C.J. LANGENHOVEN (1873-1932)
Langenhoven was ’n Afrikaanse regsgeleerde, koerantredakteur, skrywer, digter, volksraadslid en dramaturg, wat die woorde vir Suid-Afrika se voormalige nasionale lied geskryf het en ’n groot rol gespeel het in die erkenning van Afrikaans as amptelike taal.
Cornelius Jacob Langenhoven is op 13 Augustus 1873 op die plaas Hoeko naby Ladismith in die Wes-Kaap gebore. Een van sy broers, asook sy suster, is jonk oorlede en behalwe vir hom het net een broer volwassenheid bereik. Hy het sy skoolloopbaan aanvanklik in Engels ontvang, eers by ’n aantal goewernantes en, na 1883, by die nuutgestigte plaasskool op Hoeko, waar die Nederlandse meester Marthinus Petrus Bloemkolk hom onderrig het. Vanaf 1888 het hy by die dorpskool op Ladismith skoolgegaan en in Junie 1890 het hy eerste gekom in die Hoërskooleksamen van die destydse Kaapkolonie. In 1982 het hy aan die Riversdal Public School for Boys gematrikuleer en is derde op die merietelys van die Kaapkolonie geplaas. Op skool het hy ’n liefde vir Latynse prosa ontwikkel; dit sou hom later in sy lewe goed te pas kom. Hy het ’n skooldebatsvereniging gestig en hy was redakteur van die weeklikse skoolblad, wat hy onder die naam The Pursuit of Knowledge begin het. In 1892 het hy belydenis van geloof by die NG Kerk op Ladismith afgelê maar lank met sy geloofsekerheid geworstel. In 1893 het hy die onderwyseres Helena de Vries tydens ’n debatsaand op Ladismith ontmoet en in 1894 het hulle verloof geraak.
Hy het van die begin van 1893 af aan die Victoria-Kollege, later die Universiteit van Stellenbosch, gestudeer, maar omdat daar nie ’n regsfakulteit was nie, het hy eers in ’n BA-rigting studeer waarna hy deur middel van selfstandige studie of aan die South African College in Kaapstad as prokureursklerk sou kwalifiseer. Hy het die universiteitslewe vervelig gevind; daarom het hy die hele 1894 op die plaas gebly en selfstandig gestudeer aangesien dit destyds onnodig was om klasse by te woon om eksamens af te lê. Sy besluit was ook versterk deur sy begeerte om al hoe meer tyd saam met Helena deur te bring. Hy is aanvanklik ingeskryf vir Engels, Nederlands, Latyn, Grieks , logika en sielkunde maar hy het nie eksamen in Grieks of sielkunde geskryf nie. Hy het besef dat hy leiding nodig gehad het en daarom het hy die volgende jaar na die kampus teruggekeer. Hy het sy BA-graad in Junie 1895 behaal. Op universiteit het hy ’n aktiewe aandeel aan die debatsvereniging gehad. In 1893 het hy as eerstejaarstudent ’n toespraak gelewer met die titel: “What shall be the future language of South Africa?” Hy het aangedui dat Engels na sy mening die taalstryd sou wen, dat daar geen toekoms vir Nederlands was nie en dat Afrikaans op daardie tydstip nie die vermoë vir intellektuele opvoeding gebied het nie, omdat dit geen letterkunde gehad het nie en die woordeskat beperk was.
Vanaf 8 Julie 1895 was Langenhoven ’n onderwyser by ’n eenmanskooltjie op die plaas Langlaagte in die distrik van Heidelberg, Transvaal. Sy termyn as hoof van dié skooltjie was nie ’n sukses nie en daarom het hy na Hoeko teruggekeer. Nadat hy ’n tyd lank op die familieplaas gewoon het, het hy hom in Ladismith gevestig en aanvanklik privaat onderwys gegee. Sy verlowing aan Helena de Vries is verbreek kort nadat hy uit Transvaal teruggekeer het. Daarna het hy by Anna van Velden gaan kuier; hy het vir haar privaat klasse gegee om haar met haar skoolwerk te help en op haar ma Lenie, wat ’n weduwee was en tien jaar ouer as hy was, verlief geraak. Hulle is op 23 Februarie 1897 op Ladismith getroud. Sy het reeds vier kinders, drie dogters en ’n seun, uit haar vorige huwelik gehad. Hulle het aanvanklik by Lenie se huis gewoon maar die verhouding tussen Langenhoven en sy stiefkinders, wat by hulle inwoon, het versleg as gevolg van sy drinkery en ingrypende politieke verskille.
