DIRK POSTMA (1818-1890)
Ds. Dirk Postma was die eerste predikant van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika en die stigter en eerste hoogleraar van dié kerk se teologiese skool op Burgersdorp in die Oos-Kaap.
Hy is op 10 Januarie 1818 in Dokkum in Friesland gebore en hoewel hy as “Durk” gedoop is, het hy dié Friese spelling ten gunste van die Nederlandse spelling laat vaar. Sy ouers was eenvoudige arbeidsmense wat in behoeftige omstandighede gelewe het. Hy het sy pa op vyfjarige ouderdom verloor en sy ma moes na hom, sy twee broers en sy suster omsien. Die lewe was so swaar en eenvoudig dat hy die skool op vyftienjarige ouderdom verlaat het om as “blikslagersknecht” (assistent van ’n loodgieter) die versorging van sy ma op hom te neem.
Saam met sy ma het hy hom vereenselwig met die kerklike “afscheiding” van lidmate van die Hervormde Kerk in 1834 waardeur die afgeskeidenes in leer, diens en tug teruggekeer het na die belydenisskrifte, liturgie en kerkregering soos vasgestel deur die Sinode van Dordrecht van 1618 en 1619. Die vader van hierdie beweging was ds. Hendrik de Cock, wie se agterkleindogter Anna Böeseken in Suid-Afrika as geskiedskrywer bekendheid verwerf het. Deur Postma se toedoen is De Cock se seun, ds. Helenius de Cock, drie keer na Suid-Afrika beroep maar hy het telkens die beroep bedank. Op 12 Mei 1838 het Postma belydenis van geloof afgelê in die Afgescheiden Christelijk-Gereformeerde Gemeente Wanswerd en deur hierdie verbintenis met die Afskeiding het hy hom met die gereformeerd-konserwatiewe volksdeel in Nederland vereenselwig.
Hy het die roeping om ’n predikant te word, sterk gevoel en by gebrek aan ’n teologiese skool in die vormingsjare van sy kerk het hy sowat ’n jaar lank teologiese opleiding by ds. TF de Haan, wat by hom ’n liefde vir ou tale gekweek het, ontvang. Op 5 Julie 1840 is hy as bedienaar van die Woord in sy eerste gemeente, Minnertsga, bevestig sonder om formele teologiese opleiding te ontvang. Hierna het hy die gemeentes Bedum, Wildervank en Zwolle in Nederland bedien. Hy het vroeg al ’n belangrike aandeel in die vestiging en opbou van die kerklike lewe gehad. As jong man het hy hom as bekwame leier onderskei en vertroue geniet. Hy het hom veral beywer vir Christelike onderwys, vir versoening van botsende partye binne die Christelijke (Afgescheidene) Gereformeerde Kerk en die oprigting van ’n teologiese skool wat in 1854 in Kampen tot stand gekom het.
In die Transvaalse Staatskerk, die Nederduitsch Hervormde Kerk, was daar destyds ’n groot behoefte aan bediening omdat ds. Dirk van der Hoff die enigste voltydse predikant was. Ouderling Van Andel van’s Hertogenbosch het dit in 1857 onder die aandag van die Christelijke Afgesceheidene Gereformeerde Kerk in Leiden gebring. Die sinode het Postma afgevaardig om na Suid-Afrika te reis met die oog daarop om die Transvaalse kerk te help en ’n geopende deur vir die sending te vind. Sy lasbrief het egter ’n wyer opdrag gegee en onder meer bepaal dat hy in die Zuid-Afrikaansche Republiek ondersoek moes gaan instel na die godsdienstige toestand van die stamverwante en geloofsgenote, broederlike betrekkinge met hulle moes aanknoop en in alles moes handel soos wat dit vir hom die nuttigste in die belang van God se koninkryk sou voorkom.
Op 22 Mei 1858 het hy Nederland verlaat en op 9 Julie daardie jaar voet aan wal gesit in Simonstad. Hy het net ’n kort rukkie lank in Kaapstad gebly; hy het daarna na Durban vertrek omdat Transvaal sy eindelike bestemming was. Berig van sy aankoms is aan die Transvaalse owerhede gestuur. Om ’n onverklaarbare rede is die mededeling na die kerkraad van Rustenburg verwys waar ’n groep lidmate van die gemeente wat geweier het om gesange te sing en jare lank ’n stryd gevoer het teen wat hulle as dwaalleringe in die bestaande kerke beskou het, borg gestaan om Postma in Durban te gaan haal. Die owerheid het hulle verlof gegee om hom as predikant te behou op hul eie voorwaardes mits dit nie met die betrokke artikels van die Transvaalse Grondwet sou bots nie.
