C. LOUIS LEIPOLDT (1880-1947)
C. Louis Leipoldt was ’n Afrikaanse digter, skrywer en dramaturg wat ’n leidende rol in die Tweede Taalbeweging vertolk het.
Christiaan Frederik Louis Leipoldt is op 28 Desember 1880 op Worcester gebore. Sy pa, Christian Friedrich Leipoldt, was ’n Duitse predikant wat op Wupperthal in die Wes-Kaap gebore is, maar in die Duitse stad Bremen skoolgegaan het. Sy ouers is in 1874 getroud en het in 1879 na Suid-Afrika teruggekeer. Omdat al die poste binne die Rynse Sendinggenootskap in daardie tyd gevul was, kon Leipoldt se pa net as hulpprediker in sy skoonpa se gemeente diens verrig, en hoofsaaklik onderwys by die Sendingskool gegee. Tot in sy vierde jaar het die jong Leipoldt daarom op Worcester gewoon. Ten einde ’n pos te kry, het Leipoldt se pa in 1883 na die Calvinistiese geloof oorgegaan. In Junie 1884 het die gesin na Clanwilliam verhuis, waar hy grootgeword het en sy pa leraar van die plaaslike Nederduits-Gereformeerde gemeente geword het. Sy eerste besoek aan Kaapstad was in 1886, toe sy pa ’n sinodesitting bygewoon het, gevolg deur nog ’n besoek in 1890 met die volgende sinodesitting. In 1887 was hy langdurig siek, waarskynlik weens rumatiekkoors; dit het sy hart aangetas en hy moes vir die res van sy lewe sorg dat hy homself nie te veel moes ooreis nie. Sy ma was sieklik en temperamenteel en hy het nooit regtig geborge in sy verhouding met haar gevoel nie. Sy is op 23 November 1903 aan die siektetoestand beri-beri oorlede.
Hoewel daar ’n goeie dorpskool op Clanwilliam was, het Leipoldt tuisonderrig by sy pa en ’n Latynse leraar ontvang. As kind het hy vrye toegang tot sy pa se groot verskeidenheid boeke gehad en hy was vroeg al belese in die Engelse, Nederlandse, Duitse en Franse taal en letterkunde terwyl hy ook kennis van Latyn gehad het en Maleis kon praat. Die nadeel van sy tuisonderrig was dat hy nie goeie opvoeding in rekenkunde of meetkunde gekry het nie en daarom het hy sy lewe lank daarmee gesukkel. Van vroeg af het hy ’n belangstelling in die natuur ontwikkel en as kind het hy reeds met plant- en klipversamelings begin. Hy het sy pa na periodieke sinodesittings in Kaapstad vergesel; tydens die sitting in 1890 het hy kennis gemaak met die skeikundige prof. Daniel Hahn van die Suid-Afrikaanse Kollege. Prof. Hahn het die jong Leipoldt in sy vakgebied onderrig. Verder het Leipoldt met prof. Peter Mac Owen van die herbarium van die regering kennis gemaak. Deur hom het hy dr. Harry Blous in 1895 leer ken, Mac Owen en Bolus het hom aan die plantkunde bekendgestel. In 1895 het hy die plantkundige en reisiger Rudolf Schlechter op Clanwilliam ontmoet en in dieselfde jaar ’n reis deur Namakwaland saam met hom onderneem. Hier het hulle ’n onbekende blomsoort raakgeloop, en Schlechter het dit Asphaltus leipoldtti, na aanleiding van Leipoldt, genoem. In Julie 1897 het Leipoldt sy matriekeksamen aan die University of Cape of Good Hope suksesvol afgelê.
