
FORT DURNFORD, ESTCOURT
Dat Gert Maritz ’n wyse keuse met Saailaer as standplaas gemaak het, word nie slegs deur sy oorwinning oor die Zoeloe bewys nie, maar deur die feit dat in die onmiddellike omgewing eers ’n militêre pos en later die dorp Estcourt tot stand gekom het.
In 1847 is ’n afdeling van die 45ste Regiment vanaf Fort Napier in Pietermaritzburg gestuur om die Boere in hierdie omgewing teen die rowery van die Boesmans te beskerm. As standplaas het hulle gekies die plat kruin van die heuwel aan die teenoorgestelde kant van die rivier as Saailaer. Dit was eers die “Ordnance Reserve”. Van hier kon hulle die ganse terrein oorsien en veral kon hulle die driwwe, een vanaf Saailaer en die ander ietwat bokant die huidige brug, behoorlik onder dekking neem.
Op hierdie plek het die troepe hoofsaaklik ter verdediging teen die Boesmans, verskeie ruwe klipskanse opgewerp. Na die Langalibalele-rebellie van 1873 is hier egter in 1875 ’n stewige klipfort gebou, wat vandag nog een van die beste behoue forte in Natal is, nadat dit onlangs op kundige wyse deur die Munisipaliteit van Estcourt gerestoureer is.
(Geproklameer 1970)
Foto: Fort Durnford • Nageteken van argitekstekening van 1874 • Munisipaliteit, Estcourt
Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, p. 254.
