KERKE HELP ’N ONTREDDERDE GEMEENSKAP

Die oorlog het ongeveer 20 000 kinders ouerloos gelaat. Familie en vriende kon sommige van hulle grootmaak, maar baie van hulle het geen heenkome gehad nie. Binne enkele maande ná die oorlog het drie leraars van die Transvaalse NG Kerk weeshuise opgerig, naamlik ds. Abraham Kriel van Langlaagte in September 1902, ds. JM Louw van Boksburg in Oktober 1902 en ds. AP Burger van Middelburg in November 1902. Laasgenoemde twee s’n is in 1904 en 1908 met ds. Kriel se weeshuis verenig. Ds. Kriel was een van vyf Transvaalse NG bittereinder-leraars. Hy was van 1893 predikant van Langlaagte en het toe al begin om hawelose en weeskinders te versorg. Van 1896 af is hy bygestaan deur ’n Bolandse vrou, mej. Maria Kloppers, maatskaplike werkster van die Vrouesendingbond.

Toe ds. Kriel in 1902 ’n klompie oorlogswese in sy pastorie opneem, het mej. Kloppers hom gaan help. Die weeshuis is op 4 September 1902 geopen met sewe kinders. Voor die einde van die jaar was dit 92 en in September 1903 245. Meer huise en erwe is aangekoop en in 1913 selfs twee plase. Die kinderhuis het geen vaste inkomste gehad nie, maar het steeds die nodige middele gekry in antwoord op gebede. Soms het daar 3 pennies van ’n weduwee by hulle beland, maar ook bedrae van £1000 tot £3000 – en daarbenewens ook kiste klere, vrugte, groente, gebak, meel, mielies en slagvee. Met Kriel se dood in 1928 was daar meer as 600 kinders in die tehuis, wat toe na die stigter genoem is.

’n Verteenwoordiger van The Transvaal Critic het in 1906 geskryf dat hy nog nooit ’n skoner en meer higiëniese plek gesien het nie. “Die kinders bak brood, was klere, wit die mure, skrop die vloere. Hulle maak hul eie seep, hulle beplant die tuine met groente en vrugte. Hulle maak skoene, beddekens, klerekaste en sitbanke. Op honderd maniere word die kinders nuttige dinge geleer nadat hulle elke dag vier uur in die skool deurgebring het.”

Aan ’n ander kerkman, dr. William Nicol, het Kriel eenmaal gesê: “Ek dank die Here dat ek gehoorsaam was, maar vol geloof was ek ongetwyfeld nie. Telkens as ek vir myself sê dat ek moet glo, word ek bang. Maar as ek sommer in gehoorsaamheid die oë toemaak en my opdragte aanpak, sorg die Here dat alles regkom.” Soos GD Scholtz skryf, het die kinderhuis duisende Afrikaanse kinders “wat na siel en liggaam verlore kon geraak het” gered en vir die lewe gereed gemaak.

In die Vrystaat het weeshuise tot stand gekom op agtereenvolgens Winburg, Brandfort, Bethulie, Ladybrand en Bethlehem. Baie hulp vir die versorging van die wese in die Vrystaat en Transvaal het van Kaapse Afrikaners gekom. Die kerke het ook die armes probeer help. Die voorbeeld van die Kaapse NG Kerk is gevolg wat in 1898 ’n arbeidskolonie in Kakamas gestig het. So is Lagersdrift, Middelburg, en Goedemoed aan die Oranjerivier gestig.

’n Kerk wat onverskillig staan teenoor die nood van sy lidmate is verlore. Die Afrikaanse kerke het die lidmate bygestaan in hul tyd van nood, en dit het die gesag van dié kerke versterk en hul aansien vergroot.