31 MEI – BEWARING VAN KULTUURERFENIS

“Sê aan mnr. Rhodes sy neus is ook net ’n klein puntjie van sy gesig. Laat hy dit afsny en dan in die spieël kyk.” Dit was die antwoord wat Rhodes gekry het terwyl hy as Kaapse premier mev. Marie Koopmans-De Wet se mening laat vra het oor ’n “klein verandering” wat die regering wou laat aanbring aan die Kasteel in Kaapstad. Die voorstel was dat een van die punte van die Kasteel weggeneem word sodat die beoogde elektriese trems makliker daar kon ry. Ná haar antwoord was die Kasteel se vyfde punt veilig!

Rhodes was regtig skrikkerig vir dié formidabele Kaapse vrou. Sy het met hom verskil oor Transvaal en het later geweier om dit met hom te bespreek. “Sy is ’n gevaarlike vrou”, het hy een keer half in ’n grap gesê, “en ek vrees haar meer as die hele Afrikanerbond.” Mev. Koopmans-De Wet het dit as ’n kompliment beskou.

Marie Koopmans-De Wet (1834–1906) is gebore in haar vader se woning in Strandstraat 23, Kaapstad, en daar het sy en haar suster feitlik hul hele lewe gewoon. Sy het ’n deeglike opleiding gehad en het, naas Afrikaans, Nederlands en Engels, ook Duits en Frans beheers. Die lotgevalle van die Voortrekkers en die koms van die Boererepublieke het ’n nasionale gevoel by dié intelligente jong meisie laat ontwaak. Van 1864 tot 1879 was sy getroud met Johan Koopmans, Nederlander van geboorte. Ná sy dood het sy en haar suster twee besoeke aan Europa gebring en besluit om hul afgesonderde bestaan te verander. Weens haar sjarme en sprankelende persoonlikheid het die huis as die “Strandstraatse salon” bekend geraak. Sy het kunsvoorwerpe (meubels uit die Hollandse tyd, skilderye, porselein) versamel om die Kaaps-Hollandse tradisies op statige wyse in ere te hou.

Sowel buitelandse as binnelandse reisigers het dit as ’n eer beskou om by haar aan huis te kom. Sy het vreemdelinge, veral Engelse, ontvang om te laat blyk dat grootmoedigheid ’n inherente karaktertrek van haar volk is. Sy wou aan die wêreld toon dat om Afrikaner te wees, niks was om oor skaam te voel nie, en sy is soms beskryf as “the proud Dutch woman of the Cape”. Onze Jan Hofmeyr het sy steeds gesteun, en haar huis is beskou as “’n voorportaal van die Afrikanerbond”.

Haar grootste belangstelling was die Hollandse taal. Vir die onthulling van die taalmonument in Burgersdorp in 1893 stuur sy ’n banier Lang leve onze taal en ’n goue medalje met De Hollandsche taal 1806–1893. Ik worstel maar bezwijk niet. Dié monument is opgerig vir die erkenning van Hollands as parlementstaal in 1882. Een van die inskrywings was: “Erkend is nu de moedertaal in Raad, kantoor, en schoollokaal”. (Vir haar het “Hollands” dus Afrikaans ingesluit.) Mev. Koopmans-De Wet was een van die vroeë yweraars vir die behoud van die natuurskoon, bome van historiese of sentimentele waarde, monumente, oudhede en historiese dokumente. “Wat sal mev. Koopmans daarvan sê?” was ’n vraag wat help sorg het dat historiese oudhede behoue gebly het, onder meer die Kasteel wat ’n hele paar keer met sloping of skending bedreig was. Vir baie mense was dit die bakermat van die Afrikaanse beskawing. “Tas die Kasteel aan, en jy raak die volksgevoel op een van sy teerste punte aan”, het sy geoordeel. Sy was aan die voorpunt van die veldtog om dit te red. Haar huis in Strandstraat 23 is ’n nasionale gedenkwaardigheid.