Van einde 1896 tot 1899 het hy as kandidaatprokureur by die firma C.W. Johnson op Ladismith ingeskryf en in Junie 1899 het hy sy LLB-graad met privaat studie aan die University of the Cape of Good Hope verwerf. Hy was daarna gekwalifiseerd om as prokureur en advokaat te werk. Op 17 Augustus 1899 is hy op die prokureursrol geplaas en hy het as vennoot in die kantoor van J.A. Foster in Oudtshoorn gewerk. Hy het aanvanklik alleen na Oudtshoorn vertrek, maar op 18 Oktober 1899, ’n week nadat die Anglo-Boereoorlog uitgebreek het, het sy vrou en stiefkinders hulle by hom aangesluit en hulle het in ’n huurhuis in Hoopstraat gewoon. Die verhouding tussen Langenhoven en Foster het nie uitgewerk nie en Langenhoven het na twee jaar as prokureur besluit om as advokaat in Kaapstad te praktiseer. Op 15 Augustus 1901 is hy as advokaat toegelaat in Kaapstad, ’n beroep wat hy tot 13 November 1902 sonder veel sukses beoefen het. Met sy vertrek was sy vrou swanger en daarom het sy in Oudtshoorn agtergebly. Hy het hom van einde Oktober 1901 tot Januarie 1902 by haar aangesluit om met die bevalling te help; hul enigste dogter, Margarita Rachel Engela, is op 22 Desember 1901 gebore.
In Kaapstad het Langenhoven reeds begin om alkohol oormatig te gebruik; dit het hom vir die res van sy lewe gekniehalter en in die tyd van sy verwydering van sy vrou het dit groot spanning in hul huwelik veroorsaak. Na Engela se geboorte het hy weer na Kaapstad teruggekeer, en weer eens weinig sukses behaal. In Junie 1902 het hy na Oudtshoorn teruggekeer om een saak te behartig en in Augustus 1902 het hy vir ’n laaste keer na Kaapstad teruggekeer. Teen November 1902 was hy terug op Oudtshoorn, waar hy weer in Foster se kantoor as prokureur gewerk het en bekendheid verwerf het op die gebied van watergeskille. Verder het hy algemene sake wat gewoonlik op ’n plattelandse prokureur se pad gekom het, gehanteer, onder meer testamente en erfenisse, boedelprobleme, koop- en huurkontrakte, asook enkele gevalle van bedrog, diefstal, egskeiding en naamskending. Hulle het aanvanklik ’n huis gehuur, maar in Junie 1903 het sy vrou die huis waar hy vir die res van sy lewe sou woon en waaraan hy die naam Arbeidsgenot gegee het, gekoop. Vanaf einde Maart 1912 was hy nie meer voltyds in die regspraktyk nie, maar tot 1918 het hy nog enkele sake van tyd tot tyd behartig. Sy stiefdogter Anna van Velden het hom bygestaan in sy kantoor in Kerkstraat en later het Alan Pocock, wat met sy stiefdogter Bessie getroud was, hom as kandidaatprokureur by Foster ingeskryf. Langenhoven was tot 1928 ingeskryf as prokureur maar daarna het die Wetsgenootskap van die Kaap die Goeie Hoop versoek dat sy lidmaatskap beëindig moes word aangesien hy onaktief in die regswese was.
