesoek. In 1912 het die politieke bom ná Hertzog se De Wildt-toespraak gebars. Die gevolg was dat hy uit genl. Botha se nuwe Kabinet gelaat is. Maar die getroue Afrikaners het hulle om Hertzog geskaar en hom hulle persoonlike steun, voorbidding en politieke hulp aangebied. Tielman Roos het landwyd ’n volksprotes teen Hertzog se weglating gereël. Ongeveer 5000 Afrikaners het op hierdie dag in Pruisepark, Pretoria, regoor die standbeeld van pres. Paul Kruger, byeengekom. Die platform was ’n hoop verrotte gras wat vir bemesting in die park gebruik sou word. Adv. Roos het as voorsitter opgetree en genl. CR de Wet het as spreker opgetree. Hy het gesê dat hy trots is om daar te wees want die geskiedenis het reeds bewys dat geen volk verhoog sal word voordat hulle verneder is nie, “… daarom wil ek mij liever op een mesthoop onder mijn volk bevinden, dan op een schitterend platform onder vreemdelingen.” Daarna het die skare na Hertzog se woning gegaan, hom op ’n tafel gelig en toegejuig. Volksliedere is gesing en Hertzog is na sy toespraak waarin hy die slagspreuk “Zuid-Afrika eerste” vir die eerste keer uitroep, skouerhoog sy woning ingedra. ’n Waaksaamheidskomitee het hierna sake verder gevoer – dit was die begin van ’n politiek-kulturele Afrikaner-gebondenheid wat op elke lewensterrein Afrikanerheil bevorder het.

 

GEBOORTES

1880C Louis Leipoldt, joernalis, skrywer en digter († 12 April 1947)

Christiaan Frederik Louis Leipoldt is op 28 Desember 1880 op Worcester gebore. Hy was sowel digter as skrywer, joernalis en geneesheer. Afgesien van sy boek, Kos vir die Kenner het hy verskeie literêre werke in Afrikaans en Engels geskryf. Onder die bekendstes is Oom Gert vertel en ander gedigte, Dingaansdag, Die Bergtragedie en Skoonheidstroos. Vir laasgenoemde werk is hy bekroon met die Hertzogprys vir poësie in 1934. In 1944 is die Hertzogprys vir drama aan hom toegeken vir sy werke Die Heks en Die laaste aand. Saam met Jan FE Celliers en Totius vorm hy die bekende Driemanskap tydens die Tweede Afrikaanse Taalbeweging. Leipoldt is op 12 April 1947 oorlede.

1926Francois Frederik Odendal, taalkundige en leksikograaf († 6 April 2013)

 

STERFTES

1890 – Prof. Dirk Postma, Nederlandse en Suid-Afrikaanse teoloog en grondlegger van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika († 10 Januarie 1818)

