29 MEI

GEBEURE

1500 – Vier skepe sink

Voor die Kaap die Goeie Hoop sink vier skepe van die tweede Portugese Indië Ekspedisie wat deur Pedro Álvares Cabral gelei word. Bartolomeus Dias sterf tydens die voorval.

1619 – Sinode van Dordrecht 1618-1619 afgesluit

Verskeie sinodes is gedurende die 16de eeu in Dordrecht, Nederland, gebou, maar die bekendste is ongetwyfeld die groot sitting van 13 November 1618 – 29 Mei 1619. Dit was van grondliggende betekenis vir die kerke van die Reformasie. Direkte aanleiding was die beroeringe oor die invloed van afwykende beskouinge i.v.m. die leer van die uitverkiesing – bekend as die Remonstrantse standpunt, of die Armeense leer.

Hierdie Sinode het ook die Dordtse Kerkorde sy teenswoordige vorm gegee om as rigsnoer te geld vir ’n gesonde gereformeerde kerkregering. Die Sinode is behalwe deur 37 predikante, 19 ouderlinge en ’n aantal politieke verteenwoordigers, ook deur ’n aantal teoloë uit die buiteland bygewoon – so byvoorbeeld uit Engeland, Duitsland en Switserland.

Na ’n heftige stryd en skerp woordewisselinge tussen die Remonstrante en Nie-Remonstrante, is die bekende Vyf Dordtse Leerreëls opgestel, waarin die Armeense dwaling verwerp en die Skriftuurlike standpunt oor die predestinasie en daarmee enkele samehangende waarhede uiteengesit is. Een van die belangrikste besluite van die Dortse Sinode was dat daar opnuut ’n Bybelvertaling aangepak moes word. Verskeie geleerdes is aangewys om hierdie taak uit te voer. Dit moes ’n nuwe vertaling uit die grondteks wees.
Dit is wenslik geag dat die vertalers op dieselfde plek moet wees, en so is Leiden as geskikste stad aangewys, want twee van die vertalers, Festus Hommius en prof. Walaeus, het reeds daar gewoon. Dit was ’n reusetaak wat jare in beslag sou neem. Immers, daar moes nie net vertaal word nie, maar verklarende aantekeninge moes bygewerk word. Negentien jaar na die besluit tot die vertaling, kon op 17 September 1837 die eerste eksemplaar van die nuwe Bybel aan die Staten-Generaal aangebied word.

Dit was wel nie die eerste Hollandse Bybel nie, maar dit was die eerste wat uit die grondteks vertaal is, en die oorsetting is op ’n voortreflike wyse gedoen – sodanig dat die Statevertaling in eie gesag verwerf het wat uniek is ten opsigte van vertalings van die Bybel. Selfs buite Nederland het die Statebybel hoë waardering ontvang, en dit is bv. met hierdie Bybel wat Van Riebeeck 15 jaar later in Tafelbaai aangekom het.
Die betekenis van hierdie Bybel en sy invloed vir ons voorgeslag kan moeilik oorskat word.

Algemeen word ook toegestem dat die Statebybel die grondslag van die Afrikaanse volkslewe gevorm en die fondamentstene van die sielelewe van die volk gelê het. Met die opkoms van ons eie taal, het die behoefte aan ’n Bybelvertaling in die Afrikaanse taal ook gegroei, en pleitbesorgers het plek gemaak vir eerste vertalers. Na vertalings en proefuitgawes, is die groot taak van die vertaling van die Bybel in ons eie taal in 1932 voltooi.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Pres. Kruger se regering verskuif na Machadodorp

1900 – Anglo-Boereoorlog: Die Slag van Doornkop begin

1900 – Anglo-Boereoorlog: Genl. Louis Botha besoek Johannesburg

Genl. Louis Botha wat die leier van die Boere in Transvaal was tydens die Anglo-Boereoorlog, het Johannesburg op 29 Mei 1900 besoek waar hy die inwoners gevra het om nie die goudmyne te verwoes nie. Dit was twee dae voor die Britse besetting van Johannesburg en daar was ’n sterk gevoel onder die burgers en sommige lede in die regering om die goudmyne op te blaas wat as die oorsaak van die oorlog beskou is, omdat hulle dit vergelyk met die afbrand van Moskou deur die Russe om Napoleon te stuit. Opdragte was reeds aan sekere amptenare van die departement van myne uitgereik om voorbereidings te tref om die myne te verwoes. Voor die oorgawe van Johannesburg, het die plan op die lappe gekom en is dit afgeweer. Die selfaangestelde generaal Kock is in hegtenis geneem en sy volgelinge wat die myne sou opblaas, het uiteengespat.

1902 – Anglo-Boereoorlog: Pres. MT Steyn bedank

Pres. MT Steyn, te swak om sy tent te verlaat, bedank weens swak gesondheid en genl. CR de Wet word in Vereeniging as vredesonderhandelaar in sy plek aangestel.

1910 – Eerste kabinet van Unie van Suid-Afrika

Die eerste kabinet van die Unie van Suid-Afrika word saamgestel met genl. Louis Botha as Eerste Minister.

