DANIE BOSMAN (1907-1947)
Danie Bosman se liedjies het volksbesit geword
Baie mense dink dat oorspronklike Afrikaanse musiek eers met die Musiek-en-Liriekbeweging in 1979 ontstaan het omdat die meeste Afrikaanse musiek tot op daardie stadium bestaande melodieë met Afrikaanse lirieke was.
Daar was egter een komponis wat in die jare rondom die Tweede Wêreldoorlog die een treffer na die ander geskryf het; in baie gevalle was dit liedjies wat die toets van die tyd deurstaan het en wat nou nog deur liefhebbers van Afrikaanse musiek onthou word.
Daniël Ferdinand (Danie) Bosman is op 7 Februarie 1907 in Kaapstad gebore en het in 1932 saam met nog ’n bekende liedjieskrywer, Anton de Waal, begin om liedjies te skryf. Hy was ’n staatsamptenaar van beroep, maar hy het saans by die huis liedjies geskryf. Ondanks sy Afrikaanse naam en van, was sy huistaal Engels en hy wou ’n deurbraak in die Engelse musiekmark ook maak, maar dit het nie gebeur nie.
Danie was een van die Afrikaanse kunstenaars wat gedurende die 1930’s en die eerste helfte van die 1940’s groot opofferings moes maak om sy musiek te versprei. In daardie jare is musikante en liedjieskrywers nie vir hul werk vergoed nie , en platemaatskappye het hulself deur hul kunstenaars se musiek verryk. Hy het glad nie tantieme ontvang as een van sy liedjies oor die radio gespeel is nie of as enigiemand sy musiek opgeneem het nie.
Danie is op 27 Mei 1946 na ’n lang stryd teen kanker oorlede, nadat liedjies soos “Net ’n stille uurtjie”, “Oom Bossie van die Bosveld”, “Ou musikant”, “My skat”, “In my droomskuitjie” en “In die skadu van ou Tafelberg” volksbesit geword het.
Danie was een van net ’n handjievol Afrikaanse kunstenaars van wie ’n biografiese rolprent vervaardig is. Franz Marx het in 1968 vir die eerste keer teenoor Min Shaw in die rolprent Jy is my liefling gespeel en Die Danie Bosman-storie was die tweede rolprent waarin hulle te sien was. Dit was ook die begin van een van die gewildste sangpare in die geskiedenis van Afrikaanse musiek. In daardie jare is sangers se stemme vir sommige akteurs oorgeklank en Lance James se sangstem is gebruik vir Franz Marx, wat die titelrol vertolk het. Min Shaw het die rol van Danie se vrou, Dorothy, vertolk en onder die ander akteurs wat in die rolprent te sien was, was Don Leonard, Siegfried Mynhardt, Pietie Meyer en Don Leonard. Die rol van die sanger Chris Lessing is deur Louis van Niekerk vertolk en die tenoor Gert Potgieter se sangstem is vir sy karakter gebruik.
In 2005 het Rina Hugo hulde aan Danie, asook ander vroeëre Afrikaanse kunstenaars, gebring toe sy die album Net ’n stille uurtjie uitgereik het. Die titelsnit was een van Danie se grootste treffers, en onder Danie se ander komposisies wat sy ingesluit het, was “In die skadu van ou Tafelberg”, “Ou musikant” en “Bergrivier”.
In 2016 is ’n verhoogproduksie van Danie se musiek, getiteld, Ou musikant, in Stellenbosch op die planke gebring en die openingsdag, die 7de Februarie, het met die herdenking van sy geboortedag saamgeval. Die rolle van Danie en Dorothy is onderskeidelik deur André Terblanche en Marlie Katzke vertolk.
Hoewel Danie se musiek al meer as sewentig jaar oud is, sal dit altyd onthou word as baanbrekerswerk wat jare lank nog ’n groot invloed op Afrikaanse musiek as ’n geheel sou h
deur Daantjie Badenhorst