Dirk Postma is op hierdie dag in Dokkum, Friesland, gebore uit die huwelik van Pieter Pieters Postma en Lolkje Arjens Boekhout. Die gesin het die Gereformeerde geloof van harte liefgehad en vreemd gestaan teen die opkomende liberalisme en modernisme ná die Franse Revolusie. Hy kon weinig skoolgaan en moes reeds op 15-jarige ouderdom as loodgieterskneg sy weduwee-moeder help onderhou. In dieselfde jaar verskyn die geskrif Verdediging van de ware Gereformeerde leer … van ds. Hendrik de Kock in Ulrum, wat lei tot die kerklike Afskeiding van 1834 en die stigting van die Christelike Gereformeerde Kerk van Nederland. Die Postma-gesin het ook met die protes teen die gees van die 19de eeu meegegaan. Hierdie mense wou buig onder die algehele gesag van die Bybel en die Belydenis van die Hervorming in die 16de eeu onverswak handhaaf. Terwyl die Nederlandse Regering die Afskeiding hardhandig onderdruk het, het Postma die roeping gevoel om predikant te word. Ná een jaar studie by die huis van die Semitikus, ds. TF de Haan, word hy op 19 Junie 1840 as predikant toegelaat en bekwaam hy hom verder deur selfstudie. Hy het vier gemeentes in Nederland bedien en ’n leidende rol ten opsigte van die opleiding van predikante, die Christelike onderwys en kerklike aktiwiteite gespeel. Die Sinode van 1857 het gevolglik vir ds. Postma, toe ’n wewenaar, afgevaardig om aan die Transvaalse Regering in hulle nood aan predikante en onderwysers hulp namens die Sinode te gaan aanbied en tegelyk ook sendingmoontlikhede te ondersoek. Hy het moeite gedoen om ’n kerklik skeuring te verhoed en het hartlike verhoudinge met die enigste predikant in Transvaal, ds. D van der Hoff, onderhou. Die Algemene Kerkvergadering het hom op 11 Januarie 1859 kragtens die grondwet ondersoek of hy Gereformeerd is en verder oor aan sy standpunt oor die sing van Gesange uitgevra. Postma wou dit aan die vryheid van predikante oorlaat. Die vergadering het die gebruik daarvan egter verpligtend gestel. Postma het hom bereid verklaar om predikant van die te stigte Gereformeerde Kerk op Rustenburg op 11 Februarie 1859 te word. Hy het as enigste predikant tot 1862 uit Rustenburg-kerke in Transvaal, die Vrystaat en Noordoostelike Kaapkolonie bedien. Vanaf 1863 het hy kragdadig aan die onderwys van die jeug en oprigting van skole aandag gegee. Vanaf 1864 het hy begin om aanhuis-uitgesoekte manne, onder andere ’n onderwyser soos Jan Lion Cachet, opleiding as predikante te verskaf. In 1866 het hy met die oog daarop ’n beroep na Burgersdorp aangeneem en saam met Cachet in 1869 die predikante-opleiding aan die pas gestigte Teologiese Skool van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika behartig. Hy het feitlik in die tuig op 28 Desember 1890 gesterf. Postma se groot bydrae was nie beperk tot die opleiding van roepingsbewuste predikante, besiel met liefde vir die gereformeerde geloof nie; hy was ook vurige pleitbesorger vir die regte van Hollands in die Engelse Kaapkolonie. Dit is veelseggend dat die Taalmonument ter herdenking van die verkreë reg om Hollands in die Kaapse Parlement te besig, in Burgersdorp opgerig is. Hy was ook ’n voorstander van plaaslike sending en het in 1870 daarvoor ’n breë beleid uitgewerk. Sy grootste betekenis na buite lê egter in sy onvermoeide ywer en volharding om vrye Christelike skole vir Christelik-nasionale Onderwys op die plase en dorpe op te rig en toe te sien dat daar oortuigde Calviniste en Afrikaners voor die kinders staan. Sodoende het hy ’n bydrae tot die Afrikaanse volkswording en kultuur gelewer wat van onskatbare waarde was.

2003 – Rykie van Reenen, Afrikaanse joernalis (* 31 Desember 1923)

Rykie van Reenen was een van die grootste baanbrekers in die joernalistiek gedurende die tweede helfte van die twintigste eeu.

Sy het haar joernalistieke loopbaan in 1945 by 𝘋𝘪𝘦 𝘉𝘶𝘳𝘨𝘦𝘳 begin en ’n baanbreker vir veral die Afrikaanssprekende vrou in die joernalistiek geword. Hoewel sy haar aanvanklik op vrouesake toegespits het, het sy mettertyd politieke en sosiale kommentaar begin lewer. Sy het veral bekendheid verwerf vir haar bydraes tot die rubriek “Van alle kante”, waarmee sy in die voetspore van CJ Langenhoven volg. In 1965 het sy ’n betrekking by die destyds nuutgestigte Afrikaanse Sondagkoerant 𝘋𝘪𝘦 𝘉𝘦𝘦𝘭𝘥 aanvaar; haar rubriek “Randakker” het eers hierin verskyn en later ook in 𝘙𝘢𝘱𝘱𝘰𝘳𝘵. Tydens die Yom Kippur-oorlog van 1967 het sy naam as oorlogsverslaggewer gemaak. In 1980 is ’n keur van haar rubrieke onder die titel 𝘖𝘱 𝘥𝘪𝘦 𝘳𝘢𝘯𝘥𝘢𝘬𝘬𝘦𝘳 gepubliseer. Nasionale Pers se direksie het haar tot assistentredakteur bevorder; sy was die eerste Suid-Afrikaanse vrou wat so ’n hoë pos in die joernalistiek beklee het.

