
9 JUNIE
GEBEURE
1865 – Pres. Jan Brand verklaar oorlog aan Mosjesj
Die Tweede Basotho-oorlog tussen Vrystaatse Boere en die Basotho’s het op 9 Junie 1865 uitgebreek. Dit was sewe jaar ná die eerste een en is ná twee jaar beëindig toe koning Moshoeshoe I (Mosjesj), die leier van die Basotho-koninkryk, se versoek om beskerming deur die Britse regering, geweier is. Die Basotho’s is tot oorgawe gedwing en die Thaba Bosio-verdrag is onderteken. Die Basotho was egter nie tevrede met die voorwaardes nie en ’n derde oorlog het gevolg. Die eerste was bekend as die Senekal-oorlog van 1858, die tweede as die Seqiti-oorlog (1865-1866) en die Derde Basotho-oorlog van 1867 tot 1868. Die drie oorloë was oor die territoriale regte van die gebied tussen die Caledon en Oranjeriviere van vandag se Wepener en Zastron af tot noord van die Caledonrivier wat Harrismith en verder wes insluit. Die gevolg van die oorlog was dat die Boere gedeeltes grond van die Basotho’s bekom het en dat die Basotho’s Britse anneksasie aanvaar het.
1882 – Kaapse Parlement wettig die gebruik van Afrikaans
1915 – Afrikanerrebellie
Genl. CR de Wet-hulle se hoogverraadsaak begin in Bloemfontein.
1934 – Volkskas geregistreer
Gestig uit eie bodem, uit eie geledere, met ’n aanvangskapitaal van R1 026 en geïnspireer deur ’n diepgevoelde plaaslike behoefte om eie geldmiddele te mobiliseer, het Volkskas sedert hierdie dag, toe hy as koöperatiewe volksbank geregistreer is, geleidelik gegroei. Ses jaar later, toe Volkskas se bedrywighede tot dié van ’n handelsbank verbreed het, het ’n ongekende groeitydperk ingetree en is grootskaalse uitbreiding van alle vertakkings van sy besigheid ondervind. As gevolg van die vereistes van die Bankwet van 1942, het Volkskas dit moeilik gevind om as koöperatiewe vereniging voort te gaan en is dit gevolglik in 1944 kragtens die Maatskappywet (1962) as Volkskas Beperk geïnkorporeer. Op 27 Junie 1947 is Volkskas kragtens die Bankwet as handelsbank geregistreer. Gerugsteun deur sy toenemende klandisie, hoofsaaklik Afrikaners, het hy met rasse skrede uitgebrei. Waar hy in 1935 ’n gestorte kapitaal van slegs R3 000 gehad het, bates van R26 600 en net oor twee kantore beskik het, beheer Volkskas in 1978 bates van bykans R3 000 miljoen en dien die publiek uit 577 takkantore. Die rol wat Volkskas in die bevordering van die Afrikaner se ekonomiese strewe gespeel het, sal waarskynlik nooit werklik na waarde geskat kan word nie.
1940 – Afrikanereenheidskomitee gestig
Op hierdie dag het die Afrikanereenheidskomitee (AEK), saamgestel uit leiers van die Herenigde Nasionale Party (HNP), die Ossewa-Brandwag (OB), die FAK en die Reddingsdaadbond (RDB), tot stand gekom met die tweeledige taak om die breuke in Afrikanergeledere te heel en ’n grondwet vir ’n toekomstige republiek op te stel. Dr. DF Malan was die sameroeper en dr. PJ Meyer die sekretaris. Die ander bestuurslede was dr. JFJ van Rensburg, dr. N Diederichs, mnr. IM Lombard en die voorsitter van die Interkerklike Kommissie. Die breuk in Afrikanergeledere was tussen dr. Malan en genl. JBM Hertzog en daarna tussen die Herenigde Nasionale Party en die Ossewa-Brandwag. In sy helingspogings het die komitee feitlik geen welslae behaal nie. Die verwydering tussen dr. Malan en genl. Hertzog was teen November 1940 finaal. ’n Jaar ná die totstandkoming van die AEK het die verhoudinge tussen die HNP en die OB verswak. Versoeningspogings is verskerp maar dr. Van Rensburg van die OB het dr. Malan en die HNP-leiers in ’n toespraak in Pretoria besonder skerp aangeval. Op 29 September 1941 het die FAK en die RDB hulle aan die komitee onttrek omdat hulle nie in ’n politieke stryd gesleep wou word nie. Die komitee het op 24 Oktober 1941 opgehou bestaan.
1989 – Die noodtoestand van drie jaar in Suid-Afrika word verleng
1990 – Vrylating op Robbeleiland
Op Robbeneiland word 28 gevangenes vrygelaat kragtens ’n aankondiging in die parlement deur pres. FW de Klerk.
