VOORTSETTING VAN OORLOG IN WEEGSKAAL

Die opskrif hierbo is ook die opskrif van die “hoofberig” van Jackie Grobler se Oorlog-Beeld van 9 Junie 1900. Die eerste twee sinne van die berig, afkomstig van Machadodorp, lui: “Die Transvaalse owerhede was hierdie week op die punt om eerloos aan die Kakies oor te gee, maar president Steyn van die Oranje-Vrystaat het hulle met ’n feitlik dreigende telegram tot hulle sinne laat terugkeer. Dit was nadat president Kruger op 31 Mei aan Steyn getelegrafeer het dat berigte hom bereik het wat daarop dui dat net ’n handjie vol burgers nog gewillig is om die stryd voort te sit.”

Die vernaamste woorde hier is eerloos en dreigend. Kruger en genl. Botha het dit inderdaad sterk oorweeg om vrede te vra en Steyn het beslis skerp gereageer. Hy het geantwoord dat meer as die helfte van die Vrystaatse burgers in die veld is en by Senekal en Lindley mooi oorwinnings behaal het – en nou moes hy verneem dat die Transvaalse offisiere voorstel om op lafhartige wyse die stryd te staak “die wij in den naam des Heeren” begin het.

Steyn het in belang van die hele Afrikanervolk by Kruger daarop aangedring om die stryd voort te sit, en om te protesteer teen die neerlê van wapens omdat dit ’n verbreking van die verbond tussen die republieke sou wees. Daarmee sal die Afrikanersaak die nekslag toegebring word. Op 1 Junie het Transvaalse offisiere krygsraad gehou. Steyn se boodskap het Botha bemoedig, sodat hy besluit het om met die stryd voort te gaan. Ook die dapper kmdt. Danie Theron het ’n prominente rol in die besprekings gespeel en die krygsraad het besluit om met die oorlog te volhard.

Baie manne was gou weer op moedverloor se vlakte. Op die krygsraadsvergaderings van 5 en 7 Junie by Eerste Fabrieke was die moreel net so laag as op 1 Junie. Hier het assistent-veldkornet CF Beyers van Boksburg die swakheid en lafhartigheid van party militêre leiers skerp gekritiseer en strawwe vir hulle geëis.

Daar word in ons tyd soms bedenkinge uitgespreek oor die wysheid van die besluit om te volhard, maar van die grootste Afrikanerdenkers meen die besluit was reg. GD Scholtz skryf dat die onversetlike Steyn deur sy telegramme die eer en die toekoms van die Afrikaanse volk gered het. ’n Lafhartige staking van die stryd in daardie stadium sou vir die toekoms van die Afrikaanse volk noodlottig gewees het. Al moes die Afrikaners verloor, kon hulle en hul nageslag steeds met trots terugkyk na die oorlog. Dit sou vir hulle ’n bron van inspirasie en bemoediging bly. Min het Steyn kon reken, “toe hy sy twee telegramme opgestel het, hoe hy daardeur die toekoms van sy volk ten diepste en ten goede sou beïnvloed.”

Dié mening word gedeel deur genl. JC Smuts. Hy sê dat Steyn se besluit nog twee jaar oorlog ingehou het, die algehele verwoesting van die republieke en geweldige verliese in lewe en eiendom. “Aye, but it meant also that every Boer that was to survive that death struggle, every child to be born in South Africa, was to have a proud self-respect and a more erect carriage before the nations of the world. To the Boer people, easy-loving, easy-going, the supreme choice presented itself between peace or death. The man, who now rises among the Boers as their most heroic figure, chose for them death. And they shall live.”

NP van Wyk Louw skryf daar was goeie argumente vir en teen die oorlogsverklaring. Maar “as ons nie geveg het nie, sou die Afrikaanse volksgevoel van slapheid en feitlik van skaamte gesterf het, want wie behoort dan graag tot ’n volk wat sy nek buig as dit nuttig is om nederig te wees. Maar uit die trots van die driejarige stryd teen ’n wêreldmag is die nuwe Afrikaanse nasionalisme gebore wat nie langer te keer was nie.”