28 JUNIE
GEBEURE
1919 – Suid-Afrika onderteken die Verdrag van Versailles
Die vredesverdrag van Versailles is op hierdie dag deur die oorwonne Duitsland onderteken, en daarmee het die Eerste Wêreldoorlog amptelik tot ’n einde gekom. Die Geallieerde Oorlogsopperraad bestaande uit die Verenigde State, Brittanje, Frankryk en Italië, het Japan as vyfde grootmoondheidslid bygevoeg, en hierdie vyf het die verdrag geformuleer wat ontsettende offers van Duitsland geverg het, onder meer die verlies van 25 000 vierkante myl grondgebied met 6 miljoen inwoners. In verhouding tot militêre krag en oorlogsbydrae is sittings- en stemreg by Versailles in vier groepe verdeel. Die Groot Vyf het vyf stemme gekry; België, Serwië en Brasilië drie stemme; Suid-Afrika met elf ander lande twee stemme, en die res van die 32 oorlogsbetrokke lande net een. Generaals Botha en Smuts het Suid-Afrika verteenwoordig, en genl. Smuts het ’n groot rol gespeel, ten eerste in die grondlegging van die Volkebond en ten tweede in die vestiging van mandate oor verowerde vyandsgebiede, insluitende Suidwes-Afrika as ’n C-mandaatgebied aan die Unie van Suid-Afrika.
1948 – Die Berlynse Lugbrug
Slegs drie jaar nadat die Tweede Wêreldoorlog in Europa beëindig is, het die Westerse lande weer eens voor ’n krisis te staan gekom. Die faktore wat hiertoe aanleiding gegee het, kan teruggevoer word na die vredesvoorwaardes wat op Duitsland afgedwing is. Duitsland is in vier sektore verdeel, en die Sowjet-Unie, Brittanje, die VSA en Frankryk sou elk ’n deel beheer. Die hoofstad van Duitsland, Berlyn, wat in die Russiese sektor geval het, is ook in vier verdeel. Aanvanklik het die Sowjet-Unie alle hulp aan die Westerse moondhede verleen, maar namate die sektore onder die Weste se beheer ekonomies ontwikkel is, het die Sowjet-Unie Berlyn geblokkeer, om sodoende die Weste uit Duitsland te verdryf. Die slagoffers van die besluit was die Berlynse inwoners. Slegs steun van die Weste kon hulle red. Op 28 Junie 1948 besluit die Westerse moondhede om alle moontlike hulp te verskaf en word die Berlynse lugbrug in werking gestel. Kos en voorrade is deur die lugbrug met vliegtuie, verskaf deur Amerika, Engeland, Panama, Alaska, Suid-Afrika, Japan, Hawaii, Guam, Australië en Nieu-Seeland, na Berlyn vervoer. In September 1948 het ’n afdeling van 31 man, onder bevel van maj. DM van der Kaay, uit Suid-Afrika vir deelname aan die lugbrug na Engeland vertrek. Na intensiewe opleiding is hulle op 16 Oktober onderwerp aan die streng program van die Berlynse lugbrug. Vliegtuie het met tussenpose van drie minute in Berlyn geland. Gure weer het die taak geensins vergemaklik nie. Met die sluiting van die lugbrug op 11 Mei 1949, is die Suid-Afrikaners se aandeel aan die unieke lugvaartgeskiedenis in gloedvolle taal deur die Lugbevelvoerder van die Berlynse Lugbrug erken. Ons land se deelname het sterk verband gehou met ons Diets-Europese erfenis, ons anti-Kommunistiese en vryheidsgevoel, en was ’n poging van die jong Afrikanerbewind van dr. DF Malan om in die buiteland goeie gesindheid teenoor ons te skep.
1977 – Die Verenigde Party van Suid-Afrika ontbind
Die Verenigde Party, die belangrikste politieke opposisieparty in Suid-Afrika, is formeel deur die meerderheidsfaksie ontbind nadat lede die party verlaat het om by ander nuwe politieke partye en die regerende Nasionale Party (NP) aan te sluit. Daarna het die hoofgroep besluit om die volgende dag die Nuwe Republiekparty te vorm, met Sir de Villiers Graaff as tussentydse leier.
1995 – Provinsies se name verander
Die name van drie van Suid-Afrika se nege provinsies waarin die land ná die eerste demokratiese verkiesings opgedeel is, het op 28 Junie 1995 weer verander. Die PWV (Pretoria, Witwatersrand en die Vaal) het Gauteng geword wat die Sothowoord is vir plek van goud, Oranje-Vrystaat het Vrystaat geword en Noord-Transvaal is verander na die Noordelike Provinsie. Dié het later Limpopo geword toe gevind is dat ander Afrikalande ook streke het wat noordelike provinsies genoem word en dat dit verwarring by beleggers veroorsaak. Verwoerdburg het op dieselfde dag Centurion geword.
GEBOORTES
1846 – Willem Eduard Bok, Transvaalse staatsekretaris († 1 November 1904)
Willem Eduard Bok is in Texel, Nederland, gebore. In 1876 vestig hy hom in die ZAR op uitnodiging van pres. TF Burgers. Hy vereenselwig hom dadelik met die saak van die Afrikaner en word spoedig aangestel as sekretaris van verskeie Volksraadkommissies. Hy tree ook op as sekretaris tydens die onderhandelinge tussen die ZAR en Theophilus Shepstone in 1877. Na die anneksasie van die ZAR dien hy as sekretaris van albei deputasies na Engeland (1977 en 1878) en tree in die tyd ook op as onderredakteur van De Volkstem, in welke hoedanigheid hy die saak van die Boere ernstig bepleit. In 1880 word hy as Staatsekretaris van die ZAR beëdig en beklee die amp tot 1889, waarna hy notulehouer van die Uitvoerende Raad word. Van 1892 tot die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog dien hy as regeringskommissaris in die gesondheidskomitee van Johannesburg. Na ’n lang en getroue diens aan die staat is hy op 1 November 1904 oorlede. Ter nagedagtenis is Boksburg na hom genoem.
1910 – Susan Strijdom, vrou van JG Strijdom († 20 Februarie 1999)
1952 – Elize Cawood, aktrise († 18 Julie 2020)
Elize Cawood was ’n Suid-Afrikaanse aktrise. Haar bekendste TV-rol is waarskynlik dié van Pop in Verspeelde lente (1984) en op die silwerdoek teenoor Marius Weyers en Peter Sepuma as die ryk Afrikaanse vrou in Taxi to Soweto. Sy was ook te sien in flieks soos Die wonderwerker (2012) en Lien se lankstaanskoene (2012). Cawood het talle pryse vir haar rolle ingepalm, onder andere Beste Aktrise in ’n dramareeks in 1984 en 1985, Beste Vroulike Byspeler in die Vita-, Dalro-, Scenaria- en Artes-toekennings, asook Beste Aktrise in die sepie Villa Rosa in 2007.
STERFTES
2019 – Paul Eilers, akteur, rolprentregisseur en omroeper (* 1945)
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.
https://af.wikipedia.org/wiki/
Frikkie Wallis Facebook