AANDENK-PROSPEKTEERBOORGAT, ALLANRIDGE

Vanaf Bloemfontein loop ’n nasionale pad oor Brandfort en Theunissen na die Vrystaatse goudvelde by Welkom, Odendaalsrus en Allanridge. Net suid van laasgenoemde dorpie, waar die pad naby ’n groot mynhoop skielik regs swaai, lê daar aan die linkerkant ’n beskeie monumentjie in die vorm van ’n groot sleutelgat. Dit is die plek waar die eerste prospekteerboorgat na goud in hierdie vlaktewêreld gesink is.

Baie vroeg in die geskiedenis van die ou Republiek van die Oranje-Vrystaat is die hoop op die ontdekking van minerale gevestig om sodoende die chroniese tekorte in die staatskas as ’t ware met een towerslag uit te wis. In opdrag van die regering het die bekende reisiger en geoloog, George W. Stow, dan ook reeds in 1878 ’n geologiese opname van die potensiële minerale rykdomme van die Vrystaat gemaak. Sy verslag het die hoë verwagtings, veral ten opsigte van die ontdekking van goud, totaal verydel.

In die jare negentig het daar egter ’n prospekteerder Donaldson en ’n ingenieur Hind hulle verskyning op die plaas Aandenk, waarop die dorpie Allanridge en die reeds vermelde boorgat geleë is, gemaak. Die plaas het toe aan Barend Klopper behoort. Die twee kêrels het die klipriwwe, wat oral oor die plaas verspreid gelê het, noukeurig ondersoek en het uiteindelik ’n put, 18 meter diep, nouliks tagtig meter oos van die vermelde boorgat aan die ander kant van die huidige pad, gegrawe. Met rotsmonsters uit die skag is hulle daar weg. In Johannesburg het hulle probeer om sekere mynmaatskappye in hul onderneming geïnteresseer te kry. Toe hulle hierin nie kon slaag nie, is hulle per skip na Engeland om die monsters aldaar te laat ontleed en ’n sindikaat te vorm. In die Baai van Biskaje het die skip gesink en Donaldson, Hind en al die ander passasiers het omgekom.

In 1904 kom weer ’n prospekteerder, Archibald Megson, hier op die plaas aan. Barend Klopper het hom van Donaldson en Hind se onderneming vertel. Megson het hulle skag skoongemaak en dieper gegrawe. Op ’n diepte van 30 meter het hy aanduidings van goud gevind. Met ’n aantal rotsmonsters is ook hy na Johannesburg om daar by die mynbase om finansiële steun vir die ontginning van die “nuwe Witwatersrand” aan te klop. Niemand was egter in die Vrystaat geïnteresseerd nie. Hy het na Aandenk teruggekeer en die vloer van sy put vol dinamiet gestop om te voorkom dat iemand stilletjies van sy ontdekking gebruik maak.

Byna dertig jaar het die skag onaangeroerd gestaan, maar vir Megson het dit ’n tergende uitdaging gebly. Teen die einde van 1932 het hy weer daaroor gepraat met ’n sekere Joseph Freedman van Johannesburg en Iaasgenoemde het hom na die kantore van Emanuel Jacobson, ’n prokureur, en Allan Roberts, ’n prospekteerder, geneem. Hulle was sedert hul kinderdae groot vriende en het aan sekere mynwerksaamhede i.v.m. steenkool, goud en asbestos deelgeneem, maar het weinig sukses gehad. Megson het hulle sy verhaal van die “nuwe Rand”, 320 kilometer van Johannesburg, vertel. Die twee vriende het met Megson ’n ooreenkoms aangegaan en daar is besluit dat Roberts en Megson na Aandenk sou gaan om sake te ondersoek. Om die koste te dek, moes hulle R100 leen.

In Maart 1933 het die twee prospekteerders op Aandenk aangekom. Ou Barend Klopper was nou reeds oorlede, maar sy seun, Hendrik Petrus, het hulle gasvry ontvang. Roberts het die omgewing en die skag, waarin die dinamiet nou gelukkig reeds onskadelik geword het, noukeurig ondersoek. Hy het verkeerdelik tot die gevolgtrekking gekom dat die konglomeraatriwwe wat oor die ganse plaas gestrek het, tot die bolaag van die Witwatersrandserie behoort en hy het vol entoesiasme na Johannesburg teruggekeer.

Om die nodige geld vir die uitneem van opsies en prospekteerregte te bekom, is ander persone in die projek geïnteresseer en ’n sindikaat bestaande uit dr. Ephraim Woolff, L.V., F.L. Marx, Roberts, Jacobson, Freedman en Megson is gevorm. Hierna is Roberts weer terug na die Vrystaat en met die hulp van die burgemeester van Odendaalsrust, mnr. Izak van der Vyver, en die prokureur, mnr. Hauptfleisch, het hy opsies op talle plase in die omgewing geneem. Terselfdertyd is die ou skag skoongemaak en die goudwaardes van die riwwe getoets. Hierdie bedrywighede het groot belangstelling en opgewondenheid by die boeregemeenskap in hierdie rustige omgewing verwek.

