5 MEI – TRANSVAALSE VRYHEIDSOORLOG BEGIN
Die stemming in Transvaal was teen dié tyd al heelwat anders as toe Shepstone dit sonder slag of stoot kon annekseer. Volksvergaderings getuig van ’n groeiende nasionalisme, en in die Vrystaat en Kaapkolonie het Afrikaners hul steun aan die Transvalers toegesê. In 1880 het Paul Kruger, Piet Joubert en dr. EPJ Jorissen Stellenbosch, Malmesbury, die Paarl, Worcester en Montagu besoek, en is orals hartlik ontvang.
Wat deurslaggewend was, was dat die nuwe liberale regering in Engeland van WE Gladstone op 8 Junie 1880 geweier het om die onafhanklikheid te herstel. Intussen het die Transvalers al hoe meer wapens en ammunisie aangekoop. ’n Nietige insident was die vonk wat die kruit laat ontplof het. Op 7 Oktober het 130 burgers van Skoonspruit naby Potchefstroom onder kmdt. PA Cronjé die landdros meegedeel dat hulle net bereid was om aan hul wettige regering belasting te betaal. Een van die manne wat geweier het, was Pieter Bezuidenhout. Die balju het toe sy wa gekonfiskeer om op ’n veiling te verkoop. Die opbrengs sou gebruik word om sy belastingskuld te delg.
Op die dag van die veiling, 11 November 1880, het Cronjé en sy burgers weer opgedaag, die afslaer van die wa afgesmyt en dit vir Bezuidenhout teruggegee. Shepstone se opvolger, kol. Owen Lanyon (vir die Boere “Lang Jan”) was bly oor hierdie openlike verset. Hy het reeds lank gesoek na ’n geleentheid om kragdadig teen die Boere op te tree. Hy het die redakteur van De Volksstem, JF Celliers, in hegtenis geneem – hy het immers geskryf dat die Afrikaners net onder protes hul belastings sou betaal. Verder het Lanyon troepe gestuur om Cronjé en Bezuidenhout te laat vang.
Ook die leiers van die Transvalers, Paul Kruger en Piet Joubert, het besef dat die tyd van protes verby is. Hulle het ’n nuwe volksvergadering belê, wat van 12 tot 16 Desember op die plaas Paardekraal aan die Witwatersrand gehou is. Aan “Lang Jan” se proklamasie wat die vergadering verbied het, het die Boere, soos by vorige geleenthede, hulle nie gesteur nie. Tussen 4000 en 5000 het opgedaag, elkeen goed gewapen.
Op 13 Desember het die vergadering die wettige gesag van die Volksraad herstel. ’n Driemanskap het die landsbestuur oorgeneem met Paul Kruger as visepresident, MW Pretorius en Piet Joubert as kommandant-generaal. ’n Lang proklamasie is deur dr. EPJ Jorissen opgestel waarin die Transvalers uiteensit waarom die republiek herstel word.
Op 14 Desember het Paul Kruger gevra dat die burgers wat bereid is om ’n verbond te sluit dat hulle sal veg tot die vryheid herstel is, elkeen ’n klip op ’n stapel moet pak. Daarop is die Vierkleur gehys. Cronjé is dié dag met ’n gewapende mag na Potchefstroom om die proklamasie te laat druk en versprei. Terwyl die burgers op 16 Desember deur die strate ry, het die Britte op hulle geskiet. Dit was die eerste skote in die Transvaalse Vryheidsoorlog. Die Transvalers het nou van Heidelberg die setel van die voorlopige regering gemaak, en die Britse soldate op die Transvaalse dorpe beleër.