Om sesuur die oggend van 5 November 1858 het ds. Postma die Vaalrivier iewers in die nabyheid van Standerton oorgegaan in die geselskap van Flip Snyman en Douw Kruger, die broer van die latere president Paul Kruger, wat hom uit Natal gaan haal en hom na die ZAR vergesel het. Laasgenoemde het ’n paar dae tevore te perd vooruit gery om die mense te laat weet dat ds. Postma op pad was. Toe ds. Postma sy voet op Transvaalse grondgebied gesit het, moes hy dadelik preek. Aan huis van ene D Leus het ’n klomp mense bymekaargekom en ds. Postma het sy eerste diens in die land waarheen hy afgevaardig is, gehou. Later dieselfde oggend het hy verder gegaan in die hoop om Potchefstroom teen die Saterdagaand te bereik. Hy het teen daardie aand egter net tot by die plaas Buffeldoorns van Flip Schutte gevorder. Die volgende dag is twee dienste op die plaas gehou. Op Maandag 8 November het ds. Postma en sy geselskap saam met Schutte na Rustenburg vertrek nadat hy gehoor het dat ds. Dirk van der Hoff en pres. MW Pretorius uit Potchefstroom afwesig was. Hy het Rustenburg op 10 November bereik en ’n kamer in ds. Van der Hoff se pastorie betrek.
By sy aankoms in Transvaal het ds. Postma kennis gemaak met die “Doppers”, toe reeds ’n groep met ’n eie identiteit in die Suid-Afrikaanse kerklik-godsdienstige lewe. Postma het sy hulp aan die Transvaalse kerk aangebied, maar die algemene kerkvergadering van die Nederduitsch Hervormde Kerk het die gebruik van gesange verpligtend gemaak. Postma het dit as ’n dwang op sy gewete beskou en daarom was dit vir hom onaanvaarbaar. Die latere president Paul Kruger was een van vyftien mense wat amptelik van die staatskerk afgestig het, en ds. Postma is gevra om sy hulp as leraar aan te bied sodat hulle as vrye Gereformeerde Kerk kon voortbestaan. Dit het daartoe gelei dat die Gereformeerde Kerk op 11 Februarie 1859 gestig is. In die afskeiding het die kerk, soos ds. Postma dit gesien het, uit die “diepgesonke liberalisme” teruggekeer na die ware Gereformeerde standpunt.
Hy het hom op Rustenburg gevestig en die gemeentes in Transvaal, die Oranje-Vrystaat en die Kaapkolonie met groot opoffering bedien. Di. Postma en Van der Hoff was altyd “hoflik en broederlik” teenoor mekaar, ook na die skeuring, wat op “broederlike wyse, sonder haat of twis” plaasgevind het. Nadat die Gereformeerde Kerk gestig is, het dié twee kerke die twee predikante se voorbeelde gevolg en nie met mekaar getwis nie, maak nie saak hoeveel verskille daar was nie. In 1866 het ds. Postma ’n beroep na die gemeente op Burgersdorp in die Oos-Kaap aanvaar. Die gemeente is op 21 Januarie 1860 in ’n winkel se pakhuis gestig omdat daar, weens die teenkanting wat die Doppers moes verduur, geen geskikte saal was waar die gemeente kon vergader nie. Dit was die eerste Gereformeerde gemeente in die Kaapkolonie, maar die teenkanting teen die Doppers was in die distrik van Colesberg so heftig dat hulle hul eie dorp, Philipstown, gestig het. Burgersdorp se gemeente was van sy stigting tot met ds. Postma se aankoms sonder ’n predikant. Hy is juis daarheen beroep met die doel om opleiding aan predikante te gee. Burgersdorp is as meer geskik vir opleiding beskou omdat die meer gevestigde en rustiger politieke omstandighede in die Kaapkolonie daar gegeld het, daar belangstelling van naburige gemeentes was en die lidmate van Burgersdorp en naburige gemeentes meer welvarend en gevestig as in die noorde was. Hulle sou dus geldelik meer tot die stigting van ’n teologiese skool kon bydra. Net ’n jaar nadat die kerk gestig is, is gemeentes in Middelburg (Oos-Kaap) en Colesberg gestig, met Philipstown, Bethulie, Aliwal-Noord, Dordrecht, Barkly-Oos, Steynsburg en Venterstad wat kort daarna gevolg het.
