7 SEPTEMBER

GEBEURE

Geen

GEBOORTES

1794 – Johannes de Wet, vader van Marie Koopmans-De Wet, kampvegter vir persvryheid teen lord Charles Somerset en lid van die Kaapse wetgewende vergadering († 15 Junie 1875)

Johannes de Wet is op 7 September 1794 in Kaapstad gebore en het grootgeword in die huis in Strandstraat 23, wat hedendaags as die Koopmans-de Wet-Museum bekend is. In die destydse stryd om die vryheid van die pers het hy saam met Pringle en Fairbain die stryd aangeknoop teen die outokratiese lord Charles Somerset. In 1828 is hy aangewys as sekretaris van die komitee wat die Zuid-Afrikaanse Genootskap van Boedeladministrasie gestig het. In 1849 het hy aktief deelgeneem aan die Anti-Bandietebeweging, en hy is in 1854 met die instelling van verteenwoordigende bestuur gekies as lid van die Wetgewende Raad. Hy speel ’n besondere rol as diaken en ouderling in die Groote Kerk en het vanweë sy geskiedenisbelangstelling heelwat dokumente in Nederland laat afskryf. In der waarheid was De Wet in sy tyd een van die mees ontwikkelde Kapenaars; ten tyde van sy dood het hy ’n private boekery van ongeveer 1 625 bande nagelaat, bestaande uit boeke, manuskripte, pamflette, landkaarte, ens.

1801 – Sarel Arnoldus (Sarel) Cilliers, godsdienstige Voortrekkerleier († 4 Oktober 1871)

Op hierdie dag is die bekende Voortrekkerleier, Sarel Arnoldus Cilliers op Klein-Drakenstein gebore. Met die begin van die Groot Trek bevind hy hom in die omgewing van Graaff-Reinet, en in 1836 sluit hy hom aan by die trekgroep van Hendrik Potgieter. Hy neem deel aan die beslissende Slag van Vegkop en vergesel ook die Voortrekkers se ekspedisie teen die Matebele. Veral as geestelike leidsman beteken hy baie vir die medetrekkers, dien in die kerkraad, neem dienste waar en is later ’n eerbiedwaardige ouderling, eers in Pietermaritzburg en later in die gemeente Kroonstad, want in 1847 vestig hy hom op die plaas Doornfontein in die distrik van die teenswoordige Lindley. Hy word ook genoem die Vader van die Gelofte, want dit is hy was as spreekbuis van die Voortrekkers by Danskraal die Gelofte aflê en daarna ook deelneem aan die roemryke Slag by Bloedrivier. In die jare na die Slag by Bloedrivier is die Sondagoorwinning al minder herdenk en was dit selfs vir Sarel Cilliers nodig om by ’n geleentheid die held van die slag, Andries Pretorius, aan te spreek oor sy versuim om die Gelofte na te kom. Daarteenoor het Sarel Cilliers getrou die besondere gebeurtenis herdink. Sy huis was die middelpunt van die herdenkingsgeleentheid, wat gewoonlik uit die volgende program bestaan het:
In die voormiddag het hy en sy gesin saam gesing, gebid vir sy land en volk, uit die Bybel gelees en daarna is die Gelofte verduidelik en die geskiedenis vertel. In die namiddag was die mense weer byeen om self elkeen iets oor die geleentheid mee te deel. Vir Sarel Cilliers het die herdenking van Geloftedag deur sy hele lewe ’n ernstige saak gebly, ondanks die gebrek aan ’n nasionale besef, wat eers heelwat later aan die herdenking van die Gelofte ’n sentrale plek in die Afrikaner se volkslewe sou toeken. In die Vrystaat neem hy ook verantwoordelik deel aan die volkslewe en stuur self in 1854 voorstelle vir die nuwe grondwet na Bloemfontein. Tot sy dood op 4 Oktober 1871 op Lindley, neem hy aktief aan die kerklike lewe deel en is hy verskeie kere ouderling by Sinodesittings. So was hy byvoorbeeld teenwoordig by die Sinode van 1862, toe die Transgariepse afgevaardigdes se sittings reg deur ’n omstrede hofbeslissing (die bekende Loedolfsaak) hul ontneem is.

1869 – Benjamin Johannes (Ben) Viljoen, Boeregeneraal († 14 Januarie 1917)

Benjamin Johannes Viljoen is op 7 September 1868 in die Kaapkolonie gebore. Hy het hom op ’n jeugdige ouderdom in Transvaal gevestig en het verskeie beroepe beklee. Hy was onder meer polisieman, joernalis en lid van die Tweede Volksraad. Dit was egter op militêre gebied waar hy hom onderskei het. Hy het deelgeneem aan die veldtogte teen Jameson en teen die Venda-opperhoof Mphephu en was reeds kommandant toe die Engelse Oorlog in 1899 uitgebreek het. Hy het geveg by Elandslaagte, Vaalkrans, Donkerhoek, Berg-en-Dal, Nooitgedag, Renosterkop en Helvetia. In die guerrillafase van die oorlog het hy ook ’n belangrike rol gespeel, veral ten ooste van Pretoria. Vroeg in 1902, toe hy reeds gevorder het tot assistent-kmdt.-genl., is hy naby Lydenburg gevange geneem en na St. Helena gestuur. Daar het hy sy oorlogsherinneringe opgeteken, wat in Hollands, Engels en Duits gepubliseer is. Na die oorlog het hy na Amerika verhuis. Hy is in La Mesa, Nieu-Mexiko, oorlede.