Hy het aanvanklik vermaaklike verhale en gedigte in Engels geskryf en sommige daarvan is gepubliseer. Hy het hom egter ook met debatsverenigings bemoei en vroeg reeds vir hierdie verenigings ’n aantal samesprake in Afrikaans gelewer. In 1910 het hy ’n artikel onder die titel “The problem of a dual language in South Africa” geskryf, waarin hy, ten spyte van sy klaarblyklike sterk gevoel vir Afrikaans, gesê het dat hy Engels eerder as Nederlands as die uiteindelike taal van Suid-Afrika gesien het. Die Engelse het hierdie artikel met geesdrif ontvang en die reaksie van die Nederlandse dagblaaie het hom genoop om in April of Mei 1910 sterk standpunt ten gunste van Afrikaans in te neem, omdat hy veral negatief was oor die moontlikheid dat Nederlands die taalstryd sou wen. Hierdie nuwe ingesteldheid en standpunt het uiting gevind in artikels wat in Ons land, De Volkstem en Die Brandwag verskyn het. Op 1 April 1912 het hy die redakteur geword van Het Zuid-Westen, ’n Oudtshoornse dagblad wat hy die volgende drie jaar, benewens artikels oor aktuele sake, ook as podium vir sy opvattings oor Afrikaans gebruik het. Vanaf September 1912 was Sarah Goldblatt sy assistent, met wie hy lewenslank ’n besonder hegte verhouding gehad het. Sy het sy vertroueling, sy klankbord en sy minnares geword en as kuratrise van sy literêre nalatenskap het sy die Langenhoven-legende tot met haar dood in 1975 met geesdrif en toewyding aan die gang gehou. Die ineenstorting van die volstruisveremark aan die begin van 1914 het die omgewing van Oudtshoorn nadelig geraak en op 9 Januarie 1915 is Het Zuid-Westen gedwing om sy deure finaal te sluit. Dit het ’n einde aan Langenhoven se joernalistieke loopbaan gemaak, hoewel hy steeds onder die naam Sagmoedige Neelsie politieke artikels vir Die Burger sou skryf. Vanaf April 1922 het hy die weeklikse rubriek “Aan stille waters” behartig; hierdie rubrieke is later in twee bundels gepubliseer. Vanaf die sluiting van Het Zuid-Westen het Langenhoven ’n bestaan deur sy inkomste as politikus en skrywer gevoer.
In ’n brief aan Het Zuid-Westen van 19 Januarie 1914 het Langenhoven ’n sterk pleidooi gelewer dat daar ’n nuwe lid vir Oudtshoorn in die komende Provinsiale Raadsverkiesing verkies moes word en hy het homself as kandidaat voorgestel. Die wyse waarop hy hom as kandidaat vir die Provinsiale Raad verkiesbaar gestel het, was nie net uiters ongewoon nie, maar uniek in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse politiek. Die ontevredenheid van kiesers met die sittende lid, die feit dat almal moeg was vir die outoritêre optrede van die administrateur, sir Frederic de Waal en die raadslede se vrees om hom teen te gaan, het alles in Langenhoven se guns getel. Langenhoven se potensiële kiesers het geweet dat hy nie op hom sou laat trap nie. Op die nominasiedag, 2 Maart 1914, is Langenhoven voorgestel as kandidaat van die Provinsiale Raad as lid van die Suid-Afrikaanse Party van generaals Louis Botha en Jan Smuts. Aangesien daar geen verdere benoemings was nie, is hy onbestrede verkies. Op 23 April 1914 het hy ’n mosie in die Provinsiale Raad geloods ingevolge waarvan Afrikaans as voertaal tot en met standerd vier in die Kaaplandse skole erken word. Hierdie mosie is sonder enige teenstem aanvaar; Afrikaans is in 1917 in die hele laerskool ingevoer en in 1920 ook in die hoërskool.