Ds. Postma het hom beywer vir die stigting van die teologiese skool. Die nuttigheid van ’n eie opleidingsinstansie vir predikante is reeds in 1862 op die eerste Gereformeerde sinode beklemtoon. Op die sinode van 1863 op Rustenburg het ds. Postma ’n geskrewe stuk voorgelê waarin hy daarop aangedring het dat die kerk voorsiening moes maak vir die opleiding van predikante. Die sinode het weer nie tot die stigting van ’n teologiese skool oorgegaan nie, maar besluit dat leraars opleiding voorlopig ter hand moes neem en dat die ondersoek voor ’n sinode moes plaasvind. Ds. Postma en ds. Johannes Beyer, wat van 1862 tot 1866 predikant op Reddersburg in die Vrystaat was, het dadelik met die werk begin en tydens die sinode van 1866 op Reddersburg is twee kandidate, naamlik NJR Swart en SD Venter.
Voor die sinode van 1869 op Potchefstroom het ds. Postma ’n kragtige aksie op tou gesit vir die daarstelling van ’n teologiese skool op Burgersdorp. Daar is ook voorgestel dat die bestaande inrigting slegs uitgebrei sal word indien ’n tweede leraar daarheen beroep word op voorwaarde dat die ander gemeentes vir sy traktement sal bydra. Die sinode het die voorstel aanvaar met ds. Postma as die eerste dosent van die teologiese skool, en ds. Jan Lion Cachet, wat as tweede leraar beroep is, as tweede dosent. Die skool is op 29 November 1869 feestelik in die buitegeboue van die pastorie ingewy en die eerste vyf studente is ingeskryf. Dit was slegs tien jaar nadat die NG-kerk se kweekskool op Stellenbosch opgerig het. Di. Postma en Lion Cachet het albei tydens die eerste sewe jaar van die teologiese skool se bestaan as deeltydse lektore opgetree omdat albei voltydse predikante was. Toe die sinode in 1876 besluit het om ’n voltydse professor te benoem, het die keuse op Postma geval, maar hy het homself as onbekwaam geag en daarvoor bedank, maar tog as waarnemende professor opgetree en tog in 1879 ’n benoeming as voltydse professor aanvaar. Eers daarna het sy verbintenis met Burgersdorp tot ’n einde gekom.
Ds. Postma het hom vir Christelike onderwys beywer; in die tyd toe liberalisme Suid-Afrika en die onderwys soos ’n vloedgolf getref het, het hy daarteen gewaarsku. Hy het ervaring gehad van die stryd om Christelike onderwys in Nederland en het in neutrale of sekulêre onderwys ’n vergiftiging van die kindergemoed gesien. Daarom het hy hom beywer vir die oprigting van vrye Christelike skole met die vrywillige beginsel as een van die hoekstene daarvan. Daarmee het hy beklemtoon dat dit die ouers, eerder as die staat, se taak was om kinders op te voed.
Hy was vyf keer getroud en altesaam twintig kinders, waarvan sommige jonk oorlede is, is uit hierdie huwelike gebore. Hy was een van drie predikante wat vyf seuns gehad het wat predikante geword het. Hy is op 28 Desember 1890 in die ouderdom van 72 jaar op Burgersdorp oorlede.
Sy nasate het ’n baie belangrike rol in Suid-Afrika se kultuur- en godsdienslewe gespeel. Die bekende digter Totius was een van sy skoonseuns wat professore aan die Teologiese Skool van die Gereformeerde Kerk geword het. Die dorp Postmasburg in die Noord-Kaap, die Dirk Postma-tehuis vir bejaardes en die Gereformeerde Gekombineerde Skool Dirk Postma in Pretoria dra almal sy naam.
Daantjie Badenhorst