Sy is op 28 Desember 2003 oorlede, drie dae voordat sy tagtig jaar oud sou word.

2009 – Dirk de Villiers, rolprentmaker en akteur (* 26 Julie 1924)

Dirk de Villiers was ’n Suid-Afrikaanse akteur en ’n rolprentmaker. Hy is een van die Suid-Afrikaanse regisseurs met die langste loopbane en was sowat ses dekades lank voor en agter die kamera werksaam. Hy het 25 vollengte-rolprente en 13 dokumentêre gemaak.

2015 – Christian Johan (Chris) Barnard, skrywer en rolprentmaker (* 15 Julie 1939)

Chris Barnard was ’n Afrikaanse skrywer wat bekendheid verwerf het vir onder meer romans, kortverhale, hoorspele, draaiboeke en televisiedramas.

Christian Johan Barnard het in 1957 aan die Hoërskool Nelspruit gematrikuleer waarna hy aan die Universiteit van Pretoria gaan studeer het. In 1960 het hy sy BA-graad met Afrikaans-Nederlands en Kunsgeskiedenis as hoofvakke behaal. Op universiteit was hy aktief betrokke by die publikasies van die universiteit, hy was redakteur van die joolblad , die literêre jaarblad en die gidsblad vir eerstejaarstudente. Op dramagebied was hy voorsitter van die toneelvereniging en hy was verantwoordelik vir die onderhandelinge om die regte te verkry om Bartho Smit se toneelstuk 𝘋𝘰𝘯 𝘑𝘶𝘢𝘯 𝘰𝘯𝘥𝘦𝘳 𝘥𝘪𝘦 𝘉𝘰𝘦𝘳𝘦, waarin hy ’n rol vertolk het, op te voer. Hy en Smit het mekaar só ontmoet en lewenslank vriende gebly.

Na afloop van sy studies het hy as joernalis by 𝘋𝘪𝘦 𝘝𝘢𝘥𝘦𝘳𝘭𝘢𝘯𝘥 gewerk, eers in Pretoria en daarna in Johannesburg. Onder Bartho Smit se aanmoediging het hy van 1964 tot 1965 in Parys gewoon, en sy hegte vriendskap met Breyten Breytenbach het hom aangemoedig om ernstig te begin skryf. Deur Barnard se bemiddeling het Afrikaanse Pers-boekhandel, waar Smit uitgewer was, Breytenbach se 𝘒𝘢𝘵𝘢𝘴𝘵𝘳𝘰𝘧𝘦𝘴 en 𝘋𝘪𝘦 𝘺𝘴𝘵𝘦𝘳𝘬𝘰𝘦𝘪 𝘮𝘰𝘦𝘵 𝘴𝘸𝘦𝘦𝘵 uitgegee.

Hy het ’n beduidende rol in die tydperk van streng sensuur gespeel en toe André P Brink se 𝘒𝘦𝘯𝘯𝘪𝘴 𝘷𝘢𝘯 𝘥𝘪𝘦 𝘢𝘢𝘯𝘥 in 1974 verbied is, het hy ’n fonds gestig ter verdediging van die boek en sterk bewoorde verklarings oor die aangeleentheid uitgereik. In 1987 is hy verkies as voorsitter van die Afrikaanse Skrywersgilde, maar het die volgende jaar bedank omdat dit te veel met sy skryfwerk ingemeng het.

Barnard, wat met die aktrise en rolprentregisseur Katinka Heyns getroud was, is op 28 Desember 2015 in die ouderdom van 76 jaar aan ’n hartaanval oorlede.

2016 – Judith Mason, Suid-Afrikaanse kunstenaar (* 1938)

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/