LANGENHOVEN VEG TEEN NEDERLANDS

Die man wat gesorg het dat Afrikaans ’n onderwystaal word, is die skrywer CJ Langenhoven, gebore 1873. Reeds as jong student het hy geen toekoms vir Nederlands gesien nie, en die voorkeur aan Afrikaans gegee. Hy het egter geen toekoms vir Afrikaans as skryftaal verwag nie, en was derhalwe van mening dat Engels die oorwinning sou behaal. Hy was ’n bewonderaar van die Britse Ryk en het nie veel erg gehad aan die saak van die Vrystaat en Transvaal nie. Wat begin het om ’n kentering by hom teweeg te bring, was die verhore van Kaapse rebelle. Hierdie mense moes in ’n uitsluitlik Engelstalige hof verhoor word, en hul getuienis aflê met behulp van ’n tolk wat hul Afrikaans dikwels in verdraaide vorm in Engels oorgedra het. Wanneer hy in die hof gewys het op die foutiewe vertalings, het die voorsittende beampte hom gewaarsku omdat dit ’n beëdigde tolk was en dat sy woord as finaal aanvaar is. Daarom het Langenhoven hom ook aan die militêre howe onttrek. “Hy het sy lewe lank ’n sterk gevoel vir reg en geregtigheid gehad en was dus reeds vroeg bewus van die diepgaande onreg wat sy mense as gevolg van die taalsituasie moes ly”, skryf sy biograaf, JC Kannemeyer.

Aan die taalbeweging het Langenhoven nie deelgeneem nie, en tot die taalstryd toegetree op ’n manier wat baie Afrikaners vererg het. So het hy in 1910 sy steun toegesê aan Engelssprekendes in Bloemfontein wat ontevrede was met genl. Hertzog se beleid van gelyke behandeling van Engels en Hollands in die skole. Hy het aan die Britsgesinde Bloemfontein Post gesê hy voel “bitterly ashamed of the policy of the leaders of my fellow Africanders in the Free State”.

Dit het uit die debat wat gevolg het hierop en ’n artikel in The State geblyk dat Langenhoven sterk teen Nederlands as kultuurtaal vir die Afrikaners gekant was. Dit moes Afrikaans wees. Hy het in ’n pamflet, Padlangers en zonder doekjes, die kern van sy betoog in hoofletters laat druk: DIE GEVAAR IS DAT DEUR DIE HOOG HOLLANDSCH ONS AFRIKAANSCH ZAL TEN GRONDE GAAN MET HOLLANDSCH EN AL. “Hoe lank sal ons blij hink op twee gedagtes?”, vra hy op 15 Augustus 1911 in Ons Land. “Als Nederlands ons taal is, waarom praat ons hom nie? Als Afrikaans ons taal is, waarom skrijf ons hom nie? Is die één te hoog om te praat en die ander te laag om te skrijf?”

Langenhoven kon voordeel trek uit die politieke spanning tussen Botha en Hertzog. Die redakteur van Het Zuid-Westen, een van die koerante op Langenhoven se dorp Oudtshoorn, was JH Malan en hy was Hertzog simpatiekgesind. Die direksie was Bothagesind, het van Malan ontslae geraak en Langenhoven in 1912 as redakteur aangestel. “En van toe af het die land gedreun – want die nuut-herbore ‘Zuidwesten’ was spoedig wyd en syd bekend as ’n blad met ’n lewende persoonlike siel daarin – van toe af het die land weergalm van Afrikaans-propagandakrete soos nooit tevore gehoor was nie,” het Langenhoven later geskryf. “Met die ‘Zuid-Westen’ had ek my wapen in die hande gekry, en my hart en siel was in die stryd.”

Langenhoven het aanvanklik ik geskryf en nie ek nie, en soos party ander koerante gebruik gemaak van verlede tydsvorme soos maakte, plaasvond, skreef neer, weigerde. Later het hy verklaar dat dit in ’n tyd van “malligheid” was.