HONGER EN ONTBERINGS IN KONSENTRASIEKAMPE

Die verkragting van talle Boervroue het in ons tyd veral aan die lig gekom deur die twee dele van Andries Raath se Die Boerevrou 1899-1902, asook PG du Plessis se roman Fees van die ongenooides. ’n Ou vrou het hom as jong man vertel van kinders wat ná ’n verkragting gebore is.

In 1901 is beëdigde verklarings oor dade teen vroue in opdrag van pres. Steyn deur genl. Hertzog ingesamel. Hulle wou dit insluit by ’n beoogde skrywe aan die vorste van Europa en die president van die VSA. JD Kestell skryf dat hy nog nooit treuriger leesstof gehad het as hierdie verklarings oor die barbaarshede teenoor vroue nie.

Raath beskryf die lotgevalle van sowel die vlugtende vroue as dié in 58 kampe. Een rede vir die kampsterftes was die honger. ’n Dominee, wat as kind in ’n kamp was, onthou dat die laaste woorde van sy ma, ouma, oupa en sussie was: “Ek het honger.” Soortgelyke woorde is dikwels gehoor, soos in Kroonstad: “Seg tog aan my man ek sterf van honger”. In Klerksdorp het ’n ou man voor sy dood gesê: “Vrou, sny tog vir my ’n stukkie van die voetvel af om daaraan te kou.”

Die historikus DW Krüger skryf duisende is weggesleep uit brandende huise, en byna sonder beddegoed, klere en kos op onbedekte ossewaens en in oop spoorwegwaens geplaas onder die spotgeskreeu van swart mense en verraaiers. Daarna is hulle gewelddadig weggevoer. Min tyd is hulle gegun om gereed te maak en net enkeles het met moeite die noodsaaklikste artikels uit die vlamme gered. Swanger en siek vroue is soms te voet aangejaag deur berede swart en wit soldate.

Vroue en jong kinders moes swaar emmers water, brandhout of miskoeke vir vuur en hul karige rantsoene oor lang afstande aandra. Die kos moes hulle gaar maak in primitiewe skerms oor ’n oop vuur. Die jonger kinders moes soms ure lank in die reën of brandende son wag vir die daaglikse rantsoene. Dikwels, skryf Krüger, het die outoriteite geen voorsiening gemaak vir behuising, beddegoed, vuurmaakgoed en voedsel nie. Soms moes die tentbewoners op die nat grond in deurweekte tente die koue nagte deurbring, en soms was dit weer die ander uiterste wanneer die skroeiende somerson die tente onuithoudbaar warm bak. Sanitêre geriewe was afskuwelik, voedsel ontoereikend en van swak gehalte en oor die algemeen was die administrasie in ’n wanorde. Epidemies het gou gewoed.

Aanvanklik was die hospitaalgeriewe uiters swak en die mediese personeel hopeloos ontoereikend, sodat vroue soms geweier het om hul siek kinders daarheen te stuur. Kinkhoes, masels en tifus het al hoe meer voorgekom en so klein was die weerstandsvermoë van veral die kinders dat daar in Julie 1901 reeds baie honderde graf toe gedra is. Waar die normale sterftesyfer voor die oorlog skaars 16 per 1000 per jaar was, was dit in Julie 1901 116, in Augustus 311 per duisend per jaar, in September 287 per 1000 per jaar, en in Oktober 344.