Vanaf Maart 1896 het hy gereeld berigte vir The Cape Argus, The Cape Illustrated Magazine, The Cape Times en De Zuid-Afrikaan begin skryf. Op 24 September 1896 het hy ’n brief onder die skuilnaam Forsythe W. Bancombe in The Cape Times laat publiseer. In hierdie brief het hy gelyke regte vir alle burgers, wit en swart, bepleit; dit het ’n groot polemiek in die koerant veroorsaak. Teen November 1898 het hy sy ouerhuis verlaat en na Kaapstad verhuis om hom vir die staatsdienseksamen, wat hy in Desember 1898 suksesvol afgelê het, voor te berei. Hy het deeltyds verder aan die University of the Cape of Good Hope vir ’n Intermediêre BA-graad gestudeer, maar weens sy probleme met die vereiste wiskunde en rekenkunde kon hy nie die eksamen slaag nie. In hierdie tyd het hy sy vriendskap met Henry Bolus, by wie hy dikwels besoek afgelê het, verstewig. Leipoldt het as junior verslaggewer meegewerk aan De Kolonist, ’n opvolger van Het Dagblad, wat S.J. du Toit in 1896 gestig het. In September 1899 is hy aangestel op die redaksie van die nuut gestigte publikasie The South African News. Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog het hy opgetree as korrespondent van ’n aantal pro-Britse Europese koerante, waaronder Het Nieuws van den Dag in die Nederlandse stad Den Haag, Neueste Nachrichten van Hamburg in Duitsland, Petit Bleu in die Belgiese hoofstad Brussel en Chicago Record en Boston Post in die Verenigde State van Amerika, asook Daily Express en Manchester Guardian in Brittanje. Vir Het Nieuws van den Dag het hy, benewens oorlogsberigte, ook ’n maandelikse reeks bekend as “Brieven uit de Kaapkolonie” geskryf. Hy was van 1900 tot 1901 werksaam as verslaggewer van die Rondgaande Hof wat die Kaapse rebelle moes verhoor en van April 1901 moes hy as waarnemende redakteur van The South African News optree toe die redakteur weens vermeende opruiende artikels teen die Britse regering tot gevangenisstraf gevonnis is. Baie van sy oorlogsverse, wat later in Oom Gert vertel en ander gedigte saamgebundel is, het uit hierdie tyd gedateer; nog voor sy 21ste verjaardag.
In Oktober 1901 is publikasie van The South African News weens krygswet gestaak, en op 25 Januarie 1902 het Leipoldt aan boord van die S.S. Persic na Engeland vertrek. Hier het hy aanvanklik joernalistiek op ’n vryskutbasis vir die Manchester Guardian, vir wie hy oorlogskorrespondent was, gedoen. Hierdie publikasie het hom na Europa gestuur om verslag te doen oor die stakings wat in daardie tyd onder die dokwerkers, lettersetters en diamantslypers in Nederland, België, Spanje en Frankryk geheers het. Sodoende het hy Europa leer ken en daarna nog ’n aantal besoeke namens verskeie koerante afgelê. In Utrecht het hy onderhoude gevoer met dr. Willem Leyds, staatsekretaris van die Zuid-Afrikaansche Republiek, en president Paul Kruger.
Vanaf September 1902 het hy hom by Guy’s Hospital ingeskryf waar hy met die finansiële bystand van mnr. Blous in die geneeskunde studeer het terwyl hy steeds met sy vryskutjoernalistiek vir verskeie koerante en tydskrifte besig was. In 1905 het hy ’n maand lank deur Italië gereis en in die Kerstyd het hy gereeld in Yorkshire deurgebring terwyl hy gedurende vakansies telkens ’n ander deel van Brittanje besoek het. In 1907 het hy Europa weer besoek toe hy ’n mediese kongres in Switserland bygewoon het. Hy het ook tyd in Italië deurgebring.
