
DIE ULTIMATUMBOOM, TUGELARIVIER
Net onderkant Fort Pearson aan die rivier, waar die pont vroeër was, staan die “Ultimatumboom”.
In 1878 het geskille tussen Cetshwayo en die Britse regering in Natal en Transvaal (destyds onder Britse bewind) ’n klimaks bereik. Die vernaamste geskil het oor die grens tussen Transvaal en Zoeloeland gegaan, maar die werklike strydvraag was die bedreiging wat Cetshwayo se gevaarlike militêre mag vir Natal ingehou het.
’n Grenskommissie het ’n grenslyn tussen Zoeloeland en Transvaal vasgestel wat in werklikheid aan Cetshwayo meer grond gegee het as wat hy gevra het, en wat selfs ’n gebied, waarop Transvaalse burgers gewoon het, ingesluit het. Om te voorkom dat hierdie reëling die Transvalers te diep sou grief, het die Hoë Kommissaris (sir Bartle Frere) dus ’n baie kragtige houding teenoor Cetshwayo ingeneem. Hy het tesame met die besluit oor die grensreëlings ’n ultimatum aan die Zoeloe-opperhoof gestuur.
Op die oggend van 11 Desember 1878 het die Britse afgevaardigdes, John Wesley Shepstone, Charles Brownlee, Henry Francis Fynn en Iuit.kol. F.W. Forestier-Walker, die 14 verteenwoordigers van Cetshwayo onder hierdie boom ontmoet, en aan hulle die besluit aangaande die grens meegedeel. In die middag is die vergadering hier voortgesit en is die ultimatum aan die Zoeloe-verteenwoordigers oorhandig. Dit het van Cetshwayo geëis dat hy die moordenaars van sekere inboorlingvroue wat aan die Natalse kant van die Tugela ontvoer is, moes uitlewer; dat hy vergoeding moes betaal vir die molestasie van twee blanke mans; dat hy die militêre stelsel van die Zoeloe moes ontbind; dat by ’n regverdige verhoor vir elke beskuldigde moes waarborg; sendelinge moes toelaat om na Zoeloeland terug te keer en ’n Britse verteenwoordiger moes ontvang. Hy moes binne 30 dae antwoord.
Op die ultimatum het Cetshwayo nie geantwoord nie, maar hy het om verlenging van tyd gevra. Daarop het die Zoeloe-oorlog van 1879 uitgebreek.
(Geproklameer 1950)

Foto: Ultimatumboom: Aflewering van ultimatum in 1878 • Durban-museum
Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 260-261.
