VREDE VAN VEREENIGING ’N UUR VOOR MIDDERNAG
Die byeenkoms van Saterdagmôre 31 Mei het in stilte begin. Min mense het gepraat; sommige het gefluister. Twee voorstelle is gedoen: die eerste was om die Britse vredesvoorwaardes te verwerp, die tweede om dit te aanvaar. De Wet het toe gevra dat ’n opdrag aan Smuts en Hertzog gegee word om ’n verklaring op te stel wat die sienswyses van die vergadering saamvat. Intussen moet die Transvalers en die Vrystaters afsonderlik probeer “ooreenkom”. Sy voorstel is aanvaar.
Dié ontwikkeling volg op “iets verhewe” (Kestell) wat die vorige nag gebeur het: ’n gesprek tussen De Wet en ’n paar Transvaalse leiers. Hulle het gemeen dit sou noodlottig wees as die volk op Vereeniging sou skeur. Volgens Kestell het De la Rey en Botha met De Wet gepraat. So kon hulle verdeeldheid verhoed. Daar bestaan volgens ’n historikus, MCE van Schoor, ’n moontlikheid dat Botha en Smuts vir De Wet oorreed het. In ’n latere boek noem Van Schoor Hertzog, Botha, Smuts en De la Rey. Hulle vier en De Wet sou ooreengekom het om die wapens neer te lê, met die verstandhouding dat die stryd hervat word wanneer die geleentheid hom voordoen. (Kyk by 13 Julie vir Smuts se standpunt hieroor ’n jaar tevore.)
Vir die Vrystaters het De Wet die Saterdagmôre tydens die verdaging gesê dat daar geen kans meer was om met die stryd voort te gaan nie, dat hulle nie verdeeld moet wees nie en eenparig die voorstel moes aanneem. Kestell vertel: “Ek het daar die lippe sien bewe van manne wat nooit vir ’n vyand bang was nie. Ek het daar gesien hoe trane opwel in die oë wat droog was toe hulle hul dierbares in die graf weggelê het.”
Op die vergadering in die tent van samekoms is die verklaring van Smuts en Hertzog aan die vergadering voorgelê. Dit het ingehou dat daar geen redelike gronde bestaan om te verwag dat die volk sy onafhanklikheid sou kon behou deur die oorlog voort te sit nie. Onder die omstandighede is dit nie geregverdig om met die oorlog voort te gaan nie “aangesien dit alleen kan strek tot maatskaplike en stoflike ondergang, nie alleen van ons nie, maar ook van ons nageslag”. Die vergadering gee opdrag aan die republikeinse regerings om die voorstelle van die Britse regering te aanvaar. Die voorstel is met 54 stemme teenoor ses aangeneem. Die ses was JJ Alberts, JCG Kemp en JF Naudé van Transvaal en AJ Bester, CCJ Barnard en CA van Niekerk van die Vrystaat. Sober beskryf Kestell en Van Velden as notulehouers die toneel ná die stemming: “Toen het besluit genomen was, waren er niet vele droge oogen in de tent.”
Later die middag is weer vergader. Die aanvaarding van die vredesvoorstelle het nie die gedagte laat ontstaan dat die volk daarmee tot niet gegaan het nie, skryf Kestell. Dit was inderdaad die begin van die nuwe stryd om die voortbestaan van die Afrikaners, nie alleen as individue nie, maar as ’n volk met ’n ander taal as dié wat die veroweraars aan hom wou oplê.
Die aand het die burgers in die groot tent vir ’n godsdienstige samekoms vergader. Genl. CF Beyers, die voorsitter, het sy vriend, kommandant TC Stofberg, gevra om dit waar te neem. Hy het voorgelees uit die slothoofstuk van die Klaagliedere van Jeremia, wat in die Statebybel só begin:
“Gedenk, Heere! wat ons geschied is; aanschouw het en zie onzen smaad aan. Ons erfdeel is tot de vreemdelingen gewend, onze huisen tot de uitlanders.” (In die Afrikaanse 1933-vertaling lui dit só: “Dink Here, wat oor ons gekom het, sien en aanskou ons smaad. Ons erfdeel het na vreemdes oorgegaan, ons huise na uitlanders.”)
Stofberg het vertel dat van die burgers kort-kort opgekyk het terwyl hy lees om te sien of hy nie ’n toespraak hou nie pleks van voor te lees uit die Bybel – so toepaslik was die woorde op hul toestand.
Die aand van 31 Mei, kort voor elfuur, was albei regerings in Pretoria. Met die grootste spoed is hulle na die huis van lord Kitchener vervoer. Hy en Milner het langs mekaar aan die hoof van die tafel gesit. Die Transvalers was waarnemende president SW Burger, staatsekretaris FW Reitz, L Botha, JH de la Rey, JC Krogh en LJ Meyer en die Vrystaters waarnemende president CR de Wet, genl. CH Olivier, regter JBM Hertzog en waarnemende staatsekretaris WCJ Brebner.
Die verdrag was in viervoud op perkament getik: een eksemplaar vir die Koning van Engeland, een vir lord Kitchener, een vir die Pretoriase en een vir die Bloemfonteinse argief. Alles was doodstil toe Burgers die pen in die hand neem. Kestell het op sy horlosie gekyk. Dit was vyf minute oor elf. Na hom het die Transvaalse en daarna die Vrystaatse afgevaardigdes, toe lord Kitchener en die laaste van almal lord Milner geteken.
Die lede van die regerings van die gewese republieke het, asof verbysterd, opgestaan om die vertrek te verlaat. Reitz het na ’n hoek geloop en in trane uitgebars. Voordat hulle kon uitstap, het lord Kitchener van die een na die ander gegaan, elkeen die hand aangebied en gesê: “We are good friends now!” Hulle het in swye sy hand geneem en so gou hulle kon, die saal verlaat.