1933 – Die eerste besending Afrikaanse Bybels kom in Kaapstad aan

In Suid-Afrika was Nederland sedert 1652 die taal van die kerk. Met Uniewording in 1910 het Nederlands en Engels die amptelike tale van Suid-Afrika geword. Om Nederlands dus met Afrikaans as kerktaal te vervang en om die Bybel in Afrikaans te vertaal, sou baie gevestigde gebruike omvergewerp moes word.

Die Bybelgenootskap (South African Bible Society) is op 23 Augustus 1820 in Kaapstad gestig as ’n tak van die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap (BBBG). Op 1 November 1965 word die Bybelgenootskap van Suid-Afrika ’n outonome organisasie en word bestuur volgens die Bybelgenootskapwet (Wet 15 van 1970).

Arnoldus Pannevis was die eerste persoon wat in 1872 pleit dat die Bybel in Afrikaans vertaal word. CP Hoogenhout en ds. SJ du Toit wend pogings aan om gedeeltes van die Bybel uit Nederlands te vertaal, maar weens teenkanting uit alle oorde, is dit gestaak. Deur die volgehoue bemoeienis van die lede van die Eerste Taalbeweging vorder Afrikaans as omgangstaal.

’n Groot deurbraak is in 1912 gemaak toe ds. WJ Conradie se Afrikaanse Kinderbybel, Bybelgeskiedenis vir ons volk, gepubliseer is. Sedert 1914 is Afrikaans ook op skool in die Transvaal, Vrystaat en Kaapland gebruik en met die publikasies in Afrikaans tydens die Tweede Taalbeweging, raak die gedagte van Afrikaans as kerktaal meer aanvaarbaar. Afrikaans se status neem toe met stigting van die Zuid Afrikaanse Akademie voor Taal, Letteren en Kunst op 18 September 1915. ’n Verdere hupstoot vir die Bybelvertaling in Afrikaans kom toe die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap in 1917 goedkeuring verleen aan die besluit om die Bybel in Afrikaans te vertaal en onderneem om die koste vir die vertaling en drukkoste te dra.

In 1923 het ’n kommissie bestaande uit proff. JD du Toit, JD Kestell, EE van Rooyen, BB Keet en dr. HCM Fourie begin om die Bybel regstreeks uit die oorspronklike Hebreeus en Grieks in Afrikaans te vertaal. Op 29 Mei 1933 het die eerste besending van 10 000 Afrikaanse Bybels met die Carnarvon Castle uit Londen in Kaapstad aangekom, en op 27 Augustus 1933 is die Bybel in Afrikaans deur die drie Afrikaanse Kerke amptelik in gebruik geneem.

 

GEBOORTES

1829 – Ds. Gottlieb Wilhelm Anthonie van der Lingen, stigter van die Paarl Gimnasium († 7 November 1869)

Gottlieb Wilhelm Antonij van der Lingen is op 29 Mei 1804 in Kaapstad gebore. Na sy teologiese studie in Nederland keer hy in 1832 terug, nadat hy aanvanklik in China sendingwerk wou gaan doen. Hy word predikant van die NG gemeente Paarl, waar hy 38 jaar lank – tot sy dood – diens doen. Hy was in baie opsigte ’n eksentrieke mens, maar ongetwyfeld besonder beginselvas, en het hom as taal- en kultuurleier onderskei. Hy was nie net prediker nie, maar ook volksman, en het ’n groot rol in die onderwys gespeel. Nadat daar in 1857, veral as gevolg van sy ywer, besluit is om in die Paarl ’n middelbare skool onder toesig van die Kerk te stig, is in 1858 met die eerste klasse begin. Dit was sy beleid dat hierdie skool, wat die Gimnasium genoem is, slegs Hollands as medium van onderwys sou hê. Hierdie skool bestaan vandag nog. In sy tyd was hy een van die mees belese Afrikaners en het hy ’n boekery besit van meer as 4000 boekdele. Hy was ook gemoeid met die oprigting van twee tydskrifte, onder meer in 1849 Die Gereformeerde Kerkbode (vandag Die Kerkbode), waarvoor hy na bewering die eerste artikel geskryf het. Hy sterf op 65-jarige ouderdom en word langs die bekende Strooidakkerk in die Paarl begrawe. Van hom het AWJ Pretorius, ’n tydgenoot, geskryf dat hy “een ware Africaan” is.

1935 – André Philippus Brink, skrywer en professor in letterkunde († 6 Februarie 2015)

André P Brink was ’n wêreldbekende skrywer en ’n professor in letterkunde. Hy het in Afrikaans en Engels geskryf en sy werk is in minstens 20 tale vertaal. Saam met o.a. Breyten Breytenbach word hy as lid van die letterkundebeweging die Destigers beskou. Hy het ook onder die skuilname Adrienne du Toit en Chris van Lille geskryf.

 

STERFTES

2014 – Stefans Grové, klassieke komponis (* 23 Julie 1922)

Stefans Grové was ’n klassieke komponis. Hy word deur baie as een van Afrika se grootste komponiste beskou.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/