
ONDINI, CETSHWAYO SE KRAAL, MAHLABATINI
Enige kilometers suidoos van Nodwengu op die Mahlabatini-vlaktes aan die linkeroewer van die Wit-Umfolozi was hierdie groot kraal van Cetshwayo geleë.
Cetshwayo het sy vader, Mpande, in 1872 as opperhoof van die Zoeloe opgevolg. Hy het ooreenkomstig Zoeloe-gewoonte sy vader se kraal, Nodwengu, vernietig en vir hom in die nabyheid sy eie kraal, Ondini, gebou.
Die kraal het ongeveer 60 hektaar beslaan en is ooreenkomstig Zoeloe-getuienis volgens die model van Dingane se kraal, Mgungundhlovu, gebou. Trouens, dit word verhaal dat hy manne na Mgungundhlovu gestuur het om die terrein op te meet sodat sy nuwe kraal volgens dieselfde mate opgerig kon word.
Tot 1879 het Cetshwayo hoofsaaklik hier gewoon. Hy was egter ’n veel meer dinamiese persoonlikheid as sy vader. Hy het die Zoeloeleër volgens Tsjaka se patroon gereorganiseer en toe hy deur die Natalse regering beveel word om dit te ontbind, het die Zoeloe-oorlog van 1879 uitgebreek. In die oorlog het hy veel sukses gehad en o.a. lord Chelmsford se leërmag by Isandhlwana byna uitgewis. Uiteindelik is hy op 4 Julie 1879 in die slag van Ulundi, ongeveer vyf km van Ondini, verslaan en is die spogkraal afgebrand.
Ná die oorlog is Cetshwayo verban, maar hy is deur koningin Victoria as opperhoof herstel. Na sy terugkeer het hy vir hom ’n tweede Ondini ten noorde van die eerste gebou. In die burgeroorlog wat op sy herstel plaasgevind het, is hy verdryf en sy nuwe kraal is op 21 Julie 1883 deur impies van Zibebu vernietig.
Daar is nog baie vuurmaakplekke en hutvloere op die terrein van die tweede Ondini te sien, o.a. dié van die persoonlike hut van Cetshwayo wat 8,5 m in deursnee is.
(Bronsplaat 1940)

Foto: Ondini • The Graphic, 22.2.1879
Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, p. 266.
