VOORTREKKERS VERLAAT NATAL

Toe die Kaapse goewerneur verneem dat Smith hulp vra, het hy ’n mag onder kol. Josias Cloete per skip gestuur om die beleërde garnisoen te ontset. Cloete was lid van ’n gesiene Kaapse familie. Die Natallers kon nie verhinder dat hy land nie en het teruggeval na Pietermaritzburg. Cloete het aan die Zoeloes die reg gegee om beeste en perde van die trekkers af te neem en teen betaling na hom te bring. In dié proses het Zoeloes verskeie trekkers vermoor. Hoewel party trekkers bereid was om hulle te verset, het die Volksraad hulle aan die Britse gesag onderwerp, onder meer weens die dreigende Zoeloegevaar.

Sowat ’n jaar later het Napier die toestemming waarop hy so lank gewag het, gekry om Natal te annekseer. Hy het Henry Cloete, ’n broer van kol. Josias Cloete, as kommissaris gestuur. Groot was veral die protes van die vroue, wat soveel moes opoffer vir die vryheid. Onder leiding van Susanna Smit, suster van Gerrit Maritz en eggenote van Erasmus Smit, het ’n afvaardiging van 400 ’n onderhoud met Cloete gevra. Eers het Susanna Smit ’n uiteensetting gegee van wat in die verlede met hulle en hul volk gebeur het. Daarna het Johanna Maré ’n smeekskrif aangebied.

Terwyl sy besig was om dit aan hom voor te lees, het Cloete besluit om die saal te verlaat. Die vroue het hom voorgekeer en mev. Smit het verklaar: “Ons het goed en bloed gegee om onder die gehate vlag uit te kom, en al moet ons kaalvoet en blootshoof oor die Drakensberg loop, ons sal nie onder dié vlag berus nie.” ’n Ander weergawe van haar woorde, of dalk dié van ’n ander vrou, lui: “Ons voete is deurgeloop en ons is moeg van die swerwerslewe en ontbering. Maar ons is bereid om nog verder te loop. Ons is bereid om kaalvoet oor die berge te gaan, die vryheid of die dood tegemoet.”

Van 1842 af het die trekkers Natal begin verlaat. Susanna het egter tog nie self kaalvoet oor die Drakensberge uit Natal padgegee nie. Haar man Erasmus het ’n paar keer ná die inwyding van die Geloftekerk in Pietermaritzburg op 15 Maart 1840 as leraar opgetree en op 9 Februarie 1841 sy emeritaat aanvaar. Daarna het hulle in bittere armoede verval. Die ietwat versukkelde Erasmus het ’n karige pensioen van £45 per jaar van die Britse owerheid ontvang. Sy is op 27 Julie 1863 en hy op 3 Augustus 1863 in Pietermaritzburg oorlede. Albei het ’n belangrike dagboek nagelaat.

Ook Pretorius het aanvanklik gebly. Hy en sy ou kommandante Landman en De Lange het hulle probeer aanpas by die nuwe omstandighede. Pretorius het in ’n poging om Afrikaners en Engelse op sosiale gebied bymekaar te bring, een aand ’n deftige bal en dinee aangebied met die keurigste geregte: lensiesop, skaapvleis, wildsvleis met spek gestop, hoender, kalkoen, bobotie, sosaties, groenboontjies, aartappelkoekies, blomkool, slaai en koue tong, ham en klein toebroodjies, wyn en brandewyn, en as nagereg wafels. Ds. Daniel Lindley (wat Erasmus Smit as leraar van die Geloftekerk opgevolg het) het die tafelgebed gedoen, en Pretorius se toespraak by ’n heildronk is sin vir sin getolk.

Die lewe in Natal was in die 1840erjare ondraaglik. Straffeloos is vee geroof soos aan die oosgrens. Herhaaldelik het Pretorius klagtes van veediefstal, brandstigting en onveiligheid aangemeld. Pretorius se gesin moes van hul plaas vlug. ’n Swart dorp is daar naby aangelê. Toe Pretorius sy mense in Desember 1847 ná ’n kort afwesigheid bereik, was hulle saam met ander vlugtelinge in ’n laer langs die Tugela. Maar waarheen kon hulle vlug?

Die dapper Hans de Lange of “Hans Dons” het gebly. Sy teregstelling in 1861 is steeds omstrede. Hy is skuldig bevind aan die skietdood van ’n Zoeloe. Die regter het aan die jurie gesuggereer dat hy nie aan moord met voorbedagte rade skuldig bevind moet word nie en die jurie was inderdaad ten gunste van begenadiging.