TERREIN VAN DIE EERSTE SUIKERMEUL, COMPENSATION

Te Compensation, ongeveer 48 km noord van Durban en ’n kilometer van die ou hoofweg, is ’n pragtige gedenktuin. Hier het die eerste suikermeul in Suid-Afrika gestaan en bier het die Suid-Afrikaanse suikerbedryf sy ontstaan gehad.

Die grondlegger van die suikerbedryf in Natal was Edmund Morewood, een van die vroeë setlaars in Durban. Met die koms van die Voortrekkers het hy al dadelik hul vertroue gewen en hy het hul in hul onderhandelings met Mpande bygestaan. As erkenning vir sy dienste is by deur die regering van die Republiek Natalia tot hawemeester en superintendent van doeane in Durban aangestel. Na die besetting van Natal deur Brittanje het hy vir enkele jare nog hierdie amp beoefen, maar toe het hy besluit om te gaan boer. Na veel moeite het die Britse owerheid aan hom ’n plaas tussen die Tongaat- en die Umhlalirivier geskenk. Hy het dit Compensation genoem omdat hy dit beskou het as ’n swak vergoeding vir ’n ander plaas in die nabyheid van Durban waarop by sy hart gesit het.

Morewood wat voor sy koms na Natal in ander dele van die wêreld gereis het, se belangstelling is gewek in ’n soort wilde suikerriet wat langs die kus gegroei het en wat deur die Zoeloe umoba of imphi genoem is. Hy het tot die oortuiging gekom dat waar hierdie riet so welig groei, suikerriet ook sal aard. In 1847 is ’n Durbanse handelsfirma, Milner & Milner, versoek om van die Eiland Bourbon, later Reunion, ’n besending suikerplante vir proefdoeleindes in te voer. Morewood het ’n deel van hierdie besending oorgeneem en dit geplant op grond wat hy op sy plaas Compensation spesiaal met die oog daarop voorberei het.

Morewood het gelyk gehad. Die suikerriet het welig gegroei en teen 1852 het hy reeds 42 ha onder drie verskillende soorte suikerriet gehad. Om die suikerriet te verwerk het by in 1851 sy eie suikermeul, die eerste in Suid-Afrika, opgerig. Dit was ’n primitiewe installasie. Om die suikerriet fyn te maal, het by van swaar houtrollers, vervaardig uit die rondhout van ’n ou skeepswrak, gebruik gemaak. Hierdie rollers is met lang slingers deur vier Bantoes in die rondte gedraai terwyl ’n ander Bantoe dit met twee tot drie riete op ‘n slag gevoer het. Van die rollers het die sap met ’n houtgeut na ’n ysterpot geloop. Sodra die pot vol was, is die sap deur ‘n doek in 45 liter[rassistiese term in oorspronklike bron]potte gegiet, ’n bietjie kalk bygevoeg en gekook totdat die suiker uitgekristalliseer het.

Dit was ’n moeisame proses, maar in Desember 1851 het hy reeds die eerste suiker gemaak. In Januarie 1852 het hy hierdie suiker in die kantore van The Natal Times tentoongestel. Dit het groot opspraak verwek. Monsters is na Kaapstad en Engeland gestuur. Morewood se onderneming is deur verskillende kenners besoek. Hulle rapporte was baie optimisties en ’n bloeiende suikerindustrie is vir Natal voorspel. Desnieteenstaande kon Morewood nie die nodige kapitaal vir die verdere ontwikkeling van sy onderneming vind nie. Die einde van die storie was dat hy boedel moes oorgee. In The Natal Times van 24 Desember 1852 is die verkoop van deel van sy plaas Compensation geadverteer en as rede word aangegee: “die gebrek aan genoegsame kapitaal om die vervaardiging van suiker deur te voer”.

Morewood se baanbrekerswerk het nogtans sy uitwerking gehad. Teen 1853 het verskillende boere rondom Durban besluit om sy voorbeeld te volg. Teen die einde van daardie jaar het M. Jeffels die eerste stoomaangedrewe meul ingevoer en dit by Isipingo opgerig. In 1855 het die firma wat die eerste suikerrietplante ingevoer het, H. Milner en J. B. Milner, ’n nog groter stoommeul en fabriek op die Springfield-landgoed opgerig. Daarmee het die bekende suikerindustrie van Natal van stapel geloop.

Deur die bemoeiing van die Suid-Afrikaanse Nasionale Vereniging van Natal is die oorblyfsels van Morewood se ou meul in 1948 opgespoor en met die steun van die S.A. Suikergenootskap asook die gulle medewerking van die Hulett-familie is die gedenktuin alhier aangelê.

(Bronsplaat 1952)

Foto: Eerste suikermeul, Compensation • W.C. Holden: History of the Colony of Natal

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 257-258.