Vir die verdere ontwikkeling was groter fondse nodig. Die sindikaat is in ’n maatskappy, bekend as Wits. Extensions Ltd., met dr. Woolff as voorsitter, omgeskep en aandele is verkoop. Die maatskappy het H. Radcliffe Brown as sy eie ingenieur aangestel. Op sy advies is besluit om hier, tagtig meter van die ou prospekteerskag, ’n toetsgat te sink en op 23 Oktober 1933 is daarmee begin. Die primitiewe ou boor is met stoom aangedryf en vir die opwekking daarvan moes steenkool van Kroonstad aangevoer word.

In die geskiedenis van die ontdekking van goud in die Oranje-Vrystaat het hiermee ’n belangrike onderneming begin, wat tewens gekenmerk is deur geloof, geduld en eindelose volharding. Elkeen wat daaraan deel gehad het, het veel meer gedoen as waarvoor hy beloon is. Jacobson het bykans sy praktyk vir die belange van die maatskappy opgeoffer. Vir Roberts, wat die algemene toesig oor die veldwerk gehad het, het die sukses van die onderneming ’n gewetensaak geword en sy onvermoeide ywer het sy gesondheid ondermyn. Dr. Woolff het voortdurend probeer om die mynmaatskappye en die Staat geïnteresseerd te kry in die projek. Selfs die boorkontrakteur, mnr. Chapman, het die onderneming as ’n persoonlike uitdaging aanvaar.

Die boorgat het taamlik vinnig gevorder, maar die boor het weldra ’n lawaformasie (amygdaloidal) binnegedring wat honderde meter dik was en dit het gelyk asof dit nooit sou deurkom nie. Mynmaatskappye en myningenieurs in Johannesburg het die onderneming as onbesonne, as ’n swendelary bestempel en die maatskappy aangeraai om die boordery te staak. Bowendien is die fondse van die maatskappy geleidelik uitgeput. Van één kant, van die bekende geoloog dr. A. L. du Toit, het daar egter aanmoediging gekom en daar is hardnekkig volgehou. Uiteindelik op ’n diepte van 829 meter, het die boor deur die lawa gegaan en het dit die boonste lae van die Sisteem Witwatersrand binnegedring. Dit het groot opgewondenheid veroorsaak en met nuwe moed is die boordery voortgesit. Tussen 1 066 en 1 158 meter was die konglomeraatlae byna almal gouddraend. Hoewel daar nie genoeg goud was vir ontginning nie, het die vondste tog verdere ondersoek geregverdig.

In Februarie 1935 is ’n diepte van 1 233 meter bereik. Nou was die fondse van die Maatskappy totaal uitgeput en die boordery moes gestaak word. Alle pogings van dr. Woolff om die ondersteuning van die mynmaatskappye en selfs van die regering te kry, het misluk. Uiteindelik, in Januarie 1936 het die bekende dr. Hans Merensky van die belangrikheid van die ontdekking in die Vrystaat oortuig geraak. Op sy beurt het hy sir Ernest Oppenheimer in die Aandenk-boorgat geïnteresseer en deur bemiddeling van Iaasgenoemde is op 1 Februarie 1937 ’n ooreenkoms tussen die Anglo-American Corporation of South Africa Ltd. en Wits. Extensions Ltd. aangegaan.

Intussen, egter, het etlike ander mynmaatskappye, o.a., Union Corporation Ltd., Western Holdings Ltd. En African and European Investment Company Ltd. met prospekteerwerk in die Vrystaat begin. Hulle het van moderne geofisiese en geologiese metodes gebruik gemaak as gevolg waarvan hulle in November 1938 op die plase St. Helena en Uitsig die basale rif met hoë goudwaardes ontdek het.

Eers in 1945 het die Anglo-American Corporation besluit om die Aandenkboorgat dieper te boor. Nouliks 120 meter dieper is die basale rif met winsgewende goud raak geboor!

Hoewel die eerste lonende goudriwwe in die OVS dus nie in hierdie boorgat ontdek is nie, is dit die eerste prospekteerboorgat en was die resultaat wat dit gelewer het sonder twyfel die direkte aanleiding tot verdere prospekteerwerk en die ontdekking van die Vrystaatse goudvelde. Die monument wat rondom die boorgat deur bemiddeling van die Lorraine Gold Mines Ltd. opgerig is, het tereg die vorm van ’n sleutelgat om die ontsluiting van die Vrystaatse goudvelde te simboliseer.

(Geproklameer 1960)

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 221-222.