In 1913 het hy lid geword van die Zuid-Afrikaansche Akademie voor Taal, Letteren en Kunst en in Julie 1914 het hy ’n drieledige voorstel aan die Akademievereniging in Bloemfontein gemaak. Hy het onder meer voorgestel dat die Akademie sy goedkeuring aan onderwys in Afrikaans moes gee, hulp moes verleen met die verskaffing van leermiddels in Afrikaans en ’n spellingkommissie moes aanstel om spelling in Afrikaans te standaardiseer. Hy het by hierdie geleentheid ook sy belangwekkende toespraak onder die titel “Afrikaans as voertaal” gelewer; dit is later met spellingswysigings in Ons weg deur die wêreld opgeneem, asook in Pleidooie in belang van Afrikaans deel II deur P.J. Nienaber. Hierdie toespraak was ’n hoogtepunt in sy pleidooie vir Afrikaans en dis opvallend hoe hy telkens die abstrakte en die konkrete, teorie en praktyk, uitspraak en voorbeeld met mekaar afgewissel het en sy standpunt by herhaling aan die hand van illustrasies uit die eg-Afrikaanse werklikheid aan die toehoorder oorgedra het. Langenhoven is hier verkies as lid van die eerste spellingkommissie maar sy geografiese verwydering van die res van die kommissie het gemaak dat hy nie in 1915 herkies is nie.
Toe Botha en Smuts tydens die Eerste Wêreldoorlog besluit het om Duitswes-Afrika (vandag Namibië) binne te val en die rebel Jopie Fourie tereggestel is, het Langenhoven die politieke rigting van die nuutgestigte Nasionale Party met generaal J.B.M. Hertzog as leier ondersteun en sy alliansie na hierdie party verander. Hy het in 1915 ’n tak van hierdie party in Oudtshoorn gestig en was die eerste voorsitter daarvan. Hy is gou opgeneem in die hoofbestuur van die Nasionale Party in Kaapland en van 1929 tot met sy dood was hy die voorsitter terwyl hy van die begin af lid van die Federale Raad was. In 1915 het hy hom vir die Volksraad verkiesbaar gestel in die kiesafdeling van Oudtshoorn; hy is aangewys as die Nasionale Party se kandidaat maar hy het die verkiesing in Oktober 1915 met 281 stemme teen die kandidaat van die Suid-Afrikaanse Party verloor. In 1917 het hy egter die verkiesing vir die Provinsiale Raad in Oudtshoorn gewen en in Junie van daardie jaar is hy tot die Uitvoerende Komitee van die Raad verkies. Die latere kabinetsminister S.P. le Roux het sy waardering uitgespreek vir Langenhoven se politieke uitsprake. Langenhoven het die peetpa van Le Roux se seun, die skrywer Etienne Leroux, geword. In 1920 het hy die Volksraadslid van Oudtshoorn geword toe hy die setel met ’n meerderheid van 225 stemme verower het. Langenhoven se vriend, S.P. le Roux se vrees is egter bewaarheid; Le Roux was bang dat Langenhoven nie die nodige geduld aan die dag kon lê as hy nie in die koukus sy sin kon kry nie. Langenhoven was ongelukkig in die Volksraad en het gefrustreerd geraak as sy oogmerke nie gou genoeg bereik kon word nie. Kort na die verkiesing het hy op Ladismith aan Le Roux gesê dat hy terug na die Provinsiale Raad wou gaan en dat Le Roux homself in Langenhoven se plek vir die Volksraad verkiesbaar moes stel. Le Roux het egter geweier.
In Februarie 1921 het Langenhoven die setel verloor nadat Smuts ’n algemene verkiesing uitgeroep het en die Suid-Afrikaanse Party die setel met ’n meerderheid van 115 stemme gewen het. Na sy toetrede tot die politiek was sy salaris as politikus sy enigste bron van inkomste; gevolglik het hy hierdie inkomste verloor. Aangesien die politiek wisselvallig was, het hy na ander werksgeleenthede begin soek. In 1921 het hy sy oog op ’n professoraat in die regte aan die Universiteit van Stellenbosch gehad, maar dit het nie ’n werklikheid geword nie. Ondanks bedenkinge oor sy individualisme en drankmisbruik het die Nasionale Party hom tot senator verkies. Hy het hierdie rol tot met sy dood vertolk; dit het hom in staat gestel om ’n beduidende rol in die erkenning van Afrikaans as amptelike landstaal in 1925 te vertolk. Hy het besonder invloedryke toesprake in die parlement gelewer, en was lid van die parlementêre komitee wat die saak ondersoek het, met moontlike teenpartye onderhandel het en verskeie belanghebbendes oor die taal- en regskwessies uitgevra het.