Reeds in 1905 het hy sy verpligte werk vir sy mediese kursus voltooi en hy was gereed om die eindeksamen af te lê, maar die regulasies het vereis dat hy hom eers na vyf jaar as student vir eksamens kon aanmeld. Vir die volgende twee jaar het hy sy aandag aan spesiale onderwerpe gewy. Hy het ook vir die Londense matriekeksamen ingeskryf maar omdat hy wiskunde twee keer gedruip het, het dit die Engelse kwalifikasie van M.D. buite sy bereik geplaas. Tydens sy studentejare het Leipoldt in 1906 redakteur geword van die Guy’s Hospital Gazette. Dit het daartoe gelei dat sir Henry Burdett hom genader het om die redakteur van sy blad, The Hospital, die grootste mediese tydskrif in die land in daardie tyd, te word. Hy het hierdie posisie met kort onderbrekings tot laat in 1910 beklee en in hierdie hoedanigheid het hy kennis gemaak met verskeie groot hospitale in Europa en die Verenigde State van Amerika.
In Junie 1907 het hy sy studies as geneesheer voltooi en die Licenciate of the Royal College of Physicians en die Membership of the Royal College of Surgeons verwerf. Hy het die goue medaljes, die hoogste toekenning wat ’n student van Guy’s kan ontvang, asook sertifikate in die geneeskunde en chirurgie verwerf. Hy het tot Januarie 1908 ’n aantal maande as ’n huisarts in Guy’s Hospital gewerk; hoewel die aanstelling ’n groot eer was, was daar nie ’n salaris daaraan verbonde nie. Sy verblyf in die hospitaal en sy etes was egter gratis. Hierna het hy ’n rukkie lank as locum tenens vir ’n dokter in New Cross gewerk. In Maart 1908 het hy op ’n studiereis na Europa, geborg deur The Hospital, vertrek op voorwaarde dat hy ’n reeks artikels oor die studiemoontlikhede vir Britse studente in Europa moes skryf. In Oktober 1908 het hy na Londen teruggekeer en die volgende maand het hy die eksamens vir die Fellowship of the Royal College of Surgeons afgelê. Aangesien hy griep onder lede gehad het, kon hy nie hierdie eksamen slaag nie.
Daarna is hy aangestel as persoonlike geneesheer vir die geselskap van die blinde koerantmagnaat Joseph Pulitzer. In Desember 1908 het hy per boot na Amerika vertrek, vanwaar die geselskap in ’n luukse seiljag al langs die kus gevaar het en onder meer in Kuba, Mexiko en Brasilië aangedoen het voordat hulle via die ooskus na Amerika teruggekeer het. Tydens hierdie reis het Leipoldt die geleentheid gekry om stede soos New York, Boston, Washington en Chicago te besigtig. Daarna het hulle na Europa vertrek en op 18 April 1909 in die Portugese hoofstad Lissabon aangekom. Daarna het Leipoldt die geselskap verlaat.
In Mei 1909 het hy die Fellowship of the Royal College of Surgeons behaal, waarna hy weer ’n reis deur Europa onderneem het, hierdie keer saam met mnr. Bolus. Hulle het Italië, Switserland, Duitsland, Nederland en België besoek voordat hulle ses weke later teruggekeer het. Bolus is op 24 Mei 1911 aan ’n hartaanval oorlede; dit was vir Leipoldt ’n groot verlies. Later daardie jaar, op 11 November 1911, is sy pa oorlede terwyl hy op besoek aan Leipoldt se suster was.
In Londen het Leipoldt in ’n knap kok ontwikkel en hoofsaaklik afloswerk in restaurante gedoen. Hy het onder meer in die kombuis van die Franse sjef Augustu Escoffier gewerk en onder sy leiding ’n internasionale diploma in kookkuns behaal. In hierdie hoedanigheid het hy Escoffier selfs per geleentheid na Buckingham-paleis vergesel om vir onthale te kook.
In Januarie 1912 het hy ’n blindedermoperasie ondergaan en ernstige longontsteking, waarskynlik weens ooreising, ontwikkel. Dit het gemaak dat hy as skooldokter moes bedank. Om te herstel, het hy aansoek gedoen om ’n pos as skeepsdokter op die vragskip SS Ulysses. Hy het ’n lang reis na die Ooste onderneem en onder meer die eilande Java, Sumtra en Borneo besoek. Op hierdie reis is hy geboei deur die gedenkteken van die rebel Peter Elberveld naby Batavia, aan wie hy later aandag sou skenk in sy letterkundige oeuvre en verskeie, hoofsaaklik onvoltooide stukke oor hom sou skryf.
