“HELDIN UIT DIE VREEMDE”

Ondanks die lyding in die kampe het die vroue die mans aangespoor om te volhard met die stryd. Pres. Kruger het verklaar: “Ons teenstanders verwag dat ons vroue onder die druk van hul lyding die mans sal oorhaal om die wapen neer te lê, maar ook hier sal hulle soos in al hul berekenings bedroë uitkom. Dit is merkwaardig hoe weinig die Engelse die innerlike wese van ons volk ken.”

In Oktober 1901 het die sterftesyfer sy verskriklike hoogtepunt bereik: 344 per duisend per jaar. Wat betref kinders onder vyf was dit veel hoër. In een kamp was dit 1000 tot 2000 per jaar. “Daagliks het ’n stoet grafwaarts beweeg: ’n breë pad is oopgetrap deur die voetval van tallose begeleiers, en so is die via dolorosa van ’n skynbaar gedoemde nasie gebaan. Daagliks het die kerkhowe groter geword en die groepe spelende kinders kleiner. Na die oorlog sou dit ’n besoeker opval hoe klein die dorpies, hoe groot daarenteen die kerkhowe is,” skryf DW Krüger.

’n Britse vrou, Emily Hobhouse, het bekend geraak oor wat sy gedoen het om die lyding van die kampbewoners te versag. Sy het uit Engeland gekom en namens die South African Women and Children Distress Fund ’n aantal kampe besoek. Slegs in die kamp in Bloemfontein en ander suid van dié stad is sy toegelaat. Die toestande en toenemende sterftes het haar geskok en ná haar terugkeer het sy ondanks teenkanting die regering gekonfronteer en voorstelle vir verbetering gedoen. Sy het Britse kritiek op die “vuil Boere”, die “dirty Dutch”, in die kampe weerlê deur daarop te wys dat hulle geen seep ontvang het nie en dat daar onvoldoende water beskikbaar was. ’n Tweede besoek wat sy aan die kampe wou bring, is deur Milner en Kitchener belet. Sy is gearresteer en later met geweld op ’n skip geplaas om haar terug te neem. Die Britse regering het ’n vrouekomitee onder leiding van Millicent Fawcett gestuur, wie se aanbevelings met dié van Hobhouse ooreengestem het. Die aanbevelings is uitgevoer, en Milner het in November 1901 die beheer van die kampe by Kitchener oorgeneem.

Toe die verhale van die sterftes bekend raak, was daar ontsetting in die hele beskaafde wêreld. Die eerste wat van hulle laat hoor het, was die vroue in die Kaapkolonie. Hulle het nie net op kongresse geprotesteer teen die behandeling van die vroue en kinders nie, maar ook geld en klere daarheen gestuur. Uit Europese lande, veral Nederland, maar ook Engeland en Amerika, het milde bydraes gekom. Die Nederlandse vroue was vindingryk genoeg om in die broekspype en moue van kledingstukke boodskappies van simpatie en bemoediging in te sit. Hulle het geweet die Afrikaners kon die Nederlands verstaan.

Die toestand in die kampe het grootliks weens Hobhouse se onthullings sodanig verbeter dat die sterftesyfer in Februarie 1902 gedaal het tot 69 per 1000 per jaar, weliswaar nog hoog, maar heelwat laer as die vorige jaar. Hobhouse se lewe word onderhoudend beskryf in Heldin uit die vreemde van Rykie van Reenen, Emily Hobhouse. Geliefde verraaier van Elsabé Brits en The Compassionate Englishwoman van Robert Eales.

Ruim een kwart van die kampbevolking het omgekom. Die behandeling van die vroue en kinders het by die burgers verontwaardiging en kommer gewek, en die republikeinse regerings het sterk protes by die Britse regering daarteen aangeteken.