Langenhoven word veral onthou vir sy satiriese werke en humorsin. Daar word vertel dat hy by geleentheid in die parlement gesê het: “Die helfte van die parlementslede is ape.” Toe die speaker hom gevra het om daardie stelling terug te trek, het hy geantwoord: “Die helfte van die parlementslede is nie ape nie.” Hy was ’n veelsydige skrywer wat meesterlik met die skryf van kort prosa en poësie was. Hy het ’n denkbeeldige olifant met die naam van Herrie geskep, en baie mense wat hom geken het, kon getuig dat daar nooit ’n werklike olifant was nie. Hy het Herrie se naam in ’n klip geverf naby die N12-roete halfpad binne-in Meiringspoort naby Oudtshoorn. Hierdie klip staan bekend as die Herrie-klip. Benewens Afrikaans kon Langenhoven ook Engels, Latyn en Nederlands praat, maar hy het nie veel erg gehad aan die Grieks wat hy op universiteit moes leer nie. Hy was instrumenteel in die erkenning van Afrikaans as parlementêre taal in 1925 en as amptelike landstaal saam met Engels in 1927.
Die een kultuurskat wat Langenhoven nagelaat het, is ’n gedig wat hy reeds in 1918 geskryf het. Nadat M.L. de Villiers dit getoonset het, het Hertzog reeds in 1938 besluit dat dit naas “God save the king” by die opening van die parlement gesing moes word. Op 2 Mei 1957 het dit Suid-Afrika se amptelike nasionale lied geword en toe ’n nuwe nasionale lied in 1994 geskep is, het ’n Afrikaanse vers daarvan behoue gebly. Nog een van Langenhoven se bydraes tot die kultuurskat was “Siembamba”, ’n Afrikaanse wiegeliedjie waarmee kinders aan die slaap gesus word en waarvoor hy ’n aantal verse geskryf het. Dit was ook die naam van ’n kinderprogram wat deur die Afrikaanse radiodiens van die SAUK uitgesaai is. Die liedjie is in die FAK-Sangbundel opgeneem.
Langenhoven is op 15 Julie 1932 in die ouderdom van 58 jaar aan ’n hartaanval oorlede. Hy is na sy dood op verskeie maniere vereer. Die studentesentrum van die Universiteit van Stellenbosch dra sy naam, en staan bekend as Die Neelsie. In 1983 het Manie van Rensburg en Johan van Jaarsveld ’n komediereeks , bekend as Sagmoedige Neelsie, gebaseer op Langenhoven se werke, vir televisie vervaardig. Die huis Arbeidsgenot, waar Langenhoven van 1903 tot met sy dood gewoon het, is vandag ’n huismuseum. Daarby sal Langenhoven vir sy spreuke onthou word, onder meer “Deur twee dinge is my lewe leefbaar gemaak: die liefde wat ek gegee het en die liefde wat ek ontvang het”, “Hoe korter jy jou kuier maak, hoe gouer sal jy weer genooi word”, “As jy nie van iemand hou nie, doen hom ’n weldaad; daarna sal jy hom liefhê”, “Moenie vriendskap en besigheid meng nie; jy bederf albei”, “Maak jou vriendelikheid goedkoop; hou jou vriendskap duur”, “’n Skare is die versameling van eensames” en “Jy kan mense huur om vir jou kinders se geleerdheid te sorg; vir hul opvoeding moet jy self staan.”
Daantjie Badenhorst