ANDRIES PRETORIUS TROU WEER

Toe die Winburgers Pretorius gevra het om te kom help, was sy 47-jarige vrou Christina (gebore De Wit) ernstig siek. Sy het reeds in Natal ’n soort disenterie opgedoen wat die gevolg van malaria was en het nooit behoorlik daarvan herstel nie. Weens haar siekte het hy getwyfel of hy moes gaan, maar sy het gesê: “Ek is baie siek, en die lewe kan jy my nie gee nie. Hulle vra jou hulp. Ry na jou landgenote en kyk wat jy vir hulle kan doen, terwyl die saak dringend is.” Pretorius het in September 1848 weer op sy plaas Rust der Ouden aangekom. Christina is tydens sy afwesigheid oorlede en begrawe.

Sy lewe is verder verswaar deur die onplesierige nadraai van Boomplaats. Harry Smith het die Boere wat geveg het, beboet om die £12 000 te lewer wat die veldtog die Engelse gekos het. Ander is uit die distrik Winburg verban. Party is voëlvry verklaar. In sulke omstandighede soek mense maklik na sondebokke – en party het naderhand Pretorius verwyt en die skuld vir alles gegee.

Pretorius het hom nou maar met sy boerdery besig gehou. Heel prakties het sy familie begin praat oor die moontlikheid dat hy weer ’n vrou soek. Sy veldkommandant, Daniel Erasmus, het hom eendag uitgenooi na ’n feesgeleentheid, en tergerig bygevoeg dat ál die jongste mooi meisies van die omtrek uitgenooi is sodat Pretorius vir hom ’n vrou onder hulle kon uitsoek.

En hy het die aand iemand uitgesoek. Hy het Petronella de Lange gevra om met hom te dans. Sy het later vertel: “Ons gesels, en die jongkêrels draai om ons heen, maar hulle durf ook nie te veel aanhou nie, want my kavalier was mos die Generaal, vir wie hulle almal groot ontsag had. Ander vra my ten dans, maar eer ek kan antwoord, verseker die Generaal hulle dat ek tog al so moeg was en eers ’n bietjie moes rus! Een van die ridders, wat ’n paar keer aangehou het, het Pretorius met ’n haastig bedagte boodskap weggestuur.” Die jong mans het die aand so om Petronella gedraai dat Pretorius nie die kans kon kry om die saak te beklink nie. Dit gaan naderhand na dagbreek toe, en nog ’n laaste keer gaan sit Pretorius langs haar op die rusbank. “Hy haal ’n rooi sakdoek uit, wat hy oor my hande en op my skoot uitsprei. Hy kyk so skuins na die dansende paartjies en besluit toe dat ieder te seer opgenome was met sy eie maat om te let wat hy doen. Hy neem my hand in syne, onder die sakdoek, en fluister: ‘Jy moet vir my wag, ek sal weer kom!’ En ek het dit sommer goedgevind.” Tot dan toe was nie een van die jonges goed genoeg vir haar nie.

Die verlowing het ses maande geduur en hulle is sowat ’n jaar ná sy eerste vrou se dood getroud – voor die landdros omdat daar nog nie predikante noord van die Vaalrivier was nie. Petronella was negentien. ’n Onthaal met ’n dansparty is in die waenhuis op die plaas gehou. Die wittebroodsreis was ’n tog na Ohrigstad waar Pretorius ’n vergadering moes bywoon. Vier jaar ná die troue het hy ’n mooi baksteenhuis van sewe vertrekke laat bou. Die plankvloere en plakpapier in die kamers was iets nuuts vir dié tyd. Ná Pretorius se dood is Petronella weer getroud en is in 1929 in die leeftyd van 99 jaar oorlede.