
7 FEBRUARIE
GEBEURE
1886 – Ontdekking van goud
George Walker ontdek goud terwyl hy die fondasies lê vir ’n huis op die Witwatersrand.
1900 – Anglo-Boereoorlog: Geveg by Vaalkrans (Vaalkrantz)
Dag 3: Die son het skaars begin bak toe die Republikeinse artillerie begin het om die Britse stellings te bestook. Generaal Buller is onseker oor homself en die vermoë van sy soldate. Rondom 19:00 die agtermiddag word die bevel gegee en onttrek die Britse magte terug oor die rivier. Sedert 5 Februarie het daar aan Britse kant 25 man gesneuwel, en was daar 344 gewond. Aan Republikeinse kant het 38 man gesneuwel, en was daar 45 gewondes.
1900 – Anglo-Boereoorlog: Slag van Koedoesberg
1901 – Anglo-Boereoorlog: Brittanje stuur 30 000 addisionele troepe na Suid-Afrika
Aanvanklik het die Britse regering gedink dat die oorlog slegs weke sou duur. Dit was grotendeels omdat hulle die veerkragtigheid van die Boere onderskat het om hul outonomie te verdedig om nie deur die Britse regering oorval te word nie. In plaas daarvan om ’n paar weke aan te hou, het die oorlog vier jaar aangehou.
1901 – Die “Jood” in Kimberley
Die “Jood”, ’n Long Tom- (Creusot) kanon skiet vir die eerste keer tydens die beleg van Kimberley op die dorp.
1910 – DF Malherbe aangestel as professor
Dr. DF Malherbe word aangestel as professor in moderne tale aan die Grey-Universiteitskollege in Bloemfontein op versoek van genl. JBM Hertzog.
GEBOORTES
1665 – Paul Roux, voorleser en skoolmeester van die Franse gemeenskap in Drakenstein († 7 Februarie 1723)
Dit is die sterfdag van die voorleser en skoolmeester van die Franse gemeenskap in Drakenstein, Paul Roux. Na die vertrek van ds. Pierre Simond in 1702 was dit maar eintlik Roux, wat met sy gereelde kerkdiens die Franse gemeenskap geestelik versorg het en deur sy onderwys, die opkomende geslag met die ou moedertaal vertroud gemaak het.
1862 – Charles William Henry Köhler, stigter en eerste voorsitter van die KWV († 6 Februarie 1952)
Charles William Henry Köhler is op Calvinia gebore. Na sy skoolopleiding in Kaapstad het hy as tandarts gepraktiseer, maar met die ontdekking van goud verhuis hy in 1886 na die Witwatersrand, waar hy betrokke was by die stigting van verskeie suksesvolle mynmaatskappye. Na ’n besoek aan Europa en Amerika in 1889, het hy hom gevestig op die plaas Riverside, naby Simondium. As boer het Köhler hom deur twee beginsels laat lei – enersyds dat slegs produkte van gehalte verseker is van ’n toekoms, en andersyds dat die swak ekonomiese posisie van die wynboere alleen opgelos kan word deur doeltreffende organisasie. Plaaslik neem hy spoedig die leiding in die georganiseerde landbou deurdat hy eers tot sekretaris en later tot voorsitter van die Paarlse Boerevereniging gekies word. Gedurende 1909 het Köhler in verset gekom teen die hoë aksyns- en beperkende wetgewing met betrekking tot die wynbedryf. Na ’n mislukte poging op 14 April 1909, om deur middel van ’n straatoptog na die Parlementsgebou in Kaapstad die wynboere se ontevredenheid onder die aandag van John X Merriman te bring, word die Wynhandelaars- en Wynboerevereniging van die Kaap gestig, met Köhler as voorsitter. Hierdie vereniging, gestig met die doel om die pryse van wyn en brandewyn vas te stel en in die algemeen die belange van die wynbedryf te bevorder, misluk egter vanweë interne verdeeldheid. Daarna begin Köhler die gedagte van koöperasie bepleit, en dit loop uit op die stigting van die Ko-operatiewe Wifjnbouwers Vereniging van ZA Bpkt. (KWV) in 1918, met Köhler as eerste voorsitter. Tesame met ander sou hy hom suksesvol beywer om die ekonomiese posisie van die wynboere te verbeter. Hy is op 6 Februarie 1952 op Vishoek oorlede.
1907 – Daniel Ferdinand (Danie) Bosman, komponis van ligte Afrikaanse musiek († 27 Mei 1946)
Daniël Ferdinand Bosman was komponis van sommige van die bekendste Afrikaanse liedjies. Hy was ’n ouditeur in die Staatsdiens en goed bevriend met Anton de Waal, wat later vir die publikasie van die meeste van sy liedere gesorg het. Danie Bosman was ’n baanbreker wat vir die Afrikaner ’n vastrapplek in die wêreld van ligte musiek gegee het. Sy besondere gawe vir mooi melodieë het daarvoor gesorg dat sy liedere steeds hulle gewildheid behou. ’n Rolprent is oor sy lewe gemaak. Die FAK het die première van die rolprent oor sy lewe aangebied. Onder sy bekendste komposisies was “In die skadu van ou Tafelberg”, “Net ’n stille uurtjie”, “Kaapse draai”, “Oom Bossie van die Bosveld” en “Daar onder in die Kaap”. Hy is op 27 Mei 1946 in Muizenberg, Kaap, oorlede.
1919 – Dr. Jan Harm Thomas Schutte, Suid-Afrikaanse uitsaaier en skrywer († 1999)
Hy sal veral onthou word vir die alomgewilde radiovervolgverhaal Die Du Plooys van Soetmelksvlei.
1934 – Rona Rupert, kinderboekskrywer († 25 Augustus 1995)
STERFTES
1723 – Paul Roux, voorleser en skoolmeester van die Franse gemeenskap in Drakenstein (* 7 Februarie 1665)
Dit is die sterfdag van die voorleser en skoolmeester van die Franse gemeenskap in Drakenstein, Paul Roux. Na die vertrek van ds. Pierre Simond in 1702 was dit maar eintlik Roux, wat met sy gereelde kerkdiens die Franse gemeenskap geestelik versorg het en deur sy onderwys, die opkomende geslag met die ou moedertaal vertroud gemaak het.
1901 – Japie Hauptfleisch, Boerekryger (* 5 Julie 1875)
1959 – Daniël François Malan, koerantredakteur en staatsman, Eerste Minister van Suid-Afrika (* 22 Mei 1874)
Daniël François Malan was ’n Suid-Afrikaanse politikus. Malan is naby Riebeek-Wes in die Kaapkolonie gebore en was ’n kindervriend van sy lewenslange opponent generaal Jan Christian Smuts en het ’n tyd lank selfs dieselfde skool as Smuts bygewoon. Dr. DF Malan was die eerste minister wat in 1948 die Verenigde Party by die stembus verslaan het en begin het met die invoer van die beleid van apartheid.
2023 – Louis van Niekerk, akteur en regisseur (* 27 Junie 1935)
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.