
DIE ULUNDI-SLAGVELD, 1879, MAHLABATINI
Byna op die terrein waar Mpande se Nodwengu gestaan het en skaars drie km reg wes van Cetshwayo se Ondini het in 1879 die bekende slag by Ulundi tussen ’n Britse leërmag en die Zoeloemagte van Cetshwayo plaasgevind.
Aan die begin van Januarie 1879 het die reeds vroeër vermelde Zoeloe-oorlog uitgebreek. Na die ramp by Isandhlwana het die Britse opperbevelvoerder, lord Chelmsford, sy magte gereorganiseer, kol. C. Pearson by Eshowe ontset en opgeruk na Cetshwayo se hoofkwartier by Ulundi. Sy leërmag het nou bestaan uit afdelings van die 17de Lansiers, die 1ste Dragoon Guards en die 13de, 21ste, 58ste, 90ste en 94ste Regimente, altesaam 4062 Blankes en 1 103 Bantoe. Die mag is vergesel van ’n artilleriekorps met twaalf veldkanonne en twee “Gatlings”.
Op 2 Julie het die troepemag onmiddellik ten suide van die Wit-Umfolozi reg teenoor Ulundi laer opgeslaan. Die volgende dag het die ruitery onder kol. Redvers Buller oor die rivier op ’n verkenningstog gegaan en met ’n groot Zoeloemag, gedeeltelik met gewere bewapen, slaags geraak. Met die verlies van drie man gedood en vier gewond moes hy vinnig na die laer terugval. Die volgende dag het Chelmsford die laer onder beskerming van 650 man gelaat en met die res die rivier deurgetrek. Die ruitery het vinnig vooruit getrek en daarop het die hoofmag gevolg. Dit het in die vorm van ’n groot vierkantige kraal voortbeweeg. In die binneste oop ruimte was die Bantoe-afdeling en die ammunisie-waens.
Teen 8.45 vm. het die berede mag met die Zoeloe-impie’s op die omliggende heuwels slaags geraak. Die hoofmag het intussen die ou Nodwengu-kraal verbygetrek, regs geswaai en op ’n gunstige terrein drie kilometer wes van Cetshwayo se koninklike Ondini-kraal tot stilstand gekom. Die ruitery het teruggeval tot binne die vierkant. Hierdie vierkant was binne enige oomblikke omsingel deur ’n Zoeloemag wat deur verskillende persone op 12 000 tot 25 000 man geskat is. Met die kenmerkende doodsveragting van die Zoeloekryger het hulle aangeval en selfs tot op ’n afstand van 30 meter van die Britse soldate-muur gevorder. Hulle is egter met so ’n vernietigende geweer- en kanonvuur begroet dat hulle binne ’n halfuur uiteengedryf is. Daarop het Chelmsford deur die ruitery en die Lansiers ’n stormloop op die weifelende swart massa laat uitvoer en die Zoeloemag het op ’n wilde vlug geslaan. Hul verliese is deur verskeie persone op 800 tot 1 500 geskat terwyl die Engelse vyftien Blankes en drie Bantoe verloor het. Deur hierdie slag is die Zoeloe-oorlog beëindig.
Die vierkant wat deur die troepe by daardie geleentheid gevorm is, word vandag deur vier wit klipstapels aangedui. Die klein begraafplaas waarin die gesneuweldes begrawe is, is daar naby geleë. ’n Sierlike monument pryk op die terrein en daarop staan die veelseggende woorde:
In memory of the brave warriors who fell
here in 1879 in defence of the old Zulu
Order.
(Geproklameer 1937)

Foto: Die slag van Ulundi • Lt.kol. Fairlie • The Graphic – Africana-museum, Johannesburg
Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 266-268.
