PIET CRONJÉ (1836-1911)
Genl. Piet Cronjé was ’n leier van die Zuid-Afrikaansche Republiek se militêre magte tydens die Eerste en Tweede Vryheidsoorloë.
Piet Arnoldus Cronjé is op 4 Oktober 1836 in die Kaapkolonie gebore en het op die Groot Trek saam met sy ouers na Transvaal getrek. Op twaalfjarige ouderdom was hy reeds betrokke by die Slag van Boomplaats. Hy is op 24 Desember 1857 met Hester Suzanna Visser getroud. Sy was van Potchefstroom afkomstig en die egpaar het hulle in hierdie omgewing gevestig.
Hy was betrokke by die Bezuidenhout-voorval, ’n rebellie wat tot die uitbreek van die Eerste Vryheidsoorlog aanleiding gegee het. Die rebellie het ontstaan toe PL (Piet) Bezuidenhout geweier het om buitensporige belasting aan die Britte te betaal. Nadat die Britte op sy wa beslag gelê het met die doel om dit te verkoop, het ’n groep ontstoke Boere die wa van die afslaers teruggeneem. Toe die Britse regering probeer het om dit terug te neem, het hulle hulle in ’n Boere-rebelliemag vasgeloop.
Op 12 April 1877 het die Britte die Sandrivier-konvensie van 17 Januarie 1852 verbreek deur Transvaal te annekseer. Die Boere het die anneksasie aanvanklik gelate aanvaar, maar in 1880 het die Boere se smeulende verset in daadwerklike optrede oorgegaan. Regdeur Transvaal het die Boere geweier om belasting te betaal, en die verset het sy hoogtepunt in Potchefstroom bereik. Bezuidenhout het geweier om bykomende belasting op sy ossewa te betaal en gesê dat hy reeds sy belasting betaal het. Nadat die Britse owerhede die ossewa gekonfiskeer het, het ’n groep van ’n honderd man onder leiding van genl. Cronjé voorkom dat die wa op 11 November 1880 opgeveil sou word. Die wa is aan Bezuidenhout terugbesorg. Britse troepe is inderhaas na Potchefstroom gestuur om die orde te probeer herstel, maar dit was te laat. Op 15 Desember 1880 het die Boeremagte Potchefstroom binnegery en die Eerste Proklamasie by die plaaslike drukker laat druk. Daarna het Boer en Brit in ’n skermutseling betrokke geraak en die Eerste Vryheidsoorlog het begin.
Tydens die oorlog het hy ’n reputasie vir homself verwerf deur die Britse garnisoen in Potchefstroom te beleër. Hy was kort en sy swart baard het hom ’n kenmerkende voorkoms gegee. Hy het ’n reputasie vir dapperheid opgebou. Hy was in bevel van ’n mag wat Jameson by Doornkop omsingel het tydens die voltrekking van die Jameson-inval op 2 Januarie 1896.
Gedurende die Anglo-Boereoorlog (Tweede Vryheidsoorlog) was Cronjé in beheer van die westelike oorlogsverhoog. Hy het die beleëring van Mafikeng en Kimberley van stapel gestuur. By Mafikeng het hy die dorp met ’n mag van tussen 2000 en 6000 troepe teen tussen 1200 troepe en milita onder bevel van kol. Robert Baden-Powell beleër. By die Slag van Magersfontein in Desember 1899 het hy die aanval op sy posisie suksesvol afgeweer en sodoende die noordwaartse vooruitgang van die Britse kolom vir twee maande gestuit. In Februarie 1900 het hy Lord Roberts se mag by Magersfontein weerstaan. Hy kon egter nie daarin slaag om die bevryding van Kimberley te verhoed nie. Hy moes terugval tot naby Paardeberg, waar hy na ’n hardnekkige stryd moes oorgee. Na sy oorgawe met 4000 man op 27 Februarie 1900 is hy as krygsgevangene in hegtenis geneem, waarna hy na St. Helena gestuur is. Hy het daar gebly totdat die vredesamesprekings in 1902 afgehandel is. Met die oorgawe het byna ’n kwart van die Boeremagte in Britse hande geval en Cronjé is veroordeel vir sy gebrekkige oordeel wat tot die nederlaag gelei het.
In 1904 het die sirkuspersoonlikheid Frank Fillis hom gewerf om na Amerika te reis as deel van die “Boereoorlogsirkus.” In ’n opvoering wat deur twee miljoen mense in die World’s Fair in St. Louis in die Amerikaanse staat Missouri bygewoon is, het Cronjé opgetree in vertonings oor beroemde veldslae van die Boereoorlog, waaronder sy oorgawe by Paardeberg. In wat ’n treurige einde aan sy loopbaan was, het Suid-Afrikaanse koerante hom teen die einde van die World’s Fair die “sirkusgeneraal” genoem. Hy het na Coney Island, ’n skiereiland in die suide van Brooklyn in die Amerikaanse stad New York gegaan, eerder as om na Suid-Afrika terug te keer. Hier is hy in nog ’n skouspel tentoongestel. Sonja Loots se roman Sirkusboere is op hierdie historiese gegewens gegrond.
Hy is op 4 Februarie 1911 in die ouderdom van 74 jaar in Potchefstroom oorlede.
deur Daantjie Badenhorst