GENL. BEYERS VERDRINK EN JOPIE FOURIE GEFUSILLEER
In Oos-Transvaal was die verset verby toe genl. Christiaan Muller digby Bronkhorstspruit gevang is. In Wes-Transvaal was genl. Beyers nog in die veld. “Ek gaan uit om my volk wakker te maak, al kos dit ook my lewe,” het hy op 12 Oktober aan ds. Christiaan Neethling gesê. Soos De Wet se manne is Beyers s’n deur die oormag van regeringstroepe uitmekaar gedryf.
Die oggend van 8 Desember is Beyers en ’n klein groepie burgers aan die Vrystaatkant van die vol Vaalrivier vasgekeer. Die Unietroepe was reeds naby en skiet op hulle. Beyers en Jan Pieterse probeer met hul perde deurswem. Beyers se perd is egter steeks en swem terug Vrystaat toe. Beyers moet noodgedwonge omdraai. Pieterse wat amper aan die oorkant was, swem terug om Beyers te help, maar verdrink halfpad terug. Die sterk stroom druk Beyers verby sy manne. Hy gryp aan ’n wilgertak vas en een van die Unietroepe hardloop nader en roep: “Wag maar, omie, ek sal jou nou-nou kom help!” Maar voor die troep sy hand kon gryp, sak Beyers onder die water weg, skryf Louis Bothma in Rebelspoor.
Binne die grense van die Unie was die enigste rebelle toe dié onder kmdt. Jopie Fourie. Anders as Beyers het hy nie uit die Verdedigingsmag bedank nie. Op 16 Desember 1914 is hy op Nooitgedacht gevang en op 19 Desember deur ’n militêre hof ter dood veroordeel op aanklag van verraad. Sy broer Hannes is begenadig ná ’n roerende pleidooi deur Jopie. Invloedryke Afrikaners, soos ds. HS Bosman en dr. DF Malan (wat toevalling in Pretoria was) het vergeefs die vonnis probeer versag. Smuts het almal ontwyk wat begenadiging wou hê.
Die oggend van 20 Desember vra ’n dokter vir Fourie of hy iets vir hom kan doen. “What can you do for me, doctor?” “I can give you an anaesthetic or a stimulant.” Jopie sê egter nee – hy het sy God saam met hom. Hy weier ook eers om hom te laat blinddoek, maar gee toe nadat ’n amptenaar verduidelik dis nodig om te voorkom dat dit die vuurpeloton in die uitvoering van sy taak belemmer. Met kryt word ’n kring op sy hemp links oor sy bors getrek. Toe alles gereed is, begin sing Fourie Gesang 20 vers 1: “Als wij den doodsvallei betreên / laat wij elk aardse vriend alleen …” Maar verder kon hy nie kom nie.
Ná die teregstelling het ’n amptenaar Smuts se huis gebel en die nuus aan sy sekretaresse, Anna Theart, meegedeel. Smuts self het die nag in die Pretoria Klub deurgebring. Toe Theart dit aan mev. Isie Smuts vertel, swyg sy, maar lyk baie ontsteld. Dit meld Louis Bothma, wat die geskiedenis in Rebelspoor vollediger vertel.
Duisende was diep geskok en Jopie Fourie het ’n martelaar vir die volksvryheid geword. Vroeg in 1915 het Jan FE Celliers sy gedig “Jopie Fourie” geskryf. Afskrifte is getik, wat soos blits deur die land versprei is: “Daar trek ’n koeël met spoed, met spoed;/ hy’s nat van Afrikaner-bloed,/ en smart die boodskap wat hy voer;/ hy kom uit Afrikaner-roer,/ hy kom deur Afrikaner-hart./ Maar met die roue en die smart/ bring hy die hart se kragte oor./ Slaap sag, trou hart, so wreed deurboor,/ want, trekkend, trekkend jaar en stond,/ sal steeds die koeël sy boodskap sprei;/ en waar hy tref, heel nooit sy wond;/ en wat hy tref, dit heilig hy!”