1884 – Lydia van Niekerk, eerste Afrikaanse vrou wat ’n professor geword het op Stellenbosch († 2 November 1929)

Sy is op Diepkloof, distrik Uitenhage, gebore. Lydia van Niekerk het op Bloemhof, Stellenbosch gematrikuleer. Sy lê haar doktorale eksamen in Nederland af, promoveer in 1916 met ’n dissertasie De Eerste Afrikaansche Taalbeweging en Letterkundige Voortbrengselen, wat nog redelik wyd gebruik word. Terug in Suid-Afrika doseer sy aan die Hugenote-Universiteitskollege , totdat ’n buitengewone professoraat aan die Universiteit van Stellenbosch vir haar geskep word in 1920 – die eerste Afrikanervrou wat ’n professoraat beklee het. Haar studietydperke in Nederland het verruimend op haar literêre insigte ingewerk, sodat sy ’n waardevolle vergelykingsvermoë opgebou en gesaghebbend op letterkundige gebied opgetree het, veral as kritikus. Kennis van drama en belangstelling in toneelwerk bring mee dat sy opbouende kritiek lewer naas die boekbesprekings in koerant en tydskrif, waarin sy stimulerende oordeel uitspreek. Haar begrip van die Nederlandse lettere en volkskarakter blyk betekenisvol vir die studente se literatuurstudie. Haar Europese verblyf het haar in aanraking gebring met die emansipasiebeweging vir vroue. Sy word as vrouehoogleraar raadgeefster vir die Stellenbosse Vrouestudentebond, wat voorligting wil verstrek oor vroueaktiwiteite wêreldwyd; maar haar kennis van estetiese en kulturele aangeleenthede het haar sterkste invloed verteenwoordig. Sy is op 2 November 1929 in Kaapstad oorlede.

1895 – Hilda Postma, skrywer († 1 Augustus 1993)

Dié dogter van ds. S Postma is op hierdie dag op Burgersdorp gebore. In 1922 word sy onderwyseres, en sy is daarna jare lank aan die personeel van die Oranje-meisieskool in Bloemfontein verbonde. Sy is veral bekend as skryfster van kindergedigte en kinderboeke.

STERFTES

1931 – Frederick Pine Theophilus (Fred) Struben, een van die ontdekkers van die Witwatersrandse goudrif (* 14 Junie 1851)

1975 – Maria Elizabeth Rothman (MER), skrywer en joernalis (* 28 Augustus 1875)

Maria Elisabeth Rothman is op Swellendam gebore. As MER het sy een van die mees geliefde en gewaardeerde skryfsters van die Afrikaanse letterkunde geword. MER was een van die eerste vroue wat in Suid-Afrika ’n BA-graad verwerf het. In 1922 word sy aangestel as die eerste vroueredaktrise van Die Burger. Weens haar daadwerklike belangstelling in maatskaplike werk is sy in 1928 benoem tot die organiserende sekretaresse van die ACVV. In 1938 word ’n Carnegiebeurs aan haar toegeken en het sy ’n studiereis onderneem na die VSA. Ook verskeie Europese lande het sy besoek.

In 1950 ontvang sy twee ere-doktorsgrade: een van die Universiteit van Stellenbosch vir haar maatskaplike dienste en een van die Universiteit van Kaapstad vir haar letterkundige werk. Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns het in 1953 die Hertzogprys vir prosa aan haar toegeken, en in 1961 die Scheepersprys vir jeuglektuur. In 1965 het die FAK sy eksklusiewe Erepenning vir Volksdiens aan haar toegeken. Sedert 1929 het MER in haar geboortedorp, Swellendam, gewoon, waar sy op 7 September 1975 oorlede is, kort nadat die eerbewyse ingestroom het ter geleentheid van haar honderdste verjaardag.

Sy het haar eers op ’n betreklik laat ouderdom op letterkundige werk begin toelê. Sy word bekend in 1920 met ’n jeugboek Kinders van die Voortrek, wat in 1960 opnuut uitgegee is as Die Tweeling trek saam. Daarna het sy nog ’n hele aantal jeugboeke gepubliseer, twee romans, drie bundels, vertellings en verskeie versamelings van joernalistieke sketse. Haar literêre roem dank sy veral aan haar kortverhale, versamel in Onweershoogte en ander verhale (1927), Drie vertellings (1944) en Die Gewers (1950). MER se literêre werk word gekenmerk deur ’n eenvoudige en natuurlike taalgebruik, dikwels verrassende beeldspraak, ’n tere en tog beginselvaste lewenswysheid en ’n intense belangstelling vir die mens en vir menslike verhoudings. Uit haar werk blyk ’n diepgaande kennis van en liefde vir haar land se verlede, mense, tradisies en natuur. Haar laaste publikasie het in 1972 verskyn onder die titel My beskeie deel – ’n Outobiografiese vertelling.

Na haar dood het Alba Bouwer, en Anna Rothman (MER se dogter) asook Rykie van Reenen ’n interessante versameling van haar briewe uitgegee met die passende titel M.E.R., ’n kosbare erfenis (1977).

2004 – Christiaan Frederik Beyers Naudé, teoloog, anti-apartheidsrolspeler (* 10 Mei 1915)

Beyers Naudé was ’n dominee en ’n prominente anti-apartheidsrolspeler. Alhoewel hy aanvanklik apartheid verdedig het, het hy later sy siening verander en het hy sy oortuigings daarteen openbaar gemaak. Nadat hy in apartheidsjare deur sommige as verraaier gesien is, is hy uiteindelik vereer as strydder teen apartheid, met onder meer strate in Randburg, Pretoria, Potchefstroom, Rustenburg, Lichtenburg en Middelburg en ’n plein wat na hom vernoem is. Ereburgerskap van Johannesburg is ook aan hom toegeken.

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/