8 OKTOBER

GEBEURE

1811 – George kom tot stand

Die dorp George kom tot stand. Dertig erwe word op hierdie dag per publieke veiling verkoop. George was aanvanklik ’n distrik van Swellendam. Die distrik was egter baie groot en om hierdie rede het graaf Caledon, die Kaapse goewerneur, toestemming aangevra om die Kolonie se distrikte te vermeerder. Op 23 April 1811 het Caledon as goewerneur die gebied as afsonderlike drosdy verklaar. Gedurende Junie 1811 is begin om die dorp uit te lê en op hierdie dag is die eerste erwe verkoop.

1853 – Ontdek spoelgoud

Pieter Jacob Marais ontdek spoelgoud in die Jukskeirivier.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Geveg by Ficksburg

1900 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Ventersburgstasie, OVS.

1914 – Afrikanerrebellie

Manie Maritz ontvang Jan Smuts se telegram van die vorige dag met sy aankoms op Van Rooyensvlei teen die middaguur. Hy lees dit en ander korrespondensie aan sy manskappe voor en gee aan diegene wat by kolonel Brits wil aansluit, toestemming om dit te doen. Niemand aanvaar sy aanbod nie. Hy stuur ’n antwoord aan Brits op Upington dat hy geen beswaar gehad het om sy bevel aan hom oor te dra nie, dat hy egter aan niemand sou rapporteer nie, dat hy sy ontslag wou hê en dat Brits sy kommando op Van Rooyensvlei kon kom oorneem, maar terselfdertyd sy ontslag moes saambring.

1936 – Die eerste uitgawe van die Kaapstadse middagblad Die Suiderstem verskyn as lyfblad van die Verenigde Party

1948 – Mev. Rachel Steyn gehuldig

Op hierdie dag is Rachel Isabelle Steyn (gebore Fraser) weduwee van pres. MT Steyn, in die Bloemfonteinse stadsaal op ’n byeenkoms wat spesiaal deur die FAK gereël is, gehuldig. Tussen 2 en 18 September 1948 was sy na Nederland – as spesiale afgesant van Suid-Afrika – om ons land se geskenke persoonlik aan koningin Wilhelmina na haar vyftig bewindsjare, te gaan oorhandig toe sy vir haar dogter Juliana plek gemaak het. Die paleisbesoek was rustig, vol heimwee, ’n intieme oomblik tussen twee waardige, bejaarde vroue. Die geskenke was ’n adres in ’n kiaatkissie, met ’n inskripsie in goud en ’n goue sleutel, ’n tafeltjie met ’n blad van Suid-Afrikaanse gesteentes en ook ’n mantel van volstruisvere. Maar in Bloemfontein was ’n volkskare byeen. Kinders het Voortrekkerdrag gedra. Optogte, vlae en blommeversierings het die verrigtinge gekenmerk. Totius het ’n lofrede uitgespreek, CR Swart het namens die owerheid, mev. CM Fourie namens die Oranje-Vrouevereniging en mev. Tibbie Visser namens die vroue ’n woord van dank gespreek en ’n geskenk oorhandig – ’n besondere borsspeld van platina in die patroon van die Vrystaatse wapen en met saffiere, robyne, goud, diamante en emalje versier. Sy het ook R4 000 ontvang om die Vrouemonument en Oorlogsmuseum mee in stand te help hou. Haar antwoord is in doodse stilte aangehoor. Dankbaarheid en hartseer het mekaar afgewissel. Die 83-jarige vrou het die Afrikaner opnuut gebind en besiel – hom as volk trots laat staan en gelowig-nederig laat buig. Waarlik, die FAK het ’n besondere taak op waardige wyse vervul en die politieke oorwinning van Mei 1948 van ’n noodsaaklike, afgeronde kultuurbegeleiding voorsien.

GEBOORTES

1903 – Mikro (die skuilnaam van Christoffel Hermanus Kühn), bekende skrywer († 17 April 1968)

Christoffel Hermanus Kühn wat op hierdie dag gebore is, het onder die skuilnaam Mikro geskryf. Sy bekende trilogie, Toiings (1934), Pelgrims (1935) en Vreemdelinge (1944), word beskou as die kern van sy werk. Hy was skrywer van novelles, romans, speurverhale, jeugverhale en toneelstukke. Vir eersgenoemde twee werke is hy bekroon met die Hertzogprys en vir Die Porseleinkat is die Hofmeyrprys aan hom toegeken. In sy werke was hy die skepper van die vereenvoudigde struktuur, van die gemoedelike, gemeensame formule vir lewenswaardes en lewenswaarhede. Tussen Julie 1958 en Desember 1966 het 38 boeke van Mikro verskyn. Sy 75ste boek, die jeugverhaal Die Goue Protea (1962), is bekroon in ’n wedstryd vir jeugverhale wat Nasionale Boekhandel uitgeskryf het. Ander werke van hom is onder meer Die rooi lêer, Die koperkan, ’n versameling kortnovelles Drie vroue en ’n hond, Die ruiter in die nag, Huurling, Klaradynstraat, Huisies teen die heuwel, Die donker stroom, en Die wa-as. In 1928 het hy begin onderwys gee. Later was hy skoolhoof op Kuilsrivier. In 1950 het hy dosent aan die Opleidingskollege in Oudtshoorn geword. In 1956 is hy aangestel as redakteur van Boerdery in Suid-Afrika. Later is hy bevorder tot Hoofredakteur: Publikasies van die toenmalige Departement van Landbou. Van sy werke wat deur die Afrikaanse Radiodiens uitgesaai is, is die bekendste Die rooi lêer en ’n gedramatiseerde verwerking van Die ruiter in die nag. Mikro self het by meer as een geleentheid die mening uitgespreek dat dit jammer is dat die meeste lesers by sy werk Toiings vasgesteek het. Sy eie mening was dat sy Mattewis en Meraai-novelles sy beste werk is. Tot sy aftrede was hy hoof van die Landsdiensbeweging in Suid-Afrika, waar hy ’n groot bydrae gelewer het tot die uitbouing van die jeugbeweging. Trouens, die Landsdiensbeweging was sy inspirasie vir die skryf van Die goue protea. Hy is op 17 April 1968 op Somerset-Wes oorlede.

STERFTES

1982 – Sias Reynecke, sanger en liedjieskrywer (Groep Twee) (* 23 April 1940)

Sias Reinecke was ’n legendariese Afrikaanse sanger wat ook deel van die sanggroep Groep Twee was. Hy is bekend vir treffers soos “Sproeitjies”, “Die Seewind Bring Heimwee”, “Klein Karoo”, “Dink Jy Darem Nog aan My” en “Wie Sal Kom Nagsê”.

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Langner, Danie & Raath, Andries. 2014. Die Afrikanerrebellie 1914-1915. Pretoria: Kraal Uitgewers.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/