AFRIKANERS IN DIE GOUDSTAD
Die Afrikaners wat na Johannesburg getrek het, het te lande gekom in ’n onsimpatieke omgewing. Nêrens anders was die afsku teen Afrikaans en die Afrikaner so sterk as daar nie. Die Afrikaners in Johannesburg was lank ’n vlottende gemeenskap – byna die helfte van dié wat na Johannesburg gekom het, het die stad weer verlaat. Engelssprekendes het hulle dikwels geminag, bespot en op hulle neergesien. Sommige van dié wat ekonomies en sosiaal gevorder het, het hulle selfs in die republikeinse tyd volkome met die Engelse gemeenskap vereenselwig. Baie het geglo dat hul kinders se beroepsmoontlikhede groter sal wees as hulle in Engels hul opvoeding ontvang. Dit het lank geduur voordat Afrikaanse skole aanvaar is, skryf ELP Stals in Afrikaners in die Goudstad
Hul armoede was byna legendaries, en ouer en jonger digters het die lotgevalle van die armes, hul herkoms en hul geskiedenis verwoord. Totius – oor wie op 19 Augustus meer – laat Oom Gert in sy Trekkerswee die weerloosheid sien van die “Boervolk van weleer”:
Hulle lewe van ’n hongerloon
in huisies aanmekaar gepas
en jaardjies vol van steenkool-as
Die vroeg’re boere-paradys
Is nou één molshoop, groot en grys
Onder die latere digters was veral SJ Pretorius ’n uitbeelder, van die minderbevoorregtes soos in “Sonnet – uit Melville”:
Eens voor die eeu was hul grootland-besitters,
met sluheid nou uit vadersgrond onterf
is hul van rooidag tot die laatlig sterf –,
asryers, pikslaners en vuilvoor-spitters
Karel Schoeman skryf in Imperiale somer dat die Afrikaners ná die oorlog in Johannesburg dikwels die “misdeelde en versukkelde figure” was wat die skrywer Jacob Lub uitbeeld. Dié mense het dikwels stad toe getrek omdat hulle nie ’n heenkome gehad het nie – maar ook daar het hulle geen heenkome gevind nie en nog verder verkommer.
Die belangrikste oorsaak van die ellendige posisie van die Afrikaners was die gebrek aan onderwys en opleiding. In die jare ná die oorlog het die aantal wit leerlinge egter toegeneem, maar nie vinnig genoeg nie. Daar was ’n gebrek aan skole, ook aan Afrikaner-onderwysers. In die Vrystaat het ruim die helfte van die wit kinders omstreeks 1906 nog geen onderwys geniet nie en in Transvaal was die toestand kwalik beter, skryf GD Scholtz.
In Irma Joubert se historiese roman Ver wink die Suiderkruis wat handel oor die vroeë 1930’s probeer die held van die verhaal, ’n arm mynwerker, die heldin, dogter van ’n mynbaas, oortuig waarom hulle nie sal kan trou nie. Sy weet nie, sê hy, hoe laat hy moet opstaan om betyds by die werk te wees nie, “of hoe fyn ek moet bereken om aan die einde van die maand nog kos te hê om te eet nie. Jy weet nie hoe arm mense doodgaan omdat hulle nie ’n dokter kan bekostig nie, nie medisyne kan koop nie. Hoe hulle in die winter siek word van die koue, hoe dit is om nooit in ’n warm bad te lê nie. Daar is nooit stilte in ons buurt nie, nooit privaatheid nie. Ons kleinhuisie is buite, Kate, ons wasplek in ons kombuise, ons strate is ons kinders se speelplek.”