GEBOORTES
1862 – Sir Herbert Baker, argitek van bv. die Uniegebou († 4 Februarie 1946)
Herbert Baker is in Kent, Engeland, gebore. Hy ontvang sy opleiding in die argitektuur in Londen, maar besluit in 1892 om na die Kaap te verhuis om daar na beter geleenthede te soek as wat daar vir hom in sy geboorteland was. Binne ’n jaar na sy aankoms het Rhodes hom aangestel om die opstal op sy plaas Groote Schuur te herbou. Toe die herbouing afbrand, is Baker weer aangestel en het hy die gebou in sy huidige vorm ontwerp. Hy was onverbiddelik in sy aandrang op goeie vakwerk, en die lakse boubedryf was verplig om te herorganiseer. Sy bykans twee honderd geboue in al die provinsies toon ’n uitdruklike eklektisisme met ’n redelike sterk Suid-Afrikaanse kleur. Hy het liefde vir die Kaaps-Hollandse boustyl ontwikkel en onder meer agt bekende opstalle aan die Kaap gerestoureer. Van sy bekendste geboue is die Uniegebou, die stasie in Pretoria, die Parlementsgebou, St. George katedraal in Kaapstad, Grootse Schuur en Michaelhouse-skool in Natal. Nadat hy die argitektoniese toneel 20 jaar lank in Suider-Afrika oorheers het, vertrek hy na Indië om daar saam met Luytens te werk. Net voor die Eerste Wêreldoorlog keer hy na Brittanje terug, waar hy onder meer die Suid-Afrika-huis in Londen en die Rhodes-huis in Oxford ontwerp. Hy sterf op 4 Februarie 1946 in sy geboortedorp, Cobham, Kent.
1868 – Laurens Meintjes, Suid-Afrika se eerste wêreldkampioen in fietsry († 30 Maart 1941)
1936 – Pieter Pieterse, skrywer († 22 Maart 2002)
Pieter Pieterse was ’n Afrikaanse skrywer, storieverteller en TV-persoonlikheid. Pieterse het tientalle boeke en draaiboeke geskryf en verskeie literêre toekennings daarvoor ontvang.
1941 – Christine Basson, aktrise († 10 Junie 2019)
Christine Basson was ’n Suid-Afrikaanse aktrise. Sy was ’n lid van die toneelgeselskap van die eertydse Kaaplandse Raad vir die Uitvoerende Kunste (Kruik), asook die Space Teater, en het as vryskutter vir al die destydse streeksrade gespeel.
STERFTES
1928 – Ds. Abraham Paul (Abraham) Kriel, leraar en stigter van die Langlaagte-kinderhuis (* 1 Maart 1850)
Abraham Paul Kriel, die stigter van die bekende kinderhuis wat vandag sy naam dra, is op die plaas Keerwater, Franschhoek, gebore. In 1880 is hy op Stellenbosch gelegitimeer as predikant van die NG Kerk. Veral word hy onthou vir sy belangstelling in die jeug. Reeds in sy eerste gemeente Du Toitspan by die Kimberleyse diamantveld, beywer hy hom veral vir armesorgwerk en onder sy leiding koop die kerkraad ’n huis, wat omgeskep is in ’n jeugtehuis. Op ’n besoek aan Europa maak hy kennis met verskeie weesinrigtings. Later sou hy weer sulke besoekreise onderneem. Met die uitbreek van die Engelse Oorlog, bevind hy hom in die gemeente Witwatersrand-Wes (Langlaagte) en word hy veldprediker by die Boeremagte. Na die oorlog besluit sy gemeente om ’n kinderhuis in Langlaagte op te rig vir die kinders van ouers wat op die slagveld of in konsentrasiekampe oorlede is. Die kinderhuis het aanvanklik geen vaste inkomste gehad nie, maar word in antwoord op die gebede van die stigter en sy personeel steeds van die nodige middele voorsien. Na Kriel se dood op 9 Junie 1928 is die kinderhuis se naam verander in die Abraham Kriel-kinderhuis.
1942 – Marthinus Petrus Loubser, predikant (*19 September 1891)
Ds. MP Loubser (Oom Tinie) was ’n vriend en geestelike versorger van die Afrikaners buite die grense van die Unie van Suid-Afrika. Marthinus Petrus Loubser is op die plaas Vissershok, naby Kaapstad, gebore en op 9 Junie 1942 oorlede op Middelburg, Kaapland. Hy studeer aan die Normaalkollege in Kaapstad en die Kweekskool op Stellenbosch. In 1909 is hy na Oos-Afrika waar hy tot 1914 en weer van 1925 tot 1935 onder die Afrikaners gearbei het. Van 1918 tot 1921 werk hy in Suidwes-Afrika en besoek hy ook periodiek Afrikaners in Ghanziland. Benewens die Evangeliebediening, het hy hom oral beywer vir die stigting van skole en verbetering van die onderwys. Hy het die Afrikaners in hulle trekspore gevolg, hulle gedoop, aangeneem, in die huwelik bevestig, vir hulle skoolgehou en op alle terreine bygestaan. Hierdie boeiende spreker, kindervriend en Godsman het dikwels met ryperd en esel huisbesoek gedoen en met karige middele sy volk geestelik bearbei. Sy lang en vrugbare bediening besorg aan hom ’n ereplek in die kerkgeskiedenis van Oos-Afrika – hy het op elke terrein van die volkslewe gestry en kosbare werk verrig vir sy volk in die vreemde.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Langner, Danie & Raath, Andries. 2014. Die Afrikanerrebellie 1914-1915. Pretoria: Kraal Uitgewers.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.
https://af.wikipedia.org/wiki/
Frikkie Wallis Facebook