In Mei 1912 het hy na Londen teruggekeer en die boek Common sense dietics oor kos en eetgewoontes, asook The school nurse: Her duties and responsibilities, geskryf. In Augustus 1912 het hy sy pos as skooldokter in Hampstead teruggekry; hier het hy die redaksie van die amptelike blad van die vakgenootskap van skooldokters, The School Hygiene, behartig. In 1913 het hy ’n reis deur België saam met ’n groep skoolkinders onderneem.
In April 1914 het Leipoldt na Suid-Afrika teruggekeer en hom in Pretoria gevestig, waar hy aangestel is as hoof van die nuutgestigte Mediese Inspeksie van Skole. Daar was nog nie behoorlike wetgewing en ordonnansies vir hierdie pos nie en aanvanklik moes hy toestemming van elke ouer kry om die kinders te ondersoek. Die armoede onder die plattelandse mense en die ondervoeding wat daarmee gepaard gegaan het, het die liggaamlike en geestelike groei van baie van hierdie kinders benadeel en baie kinders in die Bosveld het aan malaria of bilharzia gely. Toe die Eerste Wêreldoorlog in Augustus 1914 uitgebreek het, is Leipoldt met die rang van kaptein na die Suid-Afrikaanse Leër gesekondeer. In Oktober is hy as genl. Louis Botha se persoonlike arts tydens die veldtog in Duits-Wes-Afrika aangestel. Vir sy rol in hierdie veldtog het Leipoldt ’n eervolle vermelding ontvang in ’n dokument geteken deur sir Winston Churchill in sy hoedanigheid as Staatsekretaris van die Oorlog.
In Junie 1915 het Leipoldt sy werk as mediese skoolinspekteur hervat en in die volgende jaar het hy die eerste handleiding oor skoolgesondheid in Afrikaans, gebaseer op The school nurse maar met Suid-Afrikaanse voorbeelde en gevalle, die lig laat sien. In November 1919 het Leipoldt sy studieskuld aan dr. Bolus finaal afbetaal en ’n huis in Mearsstraat 125 in Sunnyside, wat sy neef Ewald Esselen en sy gesin met hom gedeel het, gekoop.
Van Januarie 1923 was hy as assistent-redakteur verbonde aan Die Volksstem, ’n koerant wat onder redaksie van F.V. Engelenburg die Suid-Afrikaanse Party van genl. Jan Smuts goedgesind was. Kort daarna het hy die gereelde rubriek “Diwagasies van oom Gert” behartig. Hierin het hy die word “diwagasies” as afdwalings of ’n rondlopery met woorde omskryf. Die reguit en eerlike styl waarmee hy verskeie persone en instansies aangedurf het, was kenmerkend van sy rubriek. Met onderbreking in 1925 het hy die rubriek tot 1931 volgehou. Toe Engelenburg in September 1924 as redakteur bedank het, is Gustav Preller as redakteur aangestel. Daar was egter nie ’n goeie verhouding tussen Leipoldt en Preller nie, en op 10 Februarie 1925 het Preller hom laat weet dat sy dienste by die koerant nie verder benodig is nie.
Genl. Smuts was in 1924 bekommerd oor die verlore steun van sy party na die 1922-mynwerkerstaking en hy het Leipoldt, toe reeds ’n bekende volksdigter, genader om hom in die kiesafdeling van Wonderboom-Suid as kandidaat vir die Suid-Afrikaanse Party verkiesbaar te stel. Leipoldt, en Smuts se party, het egter die verkiesing verloor; dit was die eerste en laaste keer wat hy hom met die politiek bemoei het. In 1943 is hy gevra om hom vir die Verenigde Party in die kiesafdeling Worcester verkiesbaar te stel, maar hy het geweier.
In April 1925 het Leipoldt hom permanent in Kaapstad gevestig en twee jaar later het hy ’n dubbelverdiepinghuis in Kenilworth gekoop. Hy het as kinderspesialis gepraktiseer en vanaf 1927 het hy die redaksionele werk van The South African Medical Journal, wat in 1932 ook in Afrikaans as Die Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Geneeskunde gepubliseer is, behartig. Vir Die Huisgenoot het hy die gereelde rubriek “Geneeskundige vrae” onder die skuilnaam Medikus behartig en verskeie verhale en artikels vir hierdie tydskrif bygedra. Hy was van 1927 tot 1939 deeltydse dosent in kindersiektes aan die Universiteit van Kaapstad en het elke Dinsdag en Donderdag praktiese demonstrasies in die Somerset-hospitaal gegee. In 1943 het die Raad van die Mediese Vereniging hom in kennis gestel dat die redakteurspos van die South African Medical Journal aan P.J. de Villiers aangebied is. Leipoldt het ’n brief ontvang waarin sy kontrak gekanselleer en sy dienste beëindig is. Toe De Villiers uit die pos bedank het, is Leipoldt heraangestel. Hy het gunstige terme vir homself beding en tot aan die einde van 1944 in sy pos aangebly.
Aangesien sy inkomste uit sy medies-verwante bedrywighede onvoldoende was, het hy dit met sy skryfwerk aangevul. Benewens “Diwagasies van oom Gert” het hy ’n gereelde rubriek oor kos en kookkuns vir Die Huisgenoot geskryf.
Hoewel Leipoldt nooit getroud was nie, het hy verskeie seuns grootgemaak en hulle die geleentheid gegee om verder te studeer. Sy voogdyskap van seuns, tesame met sy status as ongetroude man, het mense laat bespiegel oor sy seksualiteit, hoewel daar geen bewyse was dat hy homoseksueel was nie. Hy was ’n uiters private mens en daar is geen inligting bekendgemaak oor sy persoonlike intieme verhoudings met enigiemand van beide geslagte nie. Dit is opvallend dat Leipoldt min liefdesgedigte geskryf het; dit is onbekend aan wie een van sy bekendste gedigte, “Wys my die plek”, gerig is.
Hy het reeds as kind begin om gedigte te skryf en in Februarie 1893 het ’n opstel wat hy aan The Boy’s Own Paper gestuur het, ’n eerste prys in sy ouderdomskategorie verwerf. In die Afrikanerletterkunde het hy baanbrekerswerk verrig en as digter het hy die smart van die Afrikaner na die tragiek van die Anglo-Boereoorlog verwoord. Hy het die oë van sy volk vir die natuurprag van sy land oopgemaak en dit in die prag van sy eie taal beskryf. Reeds met sy eerste bundel, Oom Gert vertel en ander gedigte, het Leipoldt groot lof by vooraanstaande kritici ingeoes. Dit was, volgens die kritici, ’n bewys dat Afrikaans op sy eie voete kon staan en ’n eie letterkunde kon ontwikkel.
Leipoldt het nie ’n liefde of aanleg vir musiek gehad nie, maar sy verse was weens die musikaliteit daarvan in Suid-Afrika en Nederland getoonset. Onder die toonsettings van sy gedigte wat trefferliedjies geword het, was “Boggom en Voertsek”, “Siembamba”, “Wys my die plek”, “Oktobermaand”, “Ek sing van die wind”, “’n Handvol gruis”, “Kom gee vir my polvyntjie” en “Al die veld is vrolik”. Hierdie gedigte het almal tydlose status verwerf.
Op 12 April 1947 is hy in Kaapstad weens hartprobleme oorlede en sy as is in die Pakhuis-bergpas naby Clanwilliam begrawe.